Die verval van die Kerk

Dokumentasie Geplaas op Dinsdag, 31 Desember 2024

Die verval van die Kerk: Hoe het ons tot hier gekom?

Paulus het vir Timótheüs hieroor gewaarsku

Dit is die laaste dag van 2024. Ek kyk terug op wat ‘n baie moeilike jaar was, een met geweldige uitdagings. Doelwitte wat ek in Januarie al vir myself gestel het, het eenvoudig nie gerealiseer nie. Dit het later gevoel asof daar net nie genoeg vingers was om al die gate in die emmer toe te druk nie. Nou kyk ek egter terug, en nadat ek hoor wat met andere gebeur het, weet ek een ding: die Here het my nie in die steek gelaat nie. Inteendeel, Hy het my staande gehou en, toe ek nie meer kon loop nie, my gedra.

So ‘n paar dae terug deel my vrou met my iets oor een of ander gedenkdiens wat vir ‘n afgestorwe leraar gehou is. Sy noem dat iemand die boodskap vir haar aangestuur het. Sy was geskok om te hoor hoedat die Naam van die Vader, die Seun, of die Heilige Gees nie een keer genoem is nie. Alles in die boodskap het gegaan oor die self en satanies-gedrewe New Age optrede. Ek het toe self inligting hieroor gaan soek. Ek wil nie die duiwel een aks voordeel laat trek nie en gaan nie ‘n skakel op my webwerf plaas nie, maar wat ek vir jou wil vra, is om te gaan soek vir “Renaissance Gemeente Lynwood”. Kyk rond en dan sal jy verstaan waaroor dit gaan. Moenie te veel tyd hiermee mors nie.

My boodskap is die volgende: Hoe het ons tot hier gekom dat ‘n persoon (en daar is baie van hulle) sy rug op die evangelie sou draai en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang? Waar het ons opgehou om ‘n suiwer maar eenvoudige evangelie te verkondig en te glo? Voordat ek die teks wat ek nou na verwys het, gaan aanhaal, hier is nog ‘n paar ander voorbeelde van wat in ons kerke gebeur. Ek verwys nie eers na kerke wat duidelik sektariese splintergroepe is nie, maar gevestigde denominasies:

  • “Ons praat nie oor Openbaring nie” – dalk eenvoudig ‘n gebrek aan kennis om die Woord reg te interpreteer. Ek dink meeste predikante vandag ken nie die beginsels van Homelitiek (preekkunDe); Hermeneutiek (algemene interpretasie van Woord teks) en Eksegese (kritiese interpretasie van 'n gekose teks) nie;
  • Tien maniere om ‘n beter jy te word; nege maniere om suksesvol te word; agt maniere om alles te kry wat jy begeer, en sewe maniere om al jou geld aan die kerk te gee voordat jy 'n seën kan ontvang (presies die "Prosperity Gospel" van die Word in Faith Beweging) – alles fokus op myself;
  • Swak parafrases van twyfelagtige vertalings van die Bybel word die standaard in die kerk, dit is nou wanneer daar wel uit die Bybel gelees word – los jou Bybel by die huis en bring eerder jou koffie in die kerk in; en
  • “Ons is almal op ‘n “journey” – so asof daar nie ‘n behoorlike Afrikaanse woord vir “lewensreis” bestaan nie. 'n Reis waarheen? Van wat ek hierdie jaar gesien het, is daardie reis een wat direk afstuur na die verdoemenis.

Ek kan aangaan en nog baie ander voorbeelde aanhaal, maar kom ons fokus op die Woord:

1Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 2deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, – Timótheüs 4:1-2

Kom ons analiseer (eksegese) die teks. Indien ons rondom ons kyk, kan ons na aanleiding van dit wat gebeur, sonder huiwering sê dat ons in die laaste tye is. Wat gebeur in hierdie tye? Sommige (nie almal nie) word afvallig van die geloof en keer hulle rug daarop. In die plek van die geloof loop hierdie mense agter verleidende geeste aan (valse leraars) en hang leringe van duiwels aan (New Age). Hierdie mense doen dit deur te luister na vals leraars. Paulus beskryf dit in sy tweede brief aan Timótheüs as volg:

1Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: 2verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. – 2 Timótheüs 4:1-4

Timótheüs word gemaan om vyf dinge te doen:

  1. Hy moet die Woord verkondig;
  2. Hy moet dit altyd doen, of die tyd reg lyk of nie;
  3. Hy moet valse leringe weerlê;
  4. Hy moet diegene wie vals leringe aanhang bestraf; en
  5. Hy moet die gelowiges vermaan om by die ware Woord te bly, nie hulle weergawe daarvan nie.

Waarom moet Timótheüs hierdie vyf dinge doen? Want daar sal ‘n tyd kom, en vir ons tyd is dit hier, dat “hulle” die gesonde leer nie sal verdra nie. As jy iets nie kan verdra nie, beteken dit jy het ‘n aversie daaraan. Jy haat dit. So gaan baie mense, binne die “kerk”, die gesonde leer van die Woord haat. Die voornaamwoord “hulle” verwys terug na die goddelose mense wat in 2 Timótheüs 3:13 genoem word.

Die misleiding kom deur die feit dat hulle wil hoor wat vir hulle goed klink, nie dit wat hulle eintlik moet hoor nie. Hulle wil hoor dat God altyd regstaan om te reageer as hulle, hulle vingers klap. Van bekering en sonde belydenis is daar geen sprake nie. Om seker te maak dat hulle goed voel hieroor, kies hulle vir hulleself leraars wie sê wat hulle wil hoor, nie wat hulle moet hoor nie. Hulle kies nie net een nie, maar ‘n “menigte”, sodat die getalle oorwig die paar indiwidue wie nog die waarheid verkondig, oorweldig, en hulle raak van hierdie indiwidue ontslae, soos wat ek hierdie jaar ervaar het. So gaan hierdie mense die oor afkeer van die waarheid en fabels navolg, wat tot hulle geestelike dood gaan lei.

Ek lees dat een van die leiers van die gemeente wat ek hierbo genoem het, ‘n paar jaar gelede oorlede is. Volgens inligting beskikbaar het hierdie persoon hoë kwalifikasies gehad maar het gaan “leer” by duiwels. Baie duidelik het sy geleerdheid nie veel beteken nie, want die fokus was verkeerd. Sy aanhangers mag dalk van my verskil, maar daardie dag toe hy oorlede is, moes hy met ‘n skok ontdek dat hy na die verkeerde mense se raad geluister het, en op sy beurt weer ander mense mislei het. Dit was te laat vir hom. Daar is geen RIV op sy grafsteen nie, net ‘n afgryslike werklikheid van ‘n toekoms weg van die heerlikheid van God.

Waarheen nou vir my en jou?

Ek herhaal die vraag van die subtitel: Hoe het ons hier gekom? Die misleiding begin subtiel en jy kom dit nie agter nie – predikers verander ‘n bietjie hier aan die Woord, laat daar ‘n paar gedagtes uit, vervang sekere woorde met “neutrale” woorde om nie mense te beledig nie. Skielik is God as Vader nou ook sommer moeder, Jesus Christus is net een van baie weë, en jou sonde kan nie so erg wees dat ‘n bloedoffer daarvoor nodig was nie. Dit is heeltemal onvanpas in ons post-moderne samelewing. Siedaar, jy lees een van ons nuwe parafrases oor die Bybel.

Jy is soos ‘n padda wat stadig gekook gaan word. Ter wille van jou eie geestelike oorlewing, spring uit terwyl jy nog kan. Hou by die suiwer Woord van God en toets dit wat jy oral lees, aan die hand van die Woord. Het jy nie tyd daarvoor nie? Die duiwel is lief vir mense wie nie tyd het om aan die Woord te spandeer nie. So mislei hy jou. Die volgende jaar, 2025, gaan baie anders wees as sy voorloper, dalk erger. Trek God se wapenuitrusting aan as jy enige kans wil staan om dit te oorleef. Tye verander; God se Woord verander nooit nie. Dit is hoe jy hier uitkom.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy