Kom ons kyk weer na 2 Timótheüs 4

Wie is verantwoordelik vir die afval in die kerk?
Ek het al dikwels my gedagtes oor 2 Timótheüs 4 op my webwerf gedeel. Paulus skryf aan Timótheüs dat daar ‘n tyd sal kom wanneer mense in die kerk die gesonde lering nie sal aanvaar nie. Hierdie is die mense, onder die dekmantel van gelowiges, van wie Jesus in Johannes 15:6 praat, diegene wie nie in Hom bly nie. Dit is dieselfde mense wie Paulus sê sal wegval van die geloof (die afval, Eng. “apostasy”, 2 Thessalonicense 2:3). Dit is hierdie mense van wie Paulus in 2 Timótheüs 4:3 praat. Kom ons kyk in meer besonderhede na hulle. Lees die volgende vers aandagtig:
3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. – 2 Timótheüs 4:3
Wie is “hulle”? Ons moet verstaan hoe taal werk. In enige taal, wanneer iets of iemand by die naam genoem word en geïdentifiseer is, sal ons nie voortgaan om die name te gebruik wanneer ons na hulle verwys nie, maar eerder voornaamwoorde soos hy, sy, en hulle. Om te weet wie die “hulle” is waarvan Paulus hier skryf, moet ons teruggaan in die teks en ‘n eienaam of ‘n geïdentifiseerde selfstandige naamwoord gaan soek waarna die “hulle” kan verwys. Ons vind dit in 2 Timótheüs 3:13 – goddelose mense en bedrieërs, wie verlei, en verlei word. Hulle word hier geïdentifiseer en later as “hulle” beskryf, presies soos ek ook in hierdie sin met “hulle” begin. Hulle sit in ons gemeentes.
Nou dat ons weet van wie hier gepraat word, kom ons kyk wat hulle doen.
- Hulle verlei ander mense met hulle valshede – die fabels waarin hulle glo (2 Timótheüs 3:13b). Fabels is stories of oorvertellings, gewoonlik net mites sonder feitelike bevestiging.
- Hulle word op hulle beurt verlei – hulle word verstrik deur hulle eie fabels (2 Timótheüs 3:13b). Hulle vertel so baie leuens dat hulle dit self glo.
- Hulle verdra nie die gesonde leer nie – die gesonde leer spreek hulle sonde aan en hulle wil dit nie hoor nie (2 Timótheüs 4:3). In baie kerke word gesonde leer bevraagteken en afgemaak as nie relevant vir ons tyd nie. Daarna word dit geïgnoreer.
- Hulle stel vir hulleself leraars aan volgens hulle eie begeerlikhede – leraars wie preek wat die gemeente wíl hoor, nie wat hulle móét hoor nie ( 2 Timótheüs 4:3). Leraars word aangestel op grond van hulle konneksies, nie hulle vermoë om die Woord reguit te sny nie.
- Hulle wend hulle tot fabels – hulle val weg van die geloof af (1 Timótheüs 4:1 noem hierdie fabels “verleidende geeste en leringe van duiwels”; 2 Timótheüs 4:4). Swak vertalings, parafrases, en ander bronne is leringe van duiwels.
- Hulle keer die oor af van die waarheid – hulle wil nie die waarheid hoor nie maar hang verleidelike geeste aan (1 Timótheüs 4:1). Die verleidelike geeste streel hulle ore.
Die probleem in meeste van ons kerke is dus dat dit nie noodwendig die leraar(s) is wat primêr foutief optree deur nie die Woord suiwer te verkondig nie, maar omdat hulle (salarisse) onder druk is indien hulle nie preek wat die gemeente wil hoor nie. Wat is die “gesonde leer”? Dit is die suiwer Woord, en nie idees (fabels) oor die Woord nie. Ek sit weekliks in die diens en hoor hoe daar stories (fabels) óór die Woord vertel word, maar die fokus is nooit werklik op die Woord nie. Dikwels word daar nie eers ‘n kern teks gegee wat die anker vir die preek moet wees nie. Soms word daar eintlik net ‘n motiverings toespraak gelewer wat ten doel het om mense goed te laat voel. As jy nie preek wat hulle wil hoor nie, vererg hulle hulself, verlaat die gemeente, en die leraar is sy salaris kwyt as gevolg van dalende inkomste.
Bogenoemde stel egter nie die leraar vry van sy verantwoordelikheid nie. Jy wie die Woord bedien, het die taak om die volle en ware Woord te verkondig, nie net die dele wat goed op die oor val nie. Ek was ‘n besoeker by ‘n mega-kerk. Ek het myself nie as ‘n “vennoot” beskou nie. Die enigste “vennote” is dié met baie geld wie leraars omkoop. As jy nie ruim kan bydra nie, is jy nie in tel nie. Van die reëls wat in hierdie mega-kerk geld is die volgende:
- “Ons preek nie uit Openbaring nie want mense verstaan dit nie.” Hierdie het uit die mond van een van die leraars gekom. Ek was geskok. Dalk is dit omdat jy as leraar nie Openbaring verstaan nie en nie die vermoë het om dit effektief oor te dra nie. Daar is ook by hoorders geen honger om die Woord te bestudeer nie. Hulle dink hulle kan floreer op die spookasem (fabels) wat elke week as woord opgedien word, sonder om ooit ‘n Bybel oop te maak. My voorstel aan hom was dat ons dan maar Openbaring moet uitskeur en weggooi. Openbaring is deel van Eskatologie, die studie oor die toekoms van die mens en God se volledige openbaring van Homself aan die mens, spesifiek die koms en regering van Jesus Christus. Openbaring is ‘n boek van hoop, iets wat baie mense vandag kort, en baie mense nie meer het nie.
- “Die wegraping bestaan nie.” O ja? Net omdat jy nie in die dogma van die wegraping glo nie, beteken dit nie dat dit nie waar is nie. My vriend, wanneer die wegraping plaasvind en jy in die hel van wat die verdrukking is agterbly, sal jy wens dat jy bietjie meer aandag aan hierdie dogma gegee het. Leraars preek dit nie want hulle wil konsuis nie mense bangmaak nie. Kom ons skeur dan Matthéüs se evangelie (ten minste hoofstukke 24 en 25); Johannes se evangelie (Johannes 14:1-6); 1 en 2 Thessalonicense; en al die ander dele, boeke, en briewe wat oor die Koms en Wederkoms praat, uit ons Bybels. Dit maak ons Bybels baie ligter om te dra. Dit is nou vir diegene wie nog die moeite doen om ‘n Bybel na die diens te bring.
Jy sien, wat ons hier het is presies wat Paulus gesê het sal gebeur. Mense wíl nie die gesonde leer hoor nie, want dit vereis van hulle sonde belydenis en bekering, soos ons in die eerste kerk ervaar het en dit in Handelinge 2:38 en 3:19 opgeteken is. Mense wil nie meer hoor dat hulle moet verander nie. Hulle wil net hoor dat hulle eintlik goed is, teenoor Romeine 3:10-11 wat noem dat niemand regverdig is of goed doen nie. Om hierdie rede sorg hulle dat leraars aangestel word wie doen wat die “gemeente” sê. Deesdae is daar mos ander woorde vir “gemeente”. Die gemeente is nou ‘n “kampus”, en daar is nie meer ouderlinge en diakens nie, want dit pas nie mense se styl nie. Hulle soek nie iemand wie geestelike leiding gee nie. Hierdie mense wend hulle tot fabels, en dit is waarmee Paulus eintlik die hoofgedagte van sy tweede skrywe aan Timótheüs afsluit. Fabels staan direk teenoor die Woord. Fabels laat jou goed voel, maar hulle mislei jou (Johannes 10:10a). Die Woord lei jou na inkering en bekering, en na die waarheid (Johannes 10:10b; 14:6).
Slotsom
Dit is maklik om die blaam te probeer verskuif. Aan die einde van die dag is dit egter jy wat verantwoordelikheid moet aanvaar vir jou geestelike groei. Die leraar gaan wel verantwoording doen omdat hy nie die Woord suiwer verkondig het nie, maar hy gaan nie langs jou staan en verantwoordelikheid aanvaar vir jou geestelik verval nie. Soos ‘n goeie vriend van my genoem het, saai die duiwel verwoesting in ons kerke omdat te veel mense te veel geld het en ander daarmee manipuleer (2 Timótheüs 4:3), en te min kennis oor die Woord en God se wil vir ons lewens.
Gaan lees gerus Paulus se twee roerende briewe aan sy opvolger, Timótheüs. Sien die hart van ‘n geestelike vader wat sy jong volgeling oplei om in sy voetspore te volg, en hom waarsku oor dit wat al sommer in sy eie tyd in die kerk sou begin gebeur. Sien ook die hart van die Vader wie vir jou omgee en nie wil sien dat jy deel van die afval is nie, die goddelose mense van 2 Timótheüs 3:13, maar eerder die persoon is wat godvrugtig wil lewe in Jesus Christus, en vir hulle geloof vervolg sal word, in vers 12. Vervolging sal jou volg, en dit is die bewys dat jy werklik aan Jesus Christus behoort.