Johannes Hoofstuk Drie: T-hemp en tatoeer merk

Leef Christus in hierdie wêreld; wen Hom vir die ewigheid
Verlede week is die Engelse weergawe van die webwerf opgedateer, en die Afrikaanse weergawe volg binnekort. Soos ek op die webwerf se hoof bladsy genoem het, is die doel om die Johannes Hoofstuk Drie webwerf in lyn te bring met die besigheid se webwerf, aangesien beide eintlik een doelstelling het en die een nie sonder die ander bestaan nie. Dit is die aard van my besigheid – ek sal die Naam van Jesus Christus deur my besigheid en interaksie met mense verkondig. Dit is nie ‘n opsie nie, maar ‘n moet. Ek moet Jesus Christus op die markplein verkondig.
Die nuwe webwerf het ook ‘n nuwe voorblad foto, en hierdie foto is die fokus van hierdie week se les. Dit wys ‘n man wat baie gefokus na die omgewing voor hom kyk, soos jy in die foto hierbo kan sien. Hy dra ‘n swart T-hemp met die teks “Jesus is King”. Wat my van hierdie foto aangegryp het is dat hier duidelik ‘n persoon is wie uiterlik getuig van dit wat in sy hart aangaan. Hy blyk die teenoorgestelde te wees van dit wat ons dikwels as “Christen” beskou – hy is duidelik baie fiks, ‘n gimnasium ou, en uitdagend op ‘n mooi manier. As jy gedink het dat hierdie les sou gaan oor die gebruik van tatoeëer merke, dan is jy verkeerd. As jy mooi na sy linkerarm kon kyk, sou jy die volgende sien, in Duits: Philiper 1:21.
21Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. – Filippense 1:21
Ons Christene is soms so krities oor ander mense. Ons is geneig om ‘n idee te vorm oor hoe ‘n Christen moet lyk en moet wees dat ons min ruimte laat vir enige ander idees. Hierdie foto het my perspektief op ander mense permanent verander. Hier is iemand wie nie net glo in dit waarvoor hy staan nie, maar dit in die openbaar verkondig. Hy gaan nooit van die tatoeëer merk kan afstand doen nie en het duidelik die Here gedien nog voor hy dit laat aanbring het. Wat is die boodskap wat hy verkondig? Daar is twee dele.
Want vir my is die lewe Christus
Hierdie behoort die fokus van elke gelowige te wees. Ons fokus egter dikwels so op die lewe in die hemel, dat ons vergeet dat ons nou in vlees en bloed leef en dit in hierdie tyd is dat ons mense vir die Koninkryk moet wen en hulle hemelwaarts moet lei. As ons eers dood is, is dit te laat. Wat Paulus beskryf is ‘n lewe wat so radikaal verander is, dat hy slegs op Jesus Christus fokus en niks anders nie. Ons word getransformeer deur te word in Wie en wat ons glo. Ons lewe is Christus. Hoe is jou lewe? Leef jy soos Hy dit van jou verwag te midde van ‘n sekulêre wêreld, of wys jy dit net terwyl jy in die kring van gelowiges is?
- Ek kan nie Christus leef en nie ander van Hom vertel nie – die evangelie moet uitgedra word, ongeag die koste – Romeine 10:14.
- Ek kan nie Christus leef en nie soos Hy leef nie – ek moet ‘n voorbeeld van Hom op aarde wees – Johannes 13:15.
- Ek kan nie Christus leef maar op dieselfde tyd deur die wêreld se siek standaarde beheer word nie – ek moet Christus leef soos Hy geleef het, en sy standaarde – Romeine 12:2.
- Ek kan nie Christus leef maar ook die teenoorgestelde van Christus akkommodeer nie – my lewe moet slegs voorsiening maak vir Jesus, die Koning – Mattheus 6:24.
en die sterwe wins.
Die tweede deel blyk aan te dui dat dit beter is om te sterf as om te leef. Dit is die aanvaarde siening in hierdie konteks as ons die volgende twee verse lees (Filippense 1:22-24). Hier dui Paulus aan dat hy eerder sal wil sterf en hemel toe gaan maar hy besef dit is beter vir diegene rondom hom dat hy leef. Ons moet egter dieper in die vers kyk. Om te sterf beteken nie hier bloot om op te hou asemhaal nie. Dit beteken eerder om die ou mens af te sterf terwyl ons in ‘n nuwe lewe groei. Die wins is dat Christus ten volle in ons leef nadat ons in onsself gesterf het. Paulus beskryf dit so aan die gemeente in Galasië:
20Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. – Galasiërs 2:20
Omdat ek die ou lewe afgelê het toe ek die brutale waarheid van die kruis van Christus aanvaar het, leef ek nou in Hom, en Hy leef in my. Die lewe wat ek nou leef, leef ek in gehoorsaamheid aan Hom wie my liefgehad het. Ek is gekruisig in die sin dat my ou identiteit, die mens wie ek was, nie meer leef nie, maar die nuwe skepsel (2 Korinthiërs 5:17).
Deur vir die self te sterf in hierdie lewe, wen ek Christus. Terwyl ek in hierdie lewe is, is Hy my fokus, en Hy is my lewe (Kolossense 3:4). Wat is die wins? Dalk is dit nie veel in terme van wat ons deur die lens van die wêreld sien, en sy standaarde nie. Ek het ‘n paar goed verloor toe ek die dag die waarheid van die evangelie my eie gemaak het – vriende en familie het my die rug gekeer (Mattheus 10:34-36); ek is definitief nie so ryk soos ander rondom my nie, omdat geld nie vir my belangrik is nie (Mattheus 6:28-33); en baie mense se opinie oor my het verander (Johannes 15:18-25). Maar ek het Christus as wins, en dit is al wat saak maak. Soos wat ek in my getuienis geskryf het, die dag toe ek die waarheid van die evangelie my eie gemaak het en gered is, het alles wat voor dit gebeur het, onbelangrik geword.
Uiteindelik is die fisiese dood die laaste aksie wat my van hierdie tydelike lewe losmaak, en my in Sy ewige heerlikheid in neem (2 Timotheüs 4:18). Hierdie, volgens Paulus, is by verre die beste opsie (Filippense 1:23). Ek moet egter geen tyd mors in hierdie lewe nie en elke geleentheid gryp om ander van God se liefde vir ons te vertel.
Slotsom
Een enkele foto het my hele uitkyk op Christenskap verander. Ons moet verstaan dat tye verander. Ons aanbid nie meer in die kerk soos ons dit jare gelede gedoen het nie. Die nuwe generasie doen dinge anders. Soos wat ons ouer word, sien ons hierdie nuwe generasie van gelowiges wie na vore kom en posisies oorneem wat ons tans beklee. Eerder as om in stilte jaloers daarop te wees, moet ons as die ouer garde ons ervaring deel en die jonger generasie mentor om ons posisies oor te neem en die Liggaam van Jesus te laat groei, lank nadat ons nie meer hier is nie. Hierdie jonger mense is net so passievol oor Jesus as wat ons is, dalk net op ‘n ander manier. Ek gaan dalk nie ‘n tatoeëer merk laat aanbring nie, en dalk ook nie ‘n T-hemp met ‘n teksvers dra nie. Dit is net nie hoe ek is nie. Dit beteken egter nie diegene wie dit wel doen is verkeerd nie. Ek dank eerder die Here vir hulle ywer.
In die gemeente waar ek is, is daar ‘n pragtige gees. Meeste van ons het net een doel – om vir Christus, en nie vir onsself nie, te leef. As ek rondom my kyk op ‘n Sondagoggend, sien ek toegewyde en passievolle mense wie dieselfde sal wees Maandag, Dinsdag, en die res van die week. Ten spyte van die veranderinge in ons wêreld, sal niks verhoed dat die evangelie verkondig word nie, selfs met T-hemde en tatoeëer merke!