Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 6 Februarie 2026

Daniël se 70 weke

Ons begin ons bespreking van Openbaring vêr terug in die boeke Nehemía, Esra, Jeremia, en Daniël. In laasgenoemde kyk ons spesifiek na twee hoofstukke: sewe en nege. Kom ons gesels eers kortliks oor die persoon Daniël. As jy Openbaring wil verstaan, moet jy in die Ou Testament begin. Dit kan nie anders wees nie.

Daniël: Agtergrond

  • Daniël was nie ’n profeet van beroep nie. Hy was ’n staatsamptenaar in ’n vreemde land. Hy het wel as ’n profeet opgetree tydens sy ballingskap.
  • Hy was deel van die eerste ballinge wat na Babilonië geneem is en deel van ’n uitgelese groep wie se doel was om die groeiende Babiloniese ryk te versterk.
  • Daniël dateer sy tyd in Babilon baie spesifiek. Sien Daniël 1:1. Dit was die jaar 605 vC. Die laaste datum wat hy aandui is die derde jaar van Kores, in Daniël 10:1.
  • Daniël is ’n tydgenoot van Eségiël en oorvleuel ook met die tyd van Jeremia. Profete van daardie tyd het mekaar se boeke geraadpleeg (sien Daniël 9:2).
  • Hy keer nie weer na sy eie land terug nie. Sien Esra 1:1–3 (in die eerste jaar van Kores – toestemming word gegee om terug te gaan na hulle land); Daniël 10:1 (in die derde jaar van Kores – Daniël is nog steeds in Babilon); en Daniël 12:13 (sy einde op aarde). Hy was waarskynlik te oud om terug te gaan.
  • Die boek is in beide Hebreeus (1:1–2:4a en 8:1–12:13) en Aramees, die taal van die Babiloniërs, (2:4b–7:28) geskryf.
  • Hoofstuk 1–6 spreek God se oorwinning oor goddelose regerings aan. Hoofstuk 7–12 handel oor die toekoms van Israel en die instelling van die ryk van die Messías.

Daniël 2: Die standbeeld; en Daniël 7: Die vier diere uit die see

In hoofstuk twee het Nebukadnésar ’n droom oor ’n standbeeld wat uit vier dele bestaan (Daniël 2:31–33). In hoofstuk sewe het Daniël ’n droom van vier groot diere (vers 3) wat na die beeld verwys wat Nebukadnésar in sy droom gesien het. Hy stel meer belang in die vierde dier, die een wie hy ook in besonderhede verduidelik (vers 19–22). Hy beskryf die dier as vreeslik en skrikwekkend (vers 7), met tien horings. In vers 13 beskryf Daniël die regering van Jesus Christus (vers 14) in die toekoms en vra die engel om die vierde dier (vers 19) en die tien horings (vers 20) aan hom te verduidelik.

Hy sien in die visioen hoedat een horing wat uit die ander tien ontstaan (tien konings – vers 24), oorlog voer teen Israel, en hulle oorwin (vers 21) voordat Israel die koninkryk in besit neem (die millennium). Die engel verduidelik nou die vierde dier (vers 23), wat hy aan Israel en sy God sal doen (vers 25), en vir hoe lank hy hulle gaan verdruk (vers 25b). Let op die tyd – tyd, tye, en ’n halwe tyd. Dit is 1260 dae, 3½ jaar, of 42 maande. Ons gaan hierdie beskrywings van tyd dikwels lees, ook in Openbaring. Hierna word die dier oorwin (vers 26) en begin die millennium (vers 27) waartydens Jesus Christus as Koning oor Israel regeer.

Kyk hoe ervaar Daniël hierdie visioen en hoe die engel dit verduidelik. Hy is verskrik en siek (verse 15 en 28). Sien ook Daniël 8:27. Dit is die gevolg van die ontstellende visioene wat hy gesien het wat nog in die toekoms met sy volk moes gebeur.

Daniël 9: Die 70 weke

Om die Woord se beskrywing van die eindtye reg te interpreteer, veral Openbaring, is dit krities om Daniël se 70 weke te verstaan. Indien enige persoon vir jou oor Openbaring wil leer en hy gebruik nie Daniël as sy basis nie, hou by hierdie persoon verby en stel jou nie aan sy lering bloot nie. Dit gebeur deesdae gereeld in ons groter kerke dat lering oor Eskatologie vermy word. Hierdie leraars verkondig ’n halwe evangelie.

Ons gaan nie hier ’n volledige verduideliking van Daniël 9 gee nie, maar net die tydlyn. Kom ons kyk egter na ’n paar belangrike punte:

  1. Die sewentig “sewetalle” (Dan 9:24) is eintlik die Griekse term “sewes” (Gr. Hepta), waar ’n “week” ’n periode van sewe jaar is. “Sewentig sewetalle” verteenwoordig dus sewentig weke, waar elke week sewe jaar is. Wiskundig is dit 70 x 7 = 490 jaar.
  2. Die sewentig sewetalle is “oor jou volk” (Israel) en “jou heilige stad” (Jerusalem) bepaal. Let daarop dat daar nêrens melding gemaak word van die Kerk of heidene nie. Die 490 jaar is ’n eskatologiese tydlyn slegs vir Israel.
  3. Hierdie periode is nodig om ses doelwitte te bereik. Kyk in Dan 9:24 na die ses kere waar “om” gebruik word. As ons mooi na hierdie teks kyk, sien ons duidelik dat die ses “om” redes vir die 490 jaar eers na die sewentigste week voltooi sal wees:
    1. Die goddeloosheid is nog nie voleindig nie. In ons tyd word dit net erger. Kyk wat gebeur in die wêreld asook in Israel. Baie van hulle is sekulêr al word hulle Jode genoem.
    2. Die maat van die sondes is ook nog nie volgemaak nie. Sonde neem toe maar dit moet nog baie erger word. Israel is enige tyd net so sekulêr as ander lande. Hulle leef soos die wêreld.
    3. Ongeregtigheid is nog nie uitgesorteer nie. Ongeregtigheid is aan die orde van die dag. Wat reg was is nou verkeerd, en wat verkeerd was, is nou reg (Jesaja 5:20). Daar is egter ook ongeregtigheid teenoor Israel.
    4. Ons is nog nie naby om ewige geregtigheid aan te bring nie. Net die koms van die Messias vir Israel kan ewige geregtigheid bewerkstellig.
    5. Gesig (visioene) en profeet (die amp van die profeet vir Israel, nie die Kerk nie) is nog nie afgehandel nie omdat die laaste profesie, die Wederkoms (Sag 14:4), nog nie plaasgevind het nie.
    6. Die hoogheilige, die tempel wat nog gebou moet word, is nog nie gesalf (geheilig) deur die teenwoordigheid van die Messias nie. Dit gaan nog eers in die middel van die verdrukking deur die Antichris ontheilig word (Dan 9:27 en Matt 24:15). Eers daarna, na die Wederkoms, word dit geheilig.
  4. Die begin van die sewentig sewetalle (490 jaar) is die uitvaardiging van die dekreet om die mure van Jerusalem te herstel, in Nehemía 2:5–8, deur Artaxerxes Longimanus, in 445 vC (hierdie datum word deur sommiges betwis). Daar was nog drie ander dekrete, maar hulle datums maak dit onmoontlik dat enige van hulle die een kon wees waarna die engel verwys.
  5. Vers 25 verdeel dit in twee periodes:
    1. Sewe (7) sewetalle (49 jaar) is die periode wat dit geneem het om Jerusalem te herbou; en
    2. Twee-en-sestig (62) sewetalle (434 jaar) is die res van die tyd wat dit geneem het om Jerusalem in stand te hou, tot by die Gesalfde (Messias) se intog in Jerusalem (Lukas 19:28).
  6. Vers 26 noem dat ná die 62 sewetalle (dus as hulle voltooi is) die Messias “uitgeroei” (gekruisig) word.
  7. Ons het nou 69 weke wat voltooi is volgens die profesie (483 jaar: 69 weke x 7 jaar = 483 jaar). Ons kort nog een week, of sewe jaar, om die hele 490 jaar te voltooi.
  8. Kom ons doen die wiskunde. Eerstens, onthou dat ons hier met die Joodse jaar te doen het. Daar is dus nie 365 dae in die jaar nie, maar 360. Hierdie getalle is baie belangrik:
    1. 490 jaar wat vir Israel bepaal is om die ses aspekte van Daniël 9:24 te voltooi, is 176 400 dae.
    2. 483 jaar is alreeds voltooi, 173 880 dae. Dit was vanaf die uitvaardiging van die dekreet om die mure en die stad te herbou, in Nehemía 2:5–8, in 445 vC, tot die kruisiging van Jesus Christus in 33 nC (AD).
    3. Sewe jaar moet nog voltooi word, 2 520 dae (Daniël 9:27 – een week van sewe jaar; [176 400 – 173 880 = 2 520]). Hierdie periode word in twee gedeel:
      1. Die begin van die smarte (Matthéüs 24:8), vir 1 260 dae; en
      2. Die groot verdrukking (Matthéüs 24:21), vir 1 260 dae. Ons lees dikwels van die volgende verwysings na tyd:
        • 42 maande (1 260 dae) (Openbaring 11:2 en 13:5)
        • 3½ jaar (1 260 dae) (Openbaring 12:6)
        • Tyd, tye, en ’n halwe tyd (een jaar, twee jaar, en ’n helfte van ’n jaar) (Daniël 7:25 en 12:7)
        • Dit is interessant om daarop te let dat gedurende Elía se tyd as profeet daar vir 3½ jaar lank ’n droogte was (1 Konings 17–18; Lukas 4:25; en Jakobus 5:17).
  9. Hierdie laaste periode van sewe jaar, of Daniël se 70e week, moet nog plaasvind.
  10. Daniël “sien” hierdie as een periode van 490 jaar. Onthou dat die Kerk dispensasie vir hom verborge was. Hy was dus nie bewus van die periode waarin ons tans staan nie. Dit is duidelik in vers 26 en 27. Hy verduidelik die periode tot aan die einde van die vierhonderd drie-en-tagtigste jaar. Daarna, in vers 27, gaan hy voort asof daar geen onderbreking is nie, en die vierhonderd vier-en-tagtigste jaar begin. Ons weet dat daar oorspronklik geen hoofstuk indelings of teksverse was nie. Daniël sien hierdie as ’n voortgaande verhaal wat sonder onderbreking voltooi sou word.
  11. Waarom was daar nie ’n aaneenlopende periode nie, maar eerder ’n onderbreking? Romeine 11:25 gee die antwoord. Die verharding het ten dele oor Israel gekom (jaar 483), totdat die volheid van die heidene ingegaan het. Hierdie is die beskrywing van die Kerk periode wat nou al meer as 2000 jaar is. Sodra hierdie periode voltooi is, met die wegraping van die Kerk, deel God weer met Israel as ’n nasie (jaar 484), en word die hele nasie aan die einde van die verdrukking gered (jaar 490). Sien Jesaja 59:20, Matthéüs 23:37–39, en Romeine 11:26.

Matthéüs 24: Jesus, die Woord, haal Daniël aan

Daniël se profesieeë word dikwels afgemaak asof iemand anders dit geskryf het en dat dit nie letterlik vertolk moet word nie. Jesus Christus haal egter Daniël aan en bevestig die akkuraatheid en inspirasie van die boek. Kom ons kyk na die konteks. Mattheüs beskryf die finale konflik tussen Jesus en die Joodse skrifgeleerdes in hoofstuk 23. Hy noem dat hulle Hom nie weer sal sien totdat hulle Psalm 118:26 in vervulling laat gaan het nie.

Hy vertrek van die tempel af en “sy dissipels” (Markus dui vier spesifieke dissipels aan, in Markus 13:13) toon aan Hom die tempel en die geboue (Matthéüs 24:1). Hy noem dat daar niks van gaan oorbly nie, en verwys na die verwoesting van die tempel deur die Romeine in 70 nC. Sy dissipels vra Hom twee vrae:

  • wanneer hierdie dinge sal wees, en
  • wat die tekens van sy koms is.

Hy antwoord hulle as volg: Pas op dat niemand julle mislei nie. Die misleiding dui die tyd aan (wanneer) en ook is die teken van sy koms. Ons kan baie oor die misleiding van ons tyd praat, maar tyd gaan ons inhaal. Hy begin nou vir hulle die sewentigste week van Daniël verduidelik. Die eerste deel is die begin van die smarte (vers 8). Hierdie goed gebeur alreeds in ons tyd, maar is eintlik op Israel gemik. Dit sal oorgaan in die eerste helfte van die verdrukking, wat sal begin met ’n verdrag van vrede. Jesaja 28:15 beskryf dit as ’n verbond met die dood.

Die tweede deel van die verdrukking begin in vers 15, wanneer Jesus direk na Daniël verwys. Hy is spesifiek: wanneer die “gruwel van die verwoesting” (Daniël 9:27 en 2 Thess 2:4) in die heiligdom (die tempel wat nog herbou moet word) staan, moet diegene wie in Judéa is (dus Jode in Israel) “oplet” (verstaan). Hierdie gebeurtenis dui die begin van die groot verdrukking aan, wat die tweede helfte van die sewentigste week is.

Vir Jesus was Daniël se profesie so gesaghebbend dat Hy daarna verwys as ’n bewys van dit wat nog met sy volk moet gebeur. Veel later sal Paulus meer hieroor uitbrei (1 Thessalonicense 5:3 en 2 Thessalonicense 2:4). Johannes is die laaste persoon wie nie net van hierdie openbaring hoor nie, maar dit self ervaar. Wat Daniël in een vers beskryf, verduidelik Johannes vir ons in 15 hoofstukke. Wat Daniël as iets in die verre toekoms (Daniël 8:26) gesien het, sien Johannes voor sy oë afspeel asof dit in die teenwoordige tyd is. Dit is hier waar ons studie van Openbaring volgende week begin. Ons gaan dit as volg indeel:

  1. Openbaring 1 tot 3
  2. Openbaring 4 tot 5
  3. Openbaring 6 tot 19
  4. Openbaring 20 tot 22

Alhoewel sommige van bogenoemde moontlik op beide die kerk en Israel van toepassing kan wees, is die engel se verduideliking aan, en Daniël se fokus, nie die Kerk nie, maar om Israel voor te berei vir die koms van die Messias, wat ná die sewentigste week gebeur (Matt 24:29 – dadelik ná die verdrukking).


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy