Dokumentasie Geplaas op Dinsdag, 12 Maart 2024

n boodskap van hoop uit Openbaring

Verwys eers na die artikel [ Dit gaan alles oor geld ], indien jy dit nog nie gelees het nie.

Na die artikel van so twee weke gelede, wil dit voorkom asof ek baie krities is teenoor die hedendaagse kerk. Ek is, en daar is goeie redes daarvoor, maar daar is ook hoop. Nou die dag het iemand my beskryf as negatief (in ‘n heel ander konteks) omdat ek hom op ‘n mooi manier tereg gewys het. Ek het die man gelos om sy mond uit te spoel. Ek merk in hom ‘n weersin om te aanvaar dat hy ook foute het en dat hy aan sy bediening moet werk. Om die fokus van homself af weg te skuif, beskuldig hy my as negatief. Dit is maar hoe die wêreld opereer, selfs bedienaars van die Woord. Christene interpreteer Jesus se boodskap aan die sewe gemeentes ook as negatief. Niemand hou daarvan om tereg gewys te word nie, en dit is maklik om jouself van die raad wat gegee word, te distansieer.

In elkeen van die sewe briewe aan die gemeentes in Asië gee Jesus Christus opdragte en vermanings vir ons en vir ons tyd. Hy sien die goeie en die slegte goed wat in die Kerk gebeur, maar probeer steeds om die Kerk te bemoedig. Ongelukkig leef ons in ‘n tyd waar die media jou vertel, en mislei, oor hoe goed jy eintlik is. Hierdie mentaliteit het ook na Christene oorgespoel. In elkeen van die sewe briewe word ons aangemoedig om die self te laat vaar en op Hom te fokus.

Hoekom word daar nie op die goeie aspekte gefokus nie? Wel, die goeie aspekte dui daarop dat jy die standaard bereik het, niks meer nie. Die negatiewe aspekte dui op die teenoorgestelde – jy het nie die standaard bereik nie. Dit klink so teen dit wat die wêreld jou wil laat glo. As jy 8/10 vir jou toets gekry het, wil die waardestelsel van die wêreld jou laat glo dat jy deur positiewe denke, oor die agt regte antwoorde, kan glo dat die verkeerde antwoorde eintlik nie saak maak nie, en jy die twee verkeerde antwoorde sal regkry deur te fokus op die agt wat reg is. Dit is nie hoe dit werk nie. Fokus op die twee wat verkeerd is en maak hulle reg. Jesus noop jou om te fokus op die dinge wat verkeerd is in jou eie lewe, en hulle reg te maak. Kom ons kyk na hulle.

Bekeer jou en doen die eerste werke – Opg 2:5

Jesus noem aan die gemeente in Éfese dat hulle hul eerste liefde verlaat het. Hoe tragies is dit nie dat ons dikwels daardie eerste liefde, na ons bekering, verlaat het. Onthou jy toe jy tot bekering gekom het? Jy kon die wêreld versit. Algaande egter, het daardie liefde getaan en die passie het verflou. Jesus se raad is om terug te keer na hoe jy as ‘n jong gelowige was, en die eerste dinge te doen. Dalk dink jy dat hierdie nie op jou van toepassing is nie, en dat jy steeds geestelik sterk staan. Mooi so, maar lees verder.

Wees getrou tot die dood toe – Opg 2:10

Aan die gemeente in Smirna gee Jesus die raad dat hulle getrou moet bly tot aan die einde. Ons het dikwels die idee dat as jy “jou hart vir Jesus gegee het”, alles nou reg is. Jou wedloop het egter net begin. Jy kry nie ‘n prys vir hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig. Die dood is die einde van jou aardse bestaan, en elkeen van ons moet daardie streep oorsteek. As jy dus tans geestelik sterk is, hou daarmee aan, tot die dood toe.

Bekeer jou – Opg 2:16

Die oproep tot bekering kom herhaaldelik voor. Die gemeente in Pérgamus het aanvanklik goed begin, maar stadig ander leringe begin nagevolg. Jesus se boodskap is dat hulle hulle moet bekeer. Om jou te bekeer beteken om 180 grade weg te draai van dit wat jy doen wat verkeerd is, in die teenoorgestelde rigting.

Hou vas tot Ek kom – Opg 2:25

Jesus skryf aan die gemeente in Thiatíre dat Hy hulle goeie werke ken, maar dat valse leringe in die gemeente ingesluip het. Sy raad aan hierdie gemeente is om vas te hou aan dit wat hulle het, die eerste beginsels van hulle geloof, totdat Hy kom. Dit is dus dieselfde boodskap as wat Hy vir die gemeente in Smirna gee. Die oomblik as jy tot sterwe kom, ontmoet jy Hom en sien jy Hom soos Hy is. Jy moet egter enduit volhou. Iemand wie amper die hele afstand van die Comrades Marathon voltooi het, maar kort voor die wenstreep opgegee het, word nie aangeteken as dat hulle die wedloop voltooi het nie. Hou vas aan jou eerste geestelike beginsels, nie die verdraaiings wat tans in die kerk geleer word nie.

Wees wakker, versterk ander, en bewaar en bekeer jou – Opg 3:2-3

Jesus se evaluasie van die gemeente in Sardis is baie negatief. Hulle sê dat hulle geestelike lewendig is, maar eintlik is hulle dood. Hy noop hulle om die wie oorbly, te bemoedig en te versterk, en om hulle te bekeer. Dalk dink jy dat jy geestelik “op die pad” is, maar op pad waarheen? Evalueer jouself vandag en maak seker dat jy nog die regte pad volg. As jy agterkom dat jy afgedwaal het, bekeer jou daarvan en volg die regte pad.

Hou vas wat jy het – Opg 3:11

Die gemeente in Filadelfía is omtrent die enigste gemeente wie nie ‘n slegte rapport kry nie. Jesus sê omdat hulle sy Woord bewaar het, Hy hulle ook sal bewaar van die komende beproewing. Hy vra hulle om vas te hou aan dit wat hulle het. Hulle het sy Woord bewaar en sy Naam nie verloën nie. Hou vas aan Hom. Hy is al wat jy het.

Koop van Hom goud, klere, en salf. Bekeer jou – Opg 3:18-19

Jesus kom by die laaste gemeente, die een wie die slegste evaluasie gekry het. Hy het niks goed om vir hulle te sê nie. Na die afranseling wat hierdie gemeente gekry het, nooi Hy hulle nog steeds, omdat Hy hulle liefhet, om hulle rykdom in Hom te soek (goud); hulle met Hom te beklee (klere); en genesing te kry sodat hulle nie net fisies kan sien nie, maar ook geestelik waar te neem die verkeerde wat tans in die wêreld aan die gang is. Waar soek jy jou rykdom? Waarmee beklee jy jouself? Waardeur kry jy jou geestelike genesing?

Wie ‘n oor het om te hoor, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê – Opg 2:7; 2:11; 2:17; 2:29; 3:6; 3:13; en 3:22

Aan die einde van elke brief is dieselfde vermaning – as jy bereid is om te luister, luister dan wat die Gees aan al die gemeentes sê. Daar is ‘n interpretasie van die sewe gemeentes, dat hulle spesifieke tye in die geskiedenis van die Kerk verteenwoordig. Dit is waar, en ons sien die duidelike tekens hiervan in die toestand van die gemeente in Laodicéa, presies soos meeste kerke vandag lyk. Tog is daar ook vir almal van ons ‘n boodskap wat uit elkeen van die briewe kom. Vir elkeen van ons is daar ‘n waarskuwing. Die goed wat jy reg gedoen het, het dalk net-net die standaard gehaal. Dit is die dinge wat jy verkeerd (ge)doen (het) wat jy op moet fokus.

Die boodskappe

Vir almal van ons is daar vier boodskappe. Dalk dink jy sommiges geld nie vir jou nie. Let dan op die ander.

  1. Bekeer jou – Opg 2:5; 2:16; 3:3; en 3:18 (Éfese, Pérgamus, Sardis, en Laodicéa).
  2. Wees getrou – Opg 2:10; en 2:25 (Smirna en Thiatíre).
  3. Hou vas – Opg 2:25; en 3:11 (Thiatíre en Laodicéa).
  4. Luister na die stem van die Heilige Gees te midde van dit wat die wêreld na jou kant toe gooi – 2:7; 2:11; 2:17; 2:29; 6:6; en 3:22).

Die oorkoepelende boodskap is dít: Bekeer jou; wees getrou tot die dood toe; hou vas wat jy het totdat Hy kom; wees waaksaam terwyl jy andere versterk; koop van Hom wat jy nodig het; en laastens, luister na die Heilige Gees.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy