Dokumentasie Geplaas op Woensdag, 9 September 2026

Die Here beskerm die gelowige

Psalm 34 het ’n pragtige struktuur en verduidelik dit wat jy moet doen (en ook nie moet doen nie) en die Here se reaksie daarop. Dit bevat ook ’n baie kragtige profesie wat reeds bewaarheid is.

Agtergrond: wie is Abiméleg?

  • Een van die hoofkarakters in hierdie psalm is Abiméleg, en die psalm verwys na die gebeure in 1 Samuel 21:13.
  • Abiméleg is ’n titel wat vir die Filistynse konings gebruik is, net soos Farao in Génesis en Caesar in die Nuwe Testament. In hierdie geval verwys die naam Abiméleg na Agis.
  • Vir ander voorbeelde waar die titel Abiméleg gebruik word, sien Génesis 20:2 en Rigters 9:1. Wat was die name van die persone na wie hier met die titel verwys word?

Die wysheid van hierdie psalm

  • Lofprysing (vers 2) is die eerste wat jy kan doen in moeilike omstandighede. Ons kla dikwels eers as dinge skeef loop.
  • Die fokus moet altyd op God wees en nie op mense en ons omstandighede nie (vers 3).
  • Ons moet die Naam van die Here ten alle tye verhoog (vers 4).

Wat ek moet doen, en die Here se reaksie

Vir die volgende paar verse, kom ons kyk wat die mens moet doen, en wat die gevolg is:

My optrede (wat ek moet doen) God se reaksie
Ek het die Here gesoek (vers 5) Hy het my geantwoord en my uit my vrees gered.
Hulle het Hom aangesien (vers 6) Hulle is uit hulle omstandighede gered sonder om hulle te skaam.
Die ellendige het geroep (vers 7) Die Here het hom gehoor en uit sy benoudhede verlos.
Vrees die Here (vers 8) Hy beskerm jou en red jou.
Leef na aan die Here (vers 9) Jy sal welgeluksalig wees. Dit beteken “drie keer gelukkig”: wel, geluk(kig), en salig. Sien 2 Petrus 2:3.
Vrees die Here (vers 10) Jy sal geen gebrek hê nie.
Soek die Here (vers 11) Jy sal geen gebrek aan enige iets hê nie.
Luister na Dawid omdat hy jou oor die vrees van die Here wil leer (vers 12). Sien Spreuke 1:7; 9:10. Wie neem die uitnodiging aan? (Vers 13 tot 15) Sy raad is die volgende:
  • Bewaar jou tong vir dit wat verkeerd is (Spreuke 21:23; Jakobus 3; en 1 Petrus 3:10).
  • Moenie bedrog spreek nie (1 Petrus 3:10).
  • Wyk af van wat verkeerd is (1 Petrus 3:11).
  • Doen wat goed is (1 Petrus 3:11).
  • Soek vrede en jaag dit na (1 Petrus 3:11). Sien Hebreërs 12:14. Kyk hoe direk haal Petrus die psalm aan.
Die Here fokus op die regverdiges en Hy luister na hulle. Sien 1 Petrus 3:12; maar die Here fokus nie op die kwaaddoeners nie.
Die regverdiges roep (vers 18) Die Here hoor hulle en red hulle uit hulle benoudhede.
Is jy gebroke van hart (vers 19)? Sien Ps 51:19; 147:3; en Luk 4:18 Die Here is naby jou en Hy verlos jou.
Jy gaan teëspoed in hierdie lewe hê (sien Joh 16:33), maar (vers 20) Die Here red jou uit al jou teëspoed.
Hier is ’n profesie (vers 21) wat alreeds vervul is. Sien Johannes 19:36.
Die lot van die ongelowiges (vers 22).
Skuil by die Here (vers 23) Hy verlos jou siel en jy hoef nie te boet (straf te ontvang) nie.

Die band tussen die Ou en Nuwe Testament

Hierdie psalm dui baie duidelik die onlosmaaklike band tussen die Ou en Nuwe Testament aan. Ons sien die profesie van die dood van Jesus Christus. Johannes haal dus uit hierdie psalm aan (vers 21). Ook die skrywer van Hebreërs haal die psalm aan (vers 15). Petrus haal dit in groot besonderhede aan as praktiese raad vir sy lesers.

Nabetragting

Wat leer jy uit hierdie psalm? Wat beteken dit vir jou?


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy