Oorkom die COVID-19 frustrasie

Wat jy gedurende die staat van inperking kan doen
Isolasie prosedures geïmplementeer om mense tydens die pandemie te beskerm, het positiewe sowel as negatiewe gevolge gehad. Tans verskil die staat van isolasie van land tot land, dog feit is, alle mense in die wêreld is of was onderwerp aan een of ander vorm van isolasie. Aanvanklik was dit groot pret om tuis te bly en om van die huis te werk. Maar, soos die weke omsit in maande, het die negatiewe reaksies kop uitgesteek. Hier volg 'n bespreking van 'n paar aspekte, asook wat die Skrif daaroor sê.
Sosiale distansiëring
Vir elkeen wat binne 'n hegte gesinsverband leef, of wat van sosiale kontak hou, is hierdie distansiëring en isolasie 'n nagmerrie. Dit is ook kontra normale optrede om geïsoleerd te wees van jou huismense, vriende en familie. Nog erger is die sosiale implikasies wat sulke reëls inhou: geen hospitaalbesoek aan 'n geliefde; geen kuier by 'n Ouma of Oupa in 'n ouetehuis, en geen fisiese kontak met vriende, familie - nie eers 'n drukkie wanneer dit benodig word nie. Mense is nie veronderstel om in isolasie te funksioneer nie.
Wat is die Bybel se siening oor sosiale distansiëring? Levitikus 13:45-46 vertel van die melaatse persoon wat nadat die priester hom gediagnoseer het, hy weens die aansteeklikheid van die vel toestand in isolasie moes leef buite die laer. Erger nog, indien die persoon naby mense kom, moes die mense ander waarsku dat die aangetaste persoon onrein is.
Die Skrif het streng sosiale distansiëring voorgeskryf. 'n Melaatse persoon moes sosiale afstand hou van familie en ander mense . Klink amper soos die huidige maatreëls wat van krag is in skole, besighede en algemene sosiale omgang. In die Bybelse tyd was dit net erger: melaatses moes in afsondering leef tot hulle genees is, of te sterwe gekom het. Selfs as die wind gewaai het, moes hulle 'n afstand van 50m hou van 'n ander persoon. Hierdie was die enigste wyse waarop die verspreiding van aansteeklike toestande beheer kon word.
In die Bybel se tyd was bogenoemde vorm van sosiale distansiëring, deel van die ou bedeling. Jesus se koms na die wêreld het dit verander:
1En toe Hy van die berg afkom, het groot menigtes Hom gevolg: 2en daar het 'n melaatse man gekom en voor Hom neergeval en gesê: Here, as U wil, kan U my reinig. 3Daarop steek Jesus die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil: word gereinig! En dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig. 4En Jesus sê vir hom: Pas op dat jy dit aan niemand vertel nie, maar gaan vertoon jou aan die priester en offer die gawe wat Moses voorgeskrywe het, tot 'n getuienis vir hulle. – Mattheus 8:1-4
Hierdie melaatse het die reëls van die ou bedeling verontagsaam: hy loop na Jesus toe; weens die talle mense teenwoordig, is hy desperaat om by Jesus uit te kom. Hy wou genees word. Hy weet dat Jesus in staat is om hom te genees. Jesus steek Sy hand na die man uit - sosiale distansiëring word verontagsaam - en genees die man. Die voorwaarde is dat die man homself aan die priester moes vertoon, soos bepaal deur die wette van Moses.
In hierdie tyd van sosiale distansiëring, is nou die tyd dat elkeen hulle na Jesus te wend, tyd saam met Hom spandeer en sodoende innerlike genesing ontvang.
Fisiologiese gevolge
Om ingeperk en ingekluister te wees binnenshuis, het ook sy negatiewe gevolge. Die gebrek aan natuurlike sonlig het tot gevolg 'n afname in die absorpsie van Vitamiene D. Enige persoon wat woon in die noordelike halfrond, ken die gevolge van 'n Vitamine D te kort. Die gebrek aan natuurlike sonlig het nie net fisiese gevolge vir die liggaam nie, maar lei ook tot sielkundige gebreke. 'Mood lamps' boots natuurlike sonskyn na, en is die enigste manier hoe mense lang, donker en koue winters in die noordelike halfrond oorleef.
Selfs in die Bybel word die aspek van sonlig aangeraak:
2Maar vir julle wat My naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal. – Maleagi 4:2
Sielkundige gevolge
Elke persoon se belewenis van die huidige sosiale distansiëring is anders. Sommige mense sien dit op hulle weegskale, want die yskas is baie nader aan jou tuis, as by die kantoor. Ander beleef 'n gevoel van depressie, moedeloosheid en voel of hulle net kans sien vir die volgende dag nie - gewoonlik is dié die gevolg aan direkte sonlig, indirek 'n afname in jou liggaam se opname van Vitamiene D. Al hierdie tekens is bewys daarvan dat die brein nie kan tred hou met die veranderde omstandighede nie.
Slaaploosheid, finansiële stres, werkloosheid en 'n gevoel dat jy oorbodig is, is nog reaksies van die brein op hierdie abnormale situasie. Die enigste manier om jouself te dokter, is om Dr Sonskyn te raadpleeg. Dus, spandeer soveel tyd as moontlik, waar toegelaat, in die buitelug en in die son. Vir meer inligting oor die voordele van Vitamiene D, raadpleeg die webwerf www.thesleepdoctor.com.
Die Bybel verwys ook na slaap en die rol wat slaap in 'n mens se lewe speel:
5Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die Here ondersteun my. – Psalm 3:5
Ongeag al die dinge wat in David se lewe gebeur het, het hy nie aan slaaploosheid gely nie. Hy het geglo dat wanneer hy gaan slaap, God die wag oor hom hou. Hy het nie net geslaap nie, sy liggaam was in staat om te herstel van die dag se gebeure.:
8Laat my u goedertierenheid in die more hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. – Psalm 143:8
Dawid het in die oggend wakker geword met vreugde, want hy het op die Here vertrou vir 'n nuwe dag, asook God se leiding deur die nuwe dag. Die Skepper van alle dinge weet wat ons elke dag nodig het.
Lusteloosheid/verveeldheid
Inperking en die staat van isolasie veroorsaak dat mense verveeld raak en lusteloos word. Nou is die tyd wat jy nuwe dinge moet probeer. Kom uit jou groef en doen daardie een ding wat jy nog altyd oor gedroom het, of dit nou die aanleer van 'n nuwe taal is, of die lees van 'n spesifieke boek, doen net iets om die ongebalanseerde gevoel van verveeldheid teë te werk.
Selfs oor hierdie aspek spreek die Bybel hom uit:
23En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, 24omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang, want julle dien die Here Christus. Kolossense 3:23-24
Ter opsomming: verveeldheid is die bron van sonde; werke bring beloning - dus vind iets om jouself mee besig te hou tydens sosiale distansiëring.
Blootstelling aan die media
Aanvanklik het alle mense sosiale media aangehang om die nuutste oor die pandemie te weet. Dog, die oor aanbod van negatiewe nuus, dode syfers wat daagliks styg, en die onbeholpenheid van regerings in die tyd, doen meer skade as goed. Gou was dit ook duidelik dat regerings die pandemie begin misbruik het om vals inligting die wêreld in te stuur en so mense te mislei. Satan gebruik misleiding as manier om mense te laat twyfel. Behou balans, fokus op die positiewe en ken jou Bybel.
Jy as leser mag verstom staan oor die feit, dat die Bybel ook die aspek van misleiding aanspreek.
8Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is – watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. – Filippense 4:8
- Waar - Hoeveel van wat jy in televisie of in die media lees is werklik waar? Meeste inligting is onwaar en kan nie geglo word nie.
- Eerbaar - hierdie woord omvat die betekenis 'eerlik’. Is mense eerlik? Met elke verkiesing in 'n land, word menige beloftes deur die kandidaat gemaak - hoeveel van hierdie beloftes het in vervulling getree, na die persoon verkies is? Dus weer die vraag: Is mense eerlik met ander?
- Regverdig - Hoeveel van wat jy sien in die media, optrede en gebeure, is regverdig? Die hoof doel tans is selfverryking, nie of 'n situasie of optrede van iemand regverdig is nie.
- Rein - mense hou nie daarvan om op televisie te kyk na programme wat eerlike waardes aanhang nie. Nee, die tendens is dat alles wat vals, verdraai en 'n vervlakking van waardes uitbeeld - dit verkoop. Waarom kyk na a Christelike fliek, as jy kan kyk na 'n program waar misleiding en verval die bo-toon is.
- Lieflik - wanneer het jy laas 'n mooi artikel gelees, of 'n mooi fliek gesien? Baie mense verkies die bloeddorstige, moorddadige en gewelddadige aspekte in flieks. Kyk net hoe lyk die video speletjies waarmee kinders hulle vir ure kan besig hou.
- Loflik - hou gerus die media dop en kyk wat is die waardesisteem wat mense aanhang wat gebeeldsend word. Die persone met integriteit, waardes in inbors word nie toegelaat om hulle positiewe beeld voor te hou nie. Die boelie, skurk en misdadiger, konkelaar en manipuleerder is die hoofkarakter in televisie programme.
In die laaste deel van die teks, word verwys na die waardes: deug en lof. Dit is elke persoon se taak om dit wat aan hom voorgehou word, hetsy in die media, hetsy in persoon, te evalueer. Ondersoek die situasie, evalueer die inligting, kry die feite - moet nie net alles aanvaar wat vir jou opgedis word in die media nie. Word 'n aktiewe rolspeler om dit wat die wêreld aan jou voorhou, te meet aan die Skrif se waardes.
Jesus het gekom pm lewe in oorvloed te gee:
10Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat julle lewe en oorvloed kan hê. – Johannes 10:10
Laastens, tydens hierdie tyd van sosiale distansiëring, moenie jou tyd mors op dinge wat geen waarde het nie. Lees 'n goeie boek, beoefen 'n nuwe stokperdjie, begin oefen, kyk 'n goeie fliek of bak daardie beskuit wat jy nog altyd wou! Laat die goed-voel hormone vir jou werk.