2 Thessalonicense 2: Die komende misleiding

Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 7 Mei 2022

2 Thessalonicense 2

Besluite wat jy vandag neem het 'n implikasie vir die toekoms

Johannes 3:16, sowel as die gedeeltes wat direk daarop volg, is 'n kardinale teks waaraan baie ander teksverse in die Nuwe Testament saamhang. Dit dui baie duidelik aan dat as gevolg van God se liefde vir die mensdom, Hy sy Seun gestuur het sodat hulle in Hom kan glo en gered kan word. Ons weet egter dat daar ook die anderkant van die muntstuk is - wat gebeur met diegene wie besluit (het) om nie die boodskap van redding te aanvaar nie? As ons net 'n bietjie verder as Johannes 3:16 lees, sien ons die volgende:

16Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
19En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
Johannes 3:16-19, 1953 Vertaling

Die groot teenstelling in die teks is die woord "maar" in vers 18. Die woord word gebruik om twee idees saam te voeg. Hoewel die idees grammatikaal kan ooreenstem, het hulle 'n teenoorgestelde betekenis. In hierdie teks het ons te make met twee baie duidelike feite:

  1. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie

maar

  1. hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel

Hierdie twee feite is teenoorgesteldes in elke opsig:

"Hy wat in Hom glo" is 'n positiewe stelling met 'n aktiewe aksie - die persoon doen dit self. Dit word gevolg deur 'n negatiewe passiewe stelling - "hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel". Die persoon veroordeel nie homself nie, iemand anders doen dit vir hom.

Noudat die grammatika uit die weg geruim is, laat ons na vers 19 kyk. Die fokus skuif weg van die persoon wat geglo het, na hy wat nie glo nie. Hy word veroordeel nie net omdat hy nie geglo het nie, maar ook as gevolg van sy bose werke. Hy hou meer van sy bose werke as om gered te word en probeer om sy bose werke in die donker weg te steek. Die lig wat in die wêreld gekom het (Jesus Christus), stel hierdie bose werke bloot. Die ongeredde mens het 'n keuse gemaak om eerder die duisternis as die lig lief te hê.

Wat is die implikasies vir die toekoms?

Die twee briewe wat Paulus vir die gemeente in Thessalonika geskryf het, was die eerste briewe wat hy vir enige gemeente in Europa geskryf het. Hy het hierdie gemeente self gestig. Ons kry die inligting in Handelinge 17. Hy is uit die stad gedryf maar het die saad gesaai vir 'n gemeente wat baie sou groei. Om hulle te bemoedig, het hy twee briewe aan hulle gestuur. In beide briewe verduidelik hy die eskatologiese gebeure van die toekoms. In die eerste brief, in antwoord sekerlik op 'n vraag wat lede in die gemeente gehad het, verduidelik hy dat diegene wie alreeds as gelowiges gesterf het, geen nadeel het bo diegene wie nog lewe nie. Dit is 'n reaksie op die gemeente se vraag wat van die afgestorwene gelowiges word tydens die Koms van Jesus Christus.

13MAAR, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.
14Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.
15Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.
16Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.
17Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
18Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde. - 1 Thessalonicense 4:13-18, 1953 Afrikaanse vertaling

Paulus verwys hier na gelowiges, wie volgens Johannes 3:16-18 alreeds die ewige lewe het.

Wat dan van die gedeelte na "maar", die ander kant van die muntstuk?

Hy spreek hierdie aspek in die tweede brief aan. Weereens is die brief geskryf in reaksie op sommige vraagstukke wat die gemeente sou gehad het, en Paulus antwoord hulle baie breedvoerig. Hy fokus op hulle geestelike groei in tye van erge verdrukking en vervolging wat hulle ervaar. Die gemeente moet hierdie teenstand weerstaan en Paulus verduidelik dat hierdie teenstand nie permanent sal wees nie. Die probleem is egter dat die gemeente verstaan het dat hulle alreeds in die groot verdrukking verkeer, wat nog in die toekoms is. Hulle het gereken dat God alreeds in hulle leeftyd 'n einde aan hulle verdrukkers sou maak. Paulus se regstellende lering is dat dit wel waar is dat Jesus Christus self sy kerk sal kom haal en na die hemel neem. Voordat dit egter kan gebeur, is daar eers twee ander dinge wat moet gebeur. Hy verduidelik dit as volg:

1 MAAR ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie - deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees - asof die dag van Christus al daar is.
3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf,
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. - 2 Thessalonicense 2:1-4, 1953 Afrikaanse vertaling

Hy dui baie duidelik aan dat voor die gelowiges ontslae sal wees van hulle vervolgers, en die Koms van Jesus Christus plaasvind, twee dinge moet gebeur. Hulle is die volgende:

  • die afval moet kom, wat in ons tyd alreeds sigbaar is, waar mense doen net wat hulle wil en hulle rug op God as Skepper keer; en
  • die mens van sonde (die Antichris) openbaar moet word, wat in die Joodse tempel sal sit en homself as God sal verklaar.

Hierdie man sal die ongelowige wêreld (diegene wie deel van die afval is) deur wonders en tekens mislei. Baie mense word mislei en gaan verwonderd agter hierdie mens aan, soos dit in Johannes se beskrywing in Openbaring 13:13-14 gedoen word. Jesus het die dissipels alreeds voorheen hieroor onderrig. Hy was baie duidelik daaroor dat gelowiges moes verseker dat hulle nie deur iemand mislei word nie:

3En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
4Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
Mattheus 24:3-4, 1953 Afrikaanse vertaling

Die man van sonde waarvan Paulus praat, gaan kom om mense te mislei. Jesus het eerste die dissipels daarvan vertel, toe vertel Paulus dit aan die gemeente in Thessalonika, en baie jare later het Johannes dit self in die toekoms sien gebeur. Ons is gewaarsku.

'n Toekoms sonder Jesus is ondenkbaar. Paulus verduidelik dat dit nog moet gebeur en dat baie mense mislei gaan word. Wie is die "baie mense"? Hulle is diegene wie nie gered is nie, soos wat in Johannes 3:16-19 genoem word. Nie net het hulle nie geglo nie, maar omdat hulle nie wou glo nie, en eerder in die duister wou bly, gaan God die Vader self toelaat dat hulle mislei word en 'n leuen glo:

10en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.
11En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid. – 2 Thessalonicense 2:10-12, 1953 Afrikaanse vertaling

Ongelowiges sal wil argumenteer dat dit onregverdig is en dat hulle nie 'n regverdige kans gehad het nie. Dit is juis die misleiding. Jesus Christus, as die Seun van God wie na hierdie aarde toe gekom het met die uitsluitlike doel om mense die weg na die Vader te wys, is uitgeskel, uitgelag, verneder en doodgemaak. Vandag het enige en elke ongelowige nog steeds die geleentheid om hulle te bekeer en die reddende genade van Jesus Christus te ontvang. Indien daar ooit enige geleentheid was om dit te doen, is dit juis nou, terwyl die wêreld in rep en roer is weens die COVID-19 inperkings. Elkeen van ons het voldoende tyd om te sit en 'n voorraadopname van ons lewens te maak. Uit die aard van die saak het baie besluit om voort te gaan met hulle ongeregtigheid, in ons eeu van menseregte. Hiervoor gaan hulle met hulle lewens betaal.

Sien jy die verband tussen Johannes 3:16-18 en 2 Thessalonicense 2:10-12? Omdat mense nie wil glo nie, is hulle alreeds veroordeel, volgens Johannes 3:18, omdat hulle nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. Die veroordeling sluit in dat God hulle toelaat om die leuen te glo, en verlore te gaan.

Ons leer uit die Woord dat die komende Antichris mense sal mislei deur tekens en wonders. Vir baie jare al, probeer valse profete om mense te mislei, en selfs die gelowiges. Jesus het alreeds die dissipels hierteen gewaarsku:

Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.Mattheus 24:24, 1953 Afrikaanse vertaling

Is God onregverdig deur 'n verwarring of misleiding te stuur sodat sekere mense verdoem sal word net omdat hulle nie die geskenk van die ewige lewe wil aanvaar nie? Verseker nie. God die Vader het die mens 'n keuse gegee, en daarby voldoende tyd om hulle opsies teenoor mekaar op te weeg. Jy leef of sterf deur die keuse wat jy in die lewe maak.

Die media is tans 'n instrument in die hande van die duiwel, om 'n leuen te versprei en mense te mislei. Moenie alles glo wat die media jou voer nie. Die duiwel is bloot tans besig om die ongelowige massas sage te maak sodat hulle die misleiding wat gaan kom sal aanvaar. Moenie rondom jou kyk nie en moenie na mense kyk nie.

En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.Lukas 21:28

Kyk op, kyk na bo. Dit is waar jou verlossing vandaan kom.

In hierdie week, neem die tyd om jou eie posisie in ag te neem. Vergeet van dit wat 'n kerk jou leer. Vergeet van dit wat mense sê. Vergeet die media. Fokus op die Woord alleen.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy