
Verskaf jy 'n veilige hawe, of is jy 'n meulsteen wat stadig besig is om jou lewensmaat te verdrink?
Geplaas op Maandag, 7 November 2022
Ek het op ‘n daaglikse basis kontak met mense. Sommige van hulle leer ‘n mens beter ken as ander. Jy vind meer oor hulle lewens uit, en meer belangrik, hulle verhoudings. Of jy wat vandag hierdie artikel lees getroud is, in ‘n verhouding staan, of bloot ‘n vriendskapsverhouding met iemand het, moet jy hierdie verhouding baie mooi evalueer. Hoe reageer jy teenoor die ander persoon, en hoe reageer daardie persoon teenoor jou?
Enige verhouding moet op wedersydse vertroue en respek gebou word. Wanneer jy iemand vertrou, gee jy hulle die vryheid om hulleself te wees en veilig binne die grense van die verhouding the ontdek en te eksploreer. Wat gebeur wanneer jy nie die ander persoon vertrou nie? Dan sal ons hulle wil keer om te eksploreer en net hulleself te wees, en sal alles moontlik doen om hulle te beheer. Ongelukkig is daar baie mense wat in hierdie situasie vasgevang is.
Ons fokus hierdie week op die twee teenoorgesteldes. Is jy, jou huweliksmaat, of die ander party in die verhouding ‘n veilige vesting – ‘n hawe waar die persoon geanker is en veilig en gebonde kan voel? The ankerkabel is met ‘n doel lank genoeg om die anker op die bodem te laat lê terwyl die skip steeds dryf. Daar is ook genoeg toegee ruimte om die skip toe te laat om op en af met die deining en die getye te beweeg – die op en af van die lewe. Hierdie is die goeie verhouding.
Vra jouself die volgende: Is jy, jou huweliksmaat, of die ander party in die verhouding dalk eerder ‘n meulsteen in die verhouding, met ‘n tou aan die meulsteen aan die een kant, en aan die ander kant aan die persoon se enkel vasgebind, wat hulle mettertyd laat verdrink? Die tou aan die meulsteen is met ‘n doel kort – sodat die steen die bodem raak en die persoon saam met hom ondertoe trek.
Die woorde “anker” en word nie baie in die Bybel aangetref nie; slegs eenkeer. Die woord “meulsteen” verskyn dikwels. Hier is ‘n goeie voorbeeld:
1En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom. 2Dit is beter vir hom as 'n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel. – Lukas 17:1-2
‘n Meulsteen word gebruik om graan mee te maal. Dit is swaar, met ‘n gat in die middel. Lukas se weergawe van Jesus se woorde is dat die lewe vol struikelblokke sal wees, maar die persoon deur wie hulle kom is verkeerd. Dit sal beter wees as so ‘n persoon permanent uit die samelewing verwyder word as dat hy deur sy optrede iemand ten gronde laat gaan.
Terwyl die woorde “anker” en “meulsteen” nie in die Bybel verwys na verhoudings nie, is die analogie baie duidelik. Wat leer die Woord ons oor verhoudings?
1Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, 2met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra 3en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. – Efesiërs 4:1-3
Paulus noem nederigheid (om die ander persoon bo jouself te stel); sagmoedigheid (een van die vrugte van die Gees – Galasiërs 5:22-23); lankmoedigheid (geduld); en verdraagsaamheid as aspekte wat ons moet uitleef terwyl ons daarna strewe om Geesvervuld te leef en vrede te bewaar. Let op die woord “mekaar” – die verhouding het twee kante en elkeen moet sy deel doen om die verhouding te laat werk.
‘n Verhouding waar beide partye die vrug van die Gees openbaar, is een waar die ankerkabel genoeg ruite laat om die ander persoon in staat te stel om vrylik binne die grense van die verhouding the beweeg. Of hierdie verhouding ‘n huwelik, verlowing, platoniese vriendskap, of net ‘n gemaklike vriendskap is, maak nie saak nie. In elke geval is dit belangrik om die ander persoon die ruimte te gee om te kan beweeg. Ons word vermaan om mekaar te vermaan (Hebreërs 10:25); mekaar te verdra en te vergewe (Kolossense 3:12-14); en mekaar lief te hê (Johannes 13:34). Spreuke 17:17 en 27:17 spreek vriendskapsverhoudings tussen vriende aan.
Wat van die voorbeeld van die meulsteen? ‘n Verhouding waar een, of beide, party dikwels probeer om hulle wil op die ander een af te dwing, is een waar ‘n meulsteen aan die ander persoon vasgemaak is. Hierdie is die afbrekende verhoudings wat ons so dikwels rondom ons sien, of dalk self in is. Dit hoef nie noodwendig ‘n gewelddadige verhouding te wees nie. Vuishoue genees. Emosionele geweld laat egter ‘n onsigbare merk wat baie langer bly. Wanneer een party die ander nie vertrou nie, sal hulle hulle bes doen om die ander een aan ‘n kort tou te hou, en geen ruimte vir beweging toelaat nie. Uiteindelik sal die konstante gekla en dreigemente daartoe lei dat die verhouding vernietig word. Hierdie is tipies gevalle waar die vrugte van die Gees nie sigbaar is en tot uitvoering kom nie.
Om op te som, die anker tou is doelbewus lank genoeg om die anker toe te laat om die bodem te bereik terwyl die skip op die oppervlak bly. Daar is genoeg tou om die eb en vloei van die getye te akkommodeer. Die meulsteen se tou is kort genoeg sodat steen die bodem bereik, maar die persoon aan die ander kant ondertoe te trek en hom te verdrink. Aan watter tou is jy vasgemaak? Indien jou huweliksmaat of wie jy ook al ‘n vriendskap mee het, ‘n anker in jou lewe is, dank die Here vir hulle! Indien jy vind dat jy eintlik aan ‘n meulsteen gebind is, het jy desperaat nodig om hulp te kry. As jy getroud is, gaan sien ‘n huweliksberader en neem die ander persoon saam, indien moontlik.
As jy nie getroud is nie, of bloot in ‘n vriendskapsverhouding is, evalueer die situasie. Voel jy vasgevang in ‘n verhouding waar net die ander persoon enige seggenskap het? Dan loop jy die gevaar om vernietig te word. Jy gaan verdrink word as gevolg van die besitlike houvas van ‘n beheer vraat. Kom uit hierdie verhouding uit terwyl jy kan.
Slotsom
God het ons man en vrou gemaak sodat ons mekaar kan komplementeer, aan te vul, en mekaar se teenwoordigheid in ons huwelik te geniet (Genesis 2:18 en 2:24). As gevolg van die unieke verskille tussen man en vrou, verg dit konstante evaluasie aan beide kante. Is ek in ‘n veilige hawe waar my huweliksmaat die anker is, en is daar genoeg beweegruimte? Laat ek genoeg tou sodat die ander een hulle ding kan doen binne die raamwerk van die verhouding? Indien ek dit nie doen nie, is daar fout met my gesindheid en moet ek ernstig my intensies evalueer. Miskien is ons selfgerig, op onsself gefokus en nie die ander persoon nie, en intussen gaan die ander party onder. God stel plaas ‘n groot waarde in ware vriendskap, soos Psalm 133:1 dit duidelik maak, wat voordelig vir beide partye is. Dieselfde, en meer, geld vir ‘n huwelik.
Neem hierdie week tyd om jou huwelik, verhouding, of vriendskap te evalueer. Laat die ander party die ruimte toe wat hulle nodig het. Jy sal gou vind dat jy self daarby gaan baat vind.