Die ware model vir die kerk soos Paulus dit in sy pastorale briewe aandui

Die ware model vir die Kerk soos Paulus dit in sy pastorale briewe aan Timotheüs en Titus aandui
Paulus het dikwels briewe aan gemeentes geskryf, of dit nou een spesifieke gemeente was, byvoorbeeld aan die gemeente in Korinthe, of aan verskeie gemeentes in ‘n area, byvoorbeeld die brief aan die Galasiërs. Hy het egter ook briewe aan indiwidue geskryf. Drie van die ontvangers was Timótheüs, Titus, en Filémon. Dit is veral die drie briewe aan Timótheüs (twee briewe) en Titus (een brief) waaraan ons aandag gaan gee, en sien hoedat Paulus verduidelik wat die struktuur van die kerk moet wees. Hierdie drie briewe word as pastorale briewe beskou, en ons kan moontlik ‘n vierde een, die brief aan Filémon, hierby insluit. Filémon word nie as ‘n pastor geïdentifiseer nie, maar hy was wel die leier van ‘n gemeente in sy huis (Filémon 1:2).
Wat is ‘n “pastor”? In die Bybel is 'n pastor (Latyn vir “herder”) ‘n geestelike leier wat God se mense (die kudde) voed, lei, beskerm en toerus, soortgelyk aan 'n ouderling of opsiener, wat fokus op die onderrig van gesonde leer, deur voorbeeld lei en sorg vir die gemeente se geestelike welstand, en sterk put uit die Ou-Testamentiese beeldspraak van herders wat skape oppas. Kom ons kyk of Paulus se keuse van die twee mans vir die amp as pastor reg was.
Beide Timótheüs en Titus was mans wie onder Paulus se leierskap tot bekering gekom het. Ons lees van Timótheüs in 1 Timótheüs 1:2 – “my ware kind in die geloof”; en van Titus in Titus 1:3 – “my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof”. Nadat Paulus in beide Éfese en Kreta gemeentes gestig het, het hy hierdie twee leraars agtergelaat met die doel om die nuwe gemeentes te lei en te laat groei. Beide gemeentes het te doen gehad met probleme – die heidene wie tot geloof in Jesus Christus bekeer het, was in die visier van bekeerde Jode; en daar was heidense gebruike wat as deel van die bekerings proses agter gelaat moes word, soos Johannes die Doper uitgewys het – dra dan vrugte wat by die bekering pas (Matthéüs 3:8).
Ten einde struktuur aan hierdie nuwe gemeentes te gee, wie in huise bymekaar gekom het, was dit nodig om die regte leiers te hê. Paulus is duidelik oor die vereistes, waaraan beide Timótheüs en Titus moes voldoen. Vir Timótheüs skryf hy dit voor vir ouderlingein 1 Timótheüs 3:2-11 (“opsieners” was dikwels gebruik wanneer “ouderlinge” geïmpliseer is) en diakens in 1 Timótheüs 3:8-12.
Daar was ‘n duidelike verskil tussen die rolle van die ouderlinge/opsieners en diakens. Aan Titus skryf Paulus dat hy ouderlinge moes aanstel, soos ons in Titus 1:5-9 sien. Baie duidelik dan, is hierdie die vereistes waaraan die ouderlinge moes voldoen. Die taak van die diaken is alreeds in Handelinge 6 uiteen gesit. Hierdie persone moes na die praktiese aspekte van die kerk omsien, soos wat ons in Handelinge 6:1-3 lees. Terwyl die ouderlinge lering moes gee en by ware doktrine hou, moes die diakens praktiese versorging gee. Dit is baie belangrik om daarop te let dat Paulus nêrens aandui dat enige van hierdie rolle deur vrouens beklee moes word nie; altyd deur mans.
Die probleem ontstaan wanneer ons God se orde begin verontagsaam. Ons hedendaagse kerke het meesal lankal afgedwaal. Geen wonder nie dat baie kerke uitmekaar val. Jy kan nie verwag dat God jou gemeente sal seën as jy buite sy wil optree nie. Die lering van doktrine is baie belangrik en waar dit nie toegepas word nie, volg ‘n wegbeweeg van die ware evangelie. Paulus verduidelik aan Timótheüs (1 Timótheüs 5:17) en Titus (Titus 1:9) hoedat die ouderlinge en opsieners met doktrine moet omgaan. Dit gaan oor effektiewe lering, gebaseer op die doktrine van die Woord. Ons kan die taak van opsieners en ouderlinge in ses areas definieer:
- Die karakter van die persoon – 1 Timótheüs 3:3-7; en Titus 1:5-8
- Verantwoordelikheid teenoor sy gesin – 1 Timótheüs 3:1-5; en Titus 1:5-6
- Opsienerskap en verantwoordelikheid – 1 Timótheüs 5:17
- Pastorale sorg – Handelinge 20:17-38; en 1 Petrus 5:1-4
- Die handhawing van suiwer doktrine – Handelinge 20:30-31; 1 Timótheüs 5:17; en Titus 1:9-16
- Gebed – Handelinge 6:1-4
Die probleem wat in ons tyd duidelik na vore kom is hoe daar van hierdie twee belangrike ampte afstand gedoen is, ten gunste van “leiers”. Meeste nuwer gemeentes en hulle leraars het lankal ontslae geraak van hierdie ampte ten einde te verseker dat net die pastor van die gemeente ‘n stem het. Die “leiers” is dikwels indiwidue met geen behoorlike teologiese agtergrond nie; doen dikwels administratiewe werk; en is dikwels vrouens. Kyk ‘n bietjie in jou gemeente of al die “leiers” aan die ses punte hierbo genoem, voldoen. Pastorale sorg is een van die belangrikste aspekte, maar dit is lankal vervang met ampte beklee deur indiwidue wie gladnie oor die nodige Skrif-gefundeerde vereistes beskik nie.
Soos wat die tyd tot die Koms van Jesus Christus uitloop, raak al meer gemeentes net verder van die pad af. Dit is die afval waarvan Paulus die gemeente in Thessaloníka waarsku (2 Thessalonicense 2:3). Dit gebeur vanuit die Kerk, nie vanuit die wêreld nie. Kyk wat Paulus aan Timótheüs skryf in 1 Timótheüs 4:1-3. Hy herhaal die gedagte in sy tweede brief aan Timótheüs. Sien 2 Timótheüs 4:13. Wanneer die Kerk sy “eie ding” begin doen, gebeur wat Paulus in 2 Timótheüs 4 beskryf. Die “hulle” in vers 3 verwys na diegene in 2 Timótheüs 3:13. Kyk wat doen “hulle”: hulle verdra nie gesonde leer nie (en daarom stel hulle nie meer ouderlinge aan nie, wie se verantwoordelikheid doktrine/gesonde leer is). Die gevolg is dat hulle die oor afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels (vers 4). Ten spyte hiervan word Timótheüs gemaan om aan te hou om sy werk te doen.
Wat het verander ten opsigte van die ses aspekte waaraan ouderlinge moet voldoen?
- Ons sien by baie “pastors” en hulle “leiers” lankal nie meer ‘n Christelike karakter nie, maar eerder ‘n totale verwêreldliking (sekularisasie). Dit gaan oor die pastor se aansien en salaris.
- Min leraars het gesinne (baie is nie getroud nie), of tree verantwoordelik teenoor hulle gesinne op. Baie is alreeds een of twee keer geskei en weer getroud.
- Daar is geen opsienerskap nie en “pastors” en hulle “leiers” doen nie huis- of hospitaalbesoek nie.
- Min van hulle is werklik “pastors” wat die kudde voed, lei, beskerm, en toerus. Hulle sorg eerder dat die gemeente ondervoed is deur die swak prediking wat hulle gee, hulle eie pad moet vind, vir hulleself moet sorg, en beslis nie behoorlik toegerus word nie. Al waarvoor hulle toegerus word is om daardie werk te doen wat die pastor nie wil doen nie, maar voor betaal word.
- Doktrine en die handhawing daarvan bestaan in meeste gemeentes lankal nie meer nie. Hulle spreek nie sensitiewe aangeleenthede aan nie; noem nie sonde by die naam nie; en vermy prediking uit groot dele van die Bybel. Doktrine en lering uit die Woord is vervang met motiverings toesprake uit die wêreld.
- Gebed is lankal nie meer belangrik nie. Soos ‘n “pastor” vir my gesê het: “Ons het nie ‘n biduur nie wat ons program is alreeds vol”. Die program waarvan hy praat is die onderhouding van ‘n struktuur wat nooit bedoel was om te bestaan nie. Die onderhoud van geboue en persele, die betaal van groot salarisse vir die "leiers", en al die ander vertoon het niks met die verkondiging van die ware evangelie te doen nie. Kursusse "om 'n beter jy te wees" plaas die fokus op die mens en nie op sy Skepper nie.
Wat staan jou te doen?
Waar jy nog ‘n invloed in jou gemeente het, waarsku hulle teen die tendens van die aanstel van “leiers” ten gunste van ouderlinge en diakens. Selfs al luister hulle nie, wees jy die een wie die ware karakter van Jesus Christus uitleef; ‘n voorbeeld is deur hoe jy teenoor jou gesin optree; jou verantwoordelikheid teenoor andere uitleef; pastorale sorg toepas; suiwer doktrine toepas; en volhou in gebed.
As jy ‘n selgroep leier is, toets jouself aan die ses vereistes vir opsieners. Waar jy kortkom, kry dringend iemand om jou te help sodat diegene wie in jou sorg is, die nodige leiding en geestelike ondersteuning kry.