1 Korinthiërs 8

Dit gaan oor baie meer as net vleis!
1 Korinthiërs 8 lyk op die oppervlak of dit net oor vleis gaan wat aan afgode geoffer is. Maar as ’n mens mooi lees, sien jy dit gaan oor iets baie dieper. Dit gaan oor die hart. Dit gaan oor kennis teenoor liefde. Dit gaan oor vryheid teenoor verantwoordelikheid. Dit is hier waar die “twee-snydende swaard” inkom.
Die agtergrond
In Korinthe was daar baie afgode diens. Vleis wat in die mark verkoop is, is dikwels eers in ’n tempel geoffer. Party gelowiges het gesê:
'n Afgod is niks nie. Daar is net een God. Ons weet dit. Ons kan die vleis eet.
Hulle was teologies reg.
Ander gelowiges egter, wie pas uit afgode diens gekom het, het nog gesukkel om in die nuwe Christen omgewing aan te pas. Vir hulle het daardie vleis nog iets beteken. Hulle gewete was nie nog nie vry nie. Paulus antwoord hierdie situasie baie wys.
Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. (vers 1)
Hier begin die waarskuwing. Kennis op sigself is nie verkeerd nie. Maar kennis het ’n gevaar: dit kan ’n mens trots maak. Die 1953 Vertaling sê dit “maak opgeblase”. Dit beteken jy raak groot in jou eie oë. Dis moontlik om reg te wees, en tog verkeerd op te tree.
As iemand meen dat hy iets weet, dan weet hy nog niks soos ’n mens behoort te weet nie.– vers 2
Ware kennis maak nederig. Hoe nader ’n mens aan God leef, hoe minder voel jy dat jy jouself moet bewys.
Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (vers 3)
Hier skuif Paulus die fokus.
Dit gaan nie oor wie die meeste weet nie. Dit gaan oor wie liefhet. Verhouding is belangriker as intellektuele oorwinning. Dit is moontlik om baie Bybelkennis te hê en tog min liefde te toon. Dan het jy die kern gemis. Die waarheid word erken. Paulus sê duidelik in vers 4:
'n Afgod is niks in die wêreld nie, en dat daar geen ander God is nie as Een.
Hy ontken nie die waarheid nie. Hy sê nie almal moet maar verkeerd bly ter wille van vrede nie.
Maar nou kom die tweede sny van die swaard.
Maar die kennis is nie by almal nie. (vers 7)
Nie almal groei ewe vinnig geestelik nie. Nie almal se gewete is op dieselfde plek nie. En hier kom 'n baie belangrike beginsel: Wat vir my vryheid is, kan vir iemand anders ’n struikelblok wees.
Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die swakkes nie.
Met ander woorde: Moenie jou geestelike volwassenheid gebruik op ’n manier wat iemand anders geestelik beskadig nie.
Die erns daarvan
Vers 11 is baie sterk:
En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, deur jou kennis verlore gaan?
Dit is skokkend. Jou "reg wees" kan iemand anders se geloof skade aandoen.
Vers 12 gaan selfs verder:
En so sondig julle teen Christus.
Wanneer ons liefdeloos teenoor ’n mede-gelowige optree, raak dit nie net hulle nie — dit raak Christus self.
Paulus se eie houding
Vers 13 is vir my een van die mooiste verse in die hoofstuk:
As die voedsel my broeder laat struikel, sal ek in ewigheid geen vleis eet nie.
Dit is ware geestelike volwassenheid. Nie "Ek mag, so ek doen." nie, maar: "Ek kan, maar as dit iemand seermaak, sal ek dit los."
Dit is liefde in aksie.
Die twee-snydende swaard
Hier is die twee kante van 1 Korinthiërs 8:
Aan die een kant sê dit: Soek waarheid. Daar is net een God. Moenie in onkunde bly nie. Aan die ander kant sê dit: Moenie waarheid gebruik sonder liefde nie. Vryheid sonder liefde word selfsug. Kennis sonder liefde word trots. Maar waarheid wat deur liefde werk, bou die liggaam van Christus.
Die hoofstuk gaan nie eintlik oor vleis nie. Dit gaan oor hoe ons mekaar hanteer in
- teologiese verskille
- praktiese sake
- Christelike vryhede
- ons gesprekke en opinies.
Die toets is nie net: “Is ek reg?” nie. Die toets is: “Bou ek op?” As my optrede iemand nader aan Christus bring, is dit reg. As dit iemand laat struikel, moet ek weer dink — selfs al is ek teologies korrek.
Samevatting
1 Korinthiërs 8 leer ons dat liefde die maatstaf is van ware geestelike volwassenheid. God is nie beïndruk met hoe slim ons is nie. Hy kyk na hoe ons mekaar behandel. En uiteindelik wys hierdie hoofstuk vir ons iets van Christus self — Hy wat alle reg gehad het, maar Homself verneder het ter wille van ons.
Dít is die hart van die evangelie.