Dalk moet jy mooi besin

Reg aan die einde van 2024 het ek ‘n boodskap gepubliseer met die titel “Hoe het ons tot hier gekom?”. Miskien moet jy dit weer gaan lees voordat jy verder gaan. Die eerste deel van 2025 was besig, vandaar dat ek nie boodskappe so gereeld geplaas het nie, as wat die geval in die verlede was. Hier is egter iets wat jy as aanvang vir die jaar kan gebruik selfs al is een kwart van 2025 reeds verby.
Ons lees in die boek Josua hoe Israel die beloofde land ingegaan en die verskillende dele verower het. Josua het hulle gelei, en hy was ‘n uitnemende leier. Hy weet egter dat sy einde op hande is en hy gee finale voorskrifte aan die volk. Bestudeer Josua 24. Die opsomming daarvan is as volg:
- Josua 24:1-12 – God het die Israeliete gelei, vanaf Abraham tot die uittog uit Egipte, tot in Kanaän. Hier het God hulle vyande verslaan en die land in hulle hand gegee.
- Josua 24: 13 – Israel het nie hiervoor gewerk nie. Hulle het ‘n land geërf waaraan ander gebou het en hulle nou die vrugte van pluk.
- Josua 24:14-15 – Josua gee vir hulle die opdrag om die Here te vrees en die afgode in hulle midde te verwyder. Hulle het egter ‘n keuse, en hulle moet dit uitoefen.
- Josua 24:15 – Josua stel dit duidelik waar sy fokus is: Ek en my huis, ons sal die Here dien.
- Josua 24:16-33 – Ons lees dat die nasie die Here dien, na die dood van Josua. Alles lyk goed.
Dit is egter nie lank nie, of die krake begin wys. Bestudeer Rigters 1. Lees sommer die hele boek, dan kry jy ‘n goeie idee van die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid. Om die land in besit te neem, kry elke stam ‘n gedeelte waar hulle gaan bly. Hulle moet egter eers alles uitroei en skoonmaak. Niks van die kultuur van die huidige inwoners moet oorbly nie. Helaas, Israel dink hulle weet beter. Eerder as om die uitverkore volk te wees, vermeng en hoereer hulle met die plaaslike bevolking. Hoe meer tyd verloop, hoe meer mense word gebore wie nie die uittog uit Egipte meegemaak het nie. Hulle ken nie die God van Abraham, Isak, en Jakob nie, en is goddeloos soos die heidene rondom hulle.
Hulle kry rigters om oor hulle te heers. Nie een van die rigters van wie ons lees, is eintlik leiers nie. Elke volgende rigter is erger as die vorige een, tot by Simson. Hier was iemand wie gladnie vir God en sy gebod omgegee het nie. Hy moes die prys daarvoor betaal en is ‘n perfekte voorbeeld van iemand wie soveel potensiaal gehad het, maar trots en ‘n eie wil het dit nooit verwesenlik nie. Intussen sien Israel dat die nasies, wie hulle veronderstel was om uit te wis, konings het. Israel soek nou dieselfde. Kom ons kyk in 1 Samuel 8 wat gebeur. Die oudstes soek ‘n koning. Samuel bid tot die Here en Hy laat toe dat die volk ‘n koning kry, al was dit nie sy perfekte wil nie. Inteendeel, Hy weet dat die volk Hom verwerp het (1 Samuel 8:7). Hoe Samuel ook al stry, die volk wil nie luister nie (1 Samuel 8:19). Die Here gee toe dat hulle ‘n koning kry (1 Samuel 8:22).
Wat het hierdie geskiedenis met my en jou te doen?
Bogenoemde lang inleiding skets die agtergrond. Ons het vandag niks verder gevorder as Israel van ouds nie. Ek word daagliks uitgedaag om die waarheid aan mense te stel. Ek hoor van mense wie lang trane huil oor die krisisse wat oor hulle kom. Moet my nie verkeerd verstaan nie: net omdat ons die Here dien, beteken nie dat ons nie krisisse sal beleef nie. Diegene wie eenvoudig nie Josua 24:15 wil navolg nie, gaan ‘n groter prys betaal. Om die Here te dien is nie altyd maklik nie. Dit verg dat ons eerstens die eie ek sal laat vaar. Johannes die Doper het dit so gestel:
30Hy moet meer word, maar ek minder. – Johannes 3:30
Johannes weet dat hy in homself minder moet word, sodat Jesus meer in hom gestalte kan kry. Soos wat ek met mense te doen het, hoor ek dikwels dieselfde refrein uit hulle monde: “Toe ek nog...”; “Ek wil nie...”; en baie ander voorbeelde. Hulle leef vanuit hulle verlede, in die hede. Ek noem hulle “tweks”. Niks het verander nie. Dan wonder ek waar het hierdie persone van die pad af geloop dat Johannes 3:30 niks vir hulle beteken nie.
Ek ervaar dikwels hoe gelowiges een oomblik nog met trane hulle sonde bely, en die volgende oomblik gryp hulle na die wêreld en sy begeerlikhede. Een oomblik gee hulle uitvoering aan Josua 24:15, en die volgende is hulle terug in die wêreld (Rigters 6:1; 8:33-34; en 9:6).
Dalk is jou krisisse vandag die gevolg van jou eie sonde en ongehoorsaamheid. God het alreeds aan jou die ewige lewe gegee deur jou verhouding met Jesus Christus. Jy is in die beloofde land, maar God verwag van jou om jou huis en omstandighede skoon te maak. Jy kan nie twee stelsels dien nie. Die apostel Johannes beskryf dit as volg:
15Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. 16Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. – 1 Johannes 2:15-16
Die wêreld is in vryval. Die kerk, wat die voorbeeld moet wees, doen nie veel daaraan nie maar neem eerder lustig daaraan deel en omarm ‘n wêreldse gesindheid. Waarvan Johannes hier praat, is nie die wêreld as die skepping nie, maar ‘n wêreldse optrede en ‘n keuse van kompromie. Wat ek vandag in die kerk ervaar is meesal mense wie nie teen die stroom van sekularisasie en eie-belang beweeg nie, maar gemaklik stroomaf dryf en net op hulself fokus (die eie-ek). Paulus spreek dit aan in Romeine 12:2 en in 2 Timótheüs 4:3-4. Lees dit gerus.
Die ware gelowiges wie nog oor is het die taak om teen die stroom van ‘n wêreldse gesindheid te beweeg. Is jy een van hulle? Dit is tyd dat gelowiges belangrike besluite moet neem. Een van hierdie is die kwessie van Bybelstudie. Ek merk hoe Sondag na Sondag daar nie meer “uit die Woord van die Here” gelees word nie, maar bloot stories en motiverings praatjies vertel word. Gaan jy toelaat dat jou eie geestelike lewe, een wat lewe en oorvloed (Johannes 10:10) moet wees, groei, of is dit beter om in ‘n geestelike woestyn rond te dwaal, soos Israel vir 40 jaar rondgedwaal het, slegs ‘n paar kilometer van hulle bestemming af? As jou predikant nie die Woord suiwer verkondig nie, moet jy mooi besin of dit nog die moeite werd is om daar dienste by te woon. Doen egter self moeite en bestudeer die Woord.
Kom nou, ons is nie meer geestelike babas nie. Paulus moes met hierdie selfde probleem stoei. Sy werk om die gemeente in Korinthe te stig, het goed aangegaan totdat hy weg is. Toe verval die mense maar weer in die gebruike van die heidene in die stad. Lees 1 Korinthiërs 2:14 – 3:3. Ons het nie al hierdie jare as gelowiges gestap net om nou op te gee nie. Soos wat die tyd uitloop, word die opdraande steiler en pas vinniger. Dit is in tye soos hierdie waar jy as gelowige jou in die Woord moet verdiep en die wêreld en sy begeerlikhede agterlaat. Jy moet standpunt inneem soos Josua. Jy, as die hoof, en jou gesin moet saam die Here dien. Jy is egter verantwoordelik om die leiding te neem. Ek en my gesin, wat nou veel kleiner is vandat die kinders die nes verlaat het, sal die Here dien, ongeag die prys wat betaal moet word. Wat van jou? Die eindstreep is in sig. Jy kan nie nou opgee nie.