Meer inligting oor die Johannes Hoofstuk Drie projek

Inligting oor hierdie projek
Die doel van hierdie projek is om mense na die Here te lei. Die fokus van die projek is gebasseer spesifiek op Johannes 3:16, die saligheidsplan, maar dit beteken nie dat die ander gedeeltes van die Johannes Evangelie nie belangrik is nie. Johannes 3:16 speel af teen die gebeure en leer van Jesus, soos uitgebeeld binne die konteks van die res van die Johannes Evangelie. Die saligheidsplan, soos verduidelik in Johannes 3:16, is vir alle mense, ongeag ras, taal of herkoms. Jy moet dit net jou eie maak, en die Drie-Eenheid aanneem en bely as Redder, Saligmaker en Verlosser.
Benewens die feit dat ons fokus om mense te kry om die Here te ontmoet, plaas ons ook weekliks artikels, geneem deur waarneming van hoe dinge rondom ons gaan. Ons draai nie doekies om nie, en fokus veral op die vals dinge wat ons raaksien, en waarvan gelowiges bewus moet wees. As dit kontroversieel is, dan is dit so en ons maak nie verskoning daarvoor nie.
Die span betrokke by die projek is almal gelowiges wat hulle beywer om die boodskap van die saligheidsplan vir jou, in jou eie taal, te bring. Sou daar 'n behoefte wees na 'n bepaalde vertaling, voel vry om vir ons 'n boodskap te stuur - sien die kontakbesonderhede. Hierdie projek is vry van winsbejag.
Teksverwysings is geneem uit die 1953 en 1983 Afrikaanse vertalings van die Bybel.