Bid vir jou stad: Bergbid 2022

Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 19 November 2022

Bid vir jou stad: Bergbid 2022

Bid vir jou stad: Bergbid 2022

Ons het hierdie naweek ons jaarlikse Bergbid vir Pretoria se noordelike voorstede gehou. As gevolg van die inperkings van die vorige twee jaar was hierdie die eerste geleentheid seder 2019. Die inisiatief het ten doel om gelowiges te mobiliseer om bymekaar te kom, ter wille van die stad en ons gemeenskappe. Ons glo dat die manier wat ons leef, ‘n impak het op diegene rondom ons in maniere wat ons nie altyd besef nie. Bergbid se fokus kom uit Jeremia 29:

5Bou huise en woon, en plant tuine aan en eet die vrugte daarvan; 6neem vroue en verwek seuns en dogters, en neem vroue vir julle seuns en gee julle dogters aan mans, dat hulle seuns en dogters baar; en vermenigvuldig daar, en moenie verminder nie; 7en soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê. – Jeremia 29:5-7

Sommiges sal dalk vinnig wil uitwys dat hierdie teks verwys na diegene wie in Babilonië was en nie op ons van toepassing is nie. Ek is egter van mening dat die Here vir ons ‘n spesiale boodskap het met betrekking tot ons stede en ons gesindheid. Ons kan ‘n verandering in ons omgewing maak deur ons eie optrede.

Dink aan jou eie stad vir ‘n oomblik. Hou jy daarvan om daar te bly? Is daar misdaad? Is die mense in jou stad meesal gelukkig of nie? Wat sou jy wou sien moet in jou stad en woonbuurt verander? Wie gaan dit doen? Dit is maklik om altyd van ander te verwag om dinge te doen, maar waarom neem jy nie die inisiatief en word deel van die oplossing nie? Kom ons kyk wat God van sy mense in ‘n vreemde land verwag het. Dink net hoe effektief dit in jou eie stad kan wees.

Fisiese betrokkenheid

Begin by vers 5:

  • Bou huise – voortgesette ontwikkeling en nie afbreking nie
  • Leef in die huise – voortgesette betrokkenheid
  • Lê tuine aan – die verbetering van die omgewing
  • Trek voordeel uit die oes – die gevolg van ons werk
  • Trou – leef normaal en nie asof jy more gaan trek nie
  • Kry kinders – groei jou familie
  • Laat jou kinders trou – laat die gemeenskap vooruit gaan

Geestelike betrokkenheid

Begin by vers 7:

  • Soek die vrede van die stad – vind maniere hoe die stad en die gemeenskap baat kan vind as daar vrede is
  • Bid vir die stad – jou geestelike verantwoordelikheid

Die gevolg

  • As daar vrede in die stad is, sal jy dieselfde ervaar

Wat ons hier sien is ‘n direkte opdrag van God af vir indiwidue. Van ons word verwag om die verandering te wees wat ons dikwels dink andere moet wees. Wanneer indiwidue saamstaan en mobiliseer, gebeur buitengewone dinge.

Ek het vroeër in ‘n gemeenskap gewerk waar, as jy hulle vra wie vir hulle omgewing verantwoordelik is, hulle altyd die vinger na die regering wys. Ek het aan hulle verduidelik dat dit nie is hoe dit werk nie. In daardie land betaal niemand belasting nie, en word alles vir hulle gegee. Om hierdie rede waardeer hulle eenvoudig nie wat hulle het nie en word alles altyd iemand anders se probleem. Hulle is in ‘n gemaksone waar hulle altyd ander blameer vir die omstandighede. Of my boodskap dat hulle bietjie moet begin om verantwoordelikheid aan die dag te lê, enige impak het, weet ek nie, aangesien ek nie meer daar woonagtig is nie.

Eerder as om altyd ‘n vinger na iemand anders te wys, waarom neem jy nie kennis van die drie vingers wat na jouself terugwys nie?

Slotsom

Wat kan ons as gelowiges doen om ons gemeenskappe ten goede te verbeter? Eerstens, onthou dat dit by jou begin. Hou jy by die wet, of neem jy kortpaaie omdat jy dink niemand jou sien nie? Wat is die toestand van jou onmiddellike omgewing? Onthou die les van Nehemia 3 – elke persoon het ‘n afgebakende gebied teenoor sy huis gekry waar hy die muur moes bou. Hy was nie verantwoordelik vir die werk van ander mense nie. Op dieselfde manier het jy ‘n verantwoordelikheid om in jou eie omgewing te begin, sonder om jou te bekommer oor wat die ander ou doen. As ek in my omgewing rondloop, is ek beïndruk met die mooi tuine, en dan duik ‘n huis op wat erg verwaarloos is. Sy hart lyk seker soos sy erf.

Kom ons neem dinge verder. Bid jy ooit vir die vrede van jou stad? Dit is maklik om te dink dat jou gebed nie krag het nie, en nie die misdaad vlakke kan verminder nie. Dit kan, en dit doen:

3Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; 4want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, - 2 Korinthiërs 10:3-4

Misdaad en ander negatiewe elemente is altyd deur die bose gedryf. Ons gebede is die wapens wat ons het en selfs al leef ons in die vlees, is ons gebede op ‘n geestelike vlak, en hulle werp die duiwel se vestings neer en vernietig dit.

Dink daaraan om vir jou omgewing te bid. Begin by jou huisgesin. Maak ‘n lys van aspekte wat jy dink aandag nodig het. Is daar items op die lys wat jy kan verander? Doen dit dan. Wat daarvan as jy vir jou ongeredde bure begin bid? Hulle het die liefde van God net so nodig nou as wat jy dit voor jou redding nodig gehad het.

Kry ander om deel te word van ‘n groter inisiatief om saam te bid. Jy sal verbaas wees oor die resultate wanneer God intree, as gevolg van jou volgehoue gebede. Jy hoef nie na die berg toe te gaan om te bid nie. Begin in jou eie huis. Miskien groei dit wel tot ‘n Bergbid! Vir meer inligting oor Bergbid 2022 en 'n kort verslag, kliek hier en gaan na die nuwe Noordvandieberg webwerf.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy