Aan watter kant van die pad gaan jy stap?

Dokumentasie Geplaas op Woensdag, 29 Julie 2026

Aan watter kant van die pad gaan jy stap?

Bestudeer Lukas 10:25–37 en vra jouself af of ons nie dalk meer dikwels as wat ons wil erken aan die ander kant van die pad stap wanneer ons dienaars moet wees eerder as om gedien te word nie. Hier is ’n paar notas, vers vir vers, wat jy kan gebruik in jou studie van die barmhartige Samaritaan en die kant van die pad wat hy gestap het.

Die wetgeleerde se vraag

  • Die sekere wetgeleerde was ’n spesifieke persoon wat kennis van die wet gehad het. Die Grieks wat gebruik is vir “wetgeleerde” (van die Mosaïese wet), nomikos (νομικός), beteken iets soos “prokureur” in ons tyd. Hy wou Jesus versoek omdat sy motiewe nie korrek was nie. Van die begin af het hierdie persoon ’n verwaande houding gehad. Sy vraag is eintlik baie selfgesentreerd al klink dit aanvanklik nie so nie – wat hy moet doen om die ewige lewe te kry.
  • Jesus vra hom wat die wet voorskryf, en hy antwoord uit Deuteronomium 6:5; 10:12; en 30:6. Dit is korrek na die letter, maar iets ontbreek.
  • Die wetgeleerde verwys na sy naaste as waarskynlik ’n Israeliet, volgens Levitikus 19:18, maar net ’n bietjie verder lees ons in Levitikus 19:34 dat jou naaste ook die vreemdeling in jou land is, nie net mense van jou eie groep nie. Ons sal sien dat hy dus net die wet gedeeltelik aanhaal. Ons is ook so: dit wat ’n ander een sal aanspreek is ons gou om teen hulle te gebruik, maar wanneer dit onsself aanspreek, bly ons dikwels stil daaroor.
  • Jesus noem dat hy reg geantwoord het. Die persoon het die wet in teorie geken, maar wou dit waarskynlik nie op homself van toepassing maak nie. Hy leef nie volgens die maatstaf wat gestel is nie.
  • Hy wil homself regverdig, omdat hy dalk alreeds self skuldig is, en vra baie sarkasties “En wie is my naaste?” Hierdie kort vraag lei tot ’n deeglike antwoord. Om ’n vraag met “En” te begin het dikwels, dalk altyd, ’n negatiewe konnotasie. Kyk na twee voorbeelde:
    • Wanneer gaan jy die werk klaar maak? Hierdie vraag is objektief en verg bloot ’n tydsaanduiding as antwoord, teenoor
    • En wanneer gaan jy die werk klaar maak? Hier is die vraag subjektief en sarkasties, asof die vraer impliseer dat jy nie die werk gaan klaarmaak nie. Klein woorde het groot krag!

Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan

  • Die verhaal wat geskets word kon moontlik waar gewees het, of dit kon fiktief wees ten einde mense ’n les te leer. Die “sekere man” was waarskynlik ’n Jood; ons weet nie verseker nie, maar dit gee nog meer betekenis aan die verhaal. Die man “het afgegaan van Jerusalem na Jérigo”. Die pad vanaf Jerusalem was afdraande, baie steil, en baie gevaarlik, soveel so dat dit as die “Way of Blood” bekend gestaan het. Dat dit afdraande was, is ’n feit gegewe die geografie van die omgewing. Jerusalem is 760 m bo seevlak, maar Jérigo en die onmiddellike omgewing is omtrent 300 m onder seevlak. Vir die afstand in daardie dae, ongeveer 30 km, was dit dus ’n pad met ’n steil gradiënt. Die rowers wat die man aangeval het, het alles gesteel wat hy gehad het; ook sy klere. Hulle stroop hom dus van sy waardigheid, en los hom “half dood”.
  • Toe die priester verby kom, was hy nie seker of die man werklik dood was nie, en die wet het hom gekeer om aan die liggaam van ’n dooie te raak. Sien Levitikus 21:1. Daar was ook die kans dat hierdie ’n lokval kon wees, net soos ons in ons tyd sien, en die priester wou nie die risiko neem nie. Hy stap toe aan die anderkant van die pad, verby die man in die pad. Dit is die gemaklike opsie.
  • Die Leviet doen dieselfde. Beide die priester en die Leviet het die wet geken, maar ons kan dalk redeneer dat hulle ten minste kon probeer om hulp aan te bied deur te kyk of die man nie dalk leef nie. Die Leviet kies ook die gemaklike opsie.
  • Die Samaritane was ’n gehate nasie onder Israel. Hulle was van gemengde bloed (Assiries) en het nie in Jerusalem aanbid nie, maar op die berg Gerísim. Sien Deuteronomium 11:29 en Johannes 4:20. Gaan doen bietjie navorsing oor die Samaritane. Hierdie Samaritaan was op reis, en dit is belangrik om te onthou. Sy reis word onderbreek deur wat nou gaan gebeur. Waar die priester en Leviet weg van die man geloop het, aan die ander kant van die pad, het die Samaritaan na hom toe gekom en sodoende die hoofkarakter van die verhaal geword.
  • Kyk na die besonderhede van die verhaal:
    • Hy het na die man toe gegaan. Anders as die ander twee wat weggestap het, het hy nie gedink aan sy eie veiligheid nie, nog minder aan wette oor dooies. Waar die priester en die Leviet nie wou kyk of die man dalk nog lewe nie, en dus sou hulle nie die wet oortree het nie, het hierdie man dadelik opgetree en uitgereik, sonder om aan die gevolge te dink.
    • Hy het die man se wonde verbind. Waarmee het hy die wonde verbind? Dit is onwaarskynlik dat hy ’n mediese tas sou gehad het, en moes moontlik van sy eie klere opskeur.
    • Hy het olie en wyn gebruik om die wonde te behandel, alreeds duur produkte wat dalk gedurende sy reis nodig sou wees. Nie net het hy wyn en olie gebruik nie, hy het dit op die wonde gegooi – en waarskynlik alles gebruik om te verseker dat die wonde versorg is en nie septies word nie.
    • Hy laai die man op sy eie pakdier, waarskynlik ’n donkie of ’n muil, en stap langs die dier na die herberg toe.
    • By die herberg (hotel of gastehuis) het hy self verder vir die man gesorg. Ons lei hieruit af dat hy ten minste een kamer moes bespreek, wat nie deel van sy reisplan was nie, en het daar gebly tot die volgende oggend.
  • Die volgende dag moes hy sy reis voortsit, maar het die eienaar van die herberg twee pennings gegee vir verdere versorging. Die woord vir penning is denarius en twee pennings is dus twee denarii, twee dae se loon in daardie tyd. Die man was so erg aangeval dat hy nie die volgende dag alreeds na sy tuiste kon terugkeer nie. Die Samaritaan bied ook aan om enige addisionele uitgawes te dek. Hy het dus baie meer gedoen as wat redelik verwag kon word, en dit vir iemand met wie sy mense nie oor die weg gekom het nie.
    • Die gewonde man se klere was gesteel en hy was van sy waardigheid gestroop.
    • Hy het verseker niks oorgehad nie. Hy kon nie self vir sy behandeling betaal nie en ook nie die Samaritaan vergoed nie.
    • Die man het geen identifikasie gehad nie.

Wat leer ons hieruit?

Jesus vra wie die regsgeleerde gedink het die gewonde man se naaste was. Kyk na sy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Dit is ’n kortaf antwoord sonder respek. Jesus het die weldoener as ’n Samaritaan geïdentifiseer. Die wetgeleerde is so vol van homself en haatdraend dat hy nie eers erkenning aan die Samaritaan se etnisiteit wil gee nie, en nog minder aan die slagoffer. Jesus se uitklophou is dít: Gaan doen jy net so. Dit is die uitdaging.

  • Praktiese optrede het meer beteken as die streng nakoming van die wet deur die priester en die Leviet. Hulle moes in elk geval eers vasgestel het of die man wel nog geleef het, maar het gerieflikheidshalwe ’n aanname gemaak ten einde nie betrokke te raak nie; ’n probleem in ons tyd ook.
  • Dalk is hierdie verhaal veel meer as net ’n insident op ’n gevaarlike pad. Dalk sê dit iets oor ons gesindheid teenoor andere. Watter kant van die pad stap ons – die weg van gerief en skoon hande, of die een wat opoffering vereis?
  • Jesus spreek duidelik kulturele vooroordele aan. Ras, geslag, en godsdiens het nie vir Hom saak gemaak nie. Hy was bekend daarvoor dat Hy met diegene bemoeienis gemaak het wie deur die gemeenskap verwerp is – tollenaars, belasting-invorderaars, vroue met twyfelagtige omstandighede, en mense met siektes. Hy het hulle almal op verskillende maniere genees en hulle lewens verander. Ons moet ook.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy