Jesus besoek die kerk van die 21e eeu
Ons leef in ‘n interessante tyd. Die tempo waarteen geskiedkundige gebeure afspeel, asook die rol van die mens daarin, is verstommend. Dit is egter ook ‘n tydperk gekenmerk deur talle teenstellings en kontras. Kyk ons om ons, sien ons die mens wat gefokus is op die verwerwing van kennis en weelde. Hierdie periode is ook gekenmerk deur tekens van die mens se morele verval. Toe Jesus sy openbaring aan Johannes gegee het, het Hy eers die Kerk periode beskryf soos dit deur die eeue afgespeel het. In die meeste gevalle is die verskillende gemeentes gekrediteer vir hulle positiewe bydraes. Die gemeente van Laodicéa het egter nie ‘n gunstige verslag ontvang nie. Die tyd is nou reg om meer kennis in te win oor die gemeente in Laodicéa. Dit behoort ‘n oproep vir die kerk van vandag te wees om wakker te word.
Agtergrond oor die stad Laodicéa
Die briewe aan die sewe gemeentes is geskryf aan regte gemeentes, in regte stede. Hierdie stede was almal geleë in die hedendaagse Turkye. Tydens die skryf van die briewe was Laodicéa ‘n baie welvarende stad, en ook die setel van die omgewing se handel. Daar het ‘n aansienlike aantal Jode in die stad gewoon. Twee aspekte van belang oor dié stad is: Eerstens, was daar ‘n mediese skool, en die stad het ‘n spesifieke soort salf vervaardig wat gebruik is vir die behandeling van oog infeksies. Hierdie salf is regoor die bekende wêreld versprei. Tweedens, het die stad sy water van ‘n bron, ‘n paar kilometer buite die stad gekry. Hierdie water is met ‘n Romeinse akwaduk vervoer. Beide die water en die salf sou later die fokus wees van Jesus se lering aan die gemeente in die stad.
Hierdie was inderdaad ‘n stad en gemeente met probleme, desondanks hulle welvaart. Wanneer ons aan die gemeente van Laodicéa dink, gaan ons gedagtes dadelik na Johannes se brief aan die gemeentes, in Openbaring 3. Lank voor die verskyning van Jesus aan Johannes op Patmos, het Paulus alreeds melding gemaak van sy probleem met die gemeente. In sy skrywe aan die gemeente in Kolosse, vertel hy van sy probleem met die gemeente.
1Want ek wil hê dat julle moet weet wat ’n groot stryd ek oor julle het, en oor die wat in Laodicéa is en almal wat my aangesig in die vlees nie gesien het nie, 2dat hulle harte vertroos mag word, deurdat hulle saamgevoeg word in die liefde en tot alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, 3in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. – Kolossense 2:1-3, 1953 Afrikaanse Vertaling
Vir Paulus, as apostel, sendeling en kerkstigter, was die welsyn van die gemeentes iets wat hom na aan die hart gelê het. Hy was egter bekommer oor dié gemeentes wat afvallig geword het, na die Woord aan hulle verkondig is. Paulus spreek hierdie gemeentelike afvalligheid aan wanneer hy skryf aan die gemeente in Galásië:
6Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ’n ander evangelie toe, 7terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. – Galasiërs 1:6-7, 1953 Afrikaanse Vertaling
In baie gevalle het Paulus nooit sekere gemeentes persoonlik besoek nie, maar sy betrokkenheid by die gemeente was deur briewe wat hy aan hulle geskryf het. In die eerste hoofstuk van sy Brief aan die Kolossense noem hy:
3Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, – Kolossense 1:3-4, 1953 Afrikaanse Vertaling
Dit stel dit duidelik dat Paulus nog nooit die gemeente ontmoet het nie, maar van hulle weet deur dit wat hy van ander sendelinge in die veld, gehoor het. Dieselfde geld vir die gemeente in Laodicéa. Deur die brief geadresseer aan die kerk in Kolosse, bereik hy ook die kerk in Laodicéa. Dit beteken nie dat hy nooit gereis het in die gebiede waar die kerke geleë was nie, maar bloot dat hy nie daardie kerke of gemeentes, op daardie tydstip besoek het nie. Aan die einde van die brief aan die kerk in Kolosse, verwys Paulus weer na die mense in Laodicéa.
13Want ek getuig van hom dat hy ’n groot ywer het vir julle en vir die wat in Laodicéa en die wat in Hiërápolis is. – Kolossense 4:13, 1953 Afrikaanse Vertaling
Paulus beëindig sy brief aan die gemeente van Kolossense, deur te vra dat die brief wat hy pas aan die Kolossense geskryf het, ook deur die kerk in Laodicéa gelees moet word. Hy noem dan dat hulle op hul beurt ook die brief aan die gemeente van Laodicéa, moet lees. Dit is ‘n interessante aspek, dat daar sendbriewe en briewe is wat Paulus aan gemeentes geskryf het wat nie deel uitmaak van die Nuwe Testament nie:
16En wanneer hierdie brief by julle gelees is, sorg dat dit ook in die gemeente van die Laodicense gelees word en dat julle ook dié uit Laodicéa lees. – Kolossense 4:16, 1953 Afrikaanse Vertaling
Dit is dus duidelik dat die kerk in Laodicéa die waarheid geken het, en dat Paulus hulle meer as een geleentheid gegee het om vertroud te raak met die Evangelie. Met hierdie kennis as agtergrond, laat ons kyk na wat Jesus vind in die kerk in Laodicéa.
Jesus se boodskap vir die kerk van die Laodicense
14En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: 15Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! 16Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. 17Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. 18Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.19Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 21Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 22Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. – Openbaring 3:14-22, 1953 Afrikaanse Vertaling
Jesus se boodskap aan die kerk in Laodicéa verduidelik die mense se geestelike ingesteldheid. Dit is gebou op kennis en ervaring wat die Laodicense reeds oor hul stad gehad het, maar Jesus verduidelik dit in ‘n geestelike konteks. Die waterbron was die manier waarop die mense van die stad kon verseker dat daar ‘n konstante toevoer van water in die stad was. Die probleem was tweeledig, en Jesus fokus op beide aspekte, maar bring dit in verband met hulle geestelike toestand.
Eerstens, die fonteinwater was by die oorsprong van die bron, warm. Soos die water langs die akwaduk beweeg het, het die water afgekoel. Wanneer die water die stad bereik, was dit nie warm genoeg om mee te bad nie, maar ook nie koud genoeg om te drink nie. Hierdie teleurstelling, louwarm water, was van geen nut vir enige situasie nie. Daarbenewens, het die water ‘n hoë konsentrasie swael bevat, wat dit onaangenaam maak, maar nie ondrinkbaar nie.
Die ooginfeksies was die tweede probleem. Die swael in die water het tot oog infeksies gelei. Die Laodicense het ‘n mediese skool gehad, en was uitstekend in die vervaardiging van ‘n oogsalf, wat die oog infeksies as gevolg van die hoë swael inhoud, genees het. Hierdie oog salf is ook na ander lande uitgevoer.
Die kerk van Laodicéa is daarvan beskuldig dat hulle nie geestelik warm of koud was nie, maar louwarm soos die water in die stad. Louwarm water is nutteloos: in koue weer drink jy warm vloeistof om warm te word; in warm weer drink jy iets koud, om af te koel. Enigiets tussenin is onaanvaarbaar.
Jesus lewer kommentaar oor die geestelike toestand van die kerk in Laodicéa. Vandag is dieselfde geestelike toestand in die kerk te bespeur. Vir die grootste deel, het Christene louwarm geword. Mense lees nie meer hulle Bybels nie, hulle gaan kerk toe om gesien te word, miskien vorm hulle deel van verskillende gemeente programme, maar raak nie betrokke genoeg om werklik deel van die gemeente se werk te word nie. Dit is hierdie soort gedrag wat Jesus verafsku. Hy sê dat omdat die Laodicense kerk, en deur implikasie ons vandag ook, nie warm of koud is nie, sal Hy hulle uit Sy mond braak. Sommige vertalings verander die woord "braak" met "spoeg", die aksie is om ontslae te raak van iets veragtelik in jou mond, iets wat jy miskien beplan het om in te neem - kos of drank, maar dan besef dat dit nie geskik is nie. Die handeling verwys na die betekenis: uitgespoeg, uitgebraak, met krag ontslae raak van iets onaangenaams.
Hy gee dan die rede vir hulle geestelike toestand – rykdom:
17Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. – Openbaring 3:17, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die bron van rykdom is geld, en wanneer geld die enigste fokus word, word dit die begin punt van boosheid:
10Want die liefde van geld is ‘n wortel van allerhande soorte boosheid, waarvoor sommige afgedwaal het van die geloof in hulle gulsigheid, en deurboor hulself deur met baie smarte. – 1 Timótheüs 6:10, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die inwoners van Laodicéa was welvarend en kon luukshede bekostig. Hulle het nie veel van enigiemand anders nodig gehad nie, en het waarskynlik nie regtig ‘n behoefte aan geestelike groei gehad nie. Ons moet egter onthou dat die brief nie bedoel was vir die algemene inwoners van Laodicéa nie, maar geskryf is aan die sogenaamde geredde Christene in die kerk. Daarom, as die teks inhoud toegepas sou word op die ongereddes van die stad, kan ons hulle optrede sien as geestelike onkunde, en dat hulle nie beter geweet het nie. Diegene in die kerk het egter die waarheid geken en hulself steeds toegelaat om afvallig te word aan die waarheid van die Evangelie. Hulle liefde vir dit wat geld en rykdom hulle gegee het - gemak, miskien ‘n groot Romeinse villa, ‘n oorvloed aan alles, het hulle afvallig laat word. Die hartseer waarheid van die lewe is, dat in die tyd van die Laodicensiese kerk, sowel as vandag, is dat afvalligheid van binne die kerk ontstaan. Dit begin by die mense wat binne die gemeente die sout en lig moet wees, hulle wat die ongereddes moet lei op die pad van verlossing.
Die Laodicensiese kerk weet nie eens dat hulle ellendig, arm, blind en naak in die geestelike sin is nie, omdat hulle so verblind is deur die rykdom waarmee hulle hulself omring het. Jesus sê hulle is ellendig (onaangenaam of van lae gehalte); ellendig (geestelik ongelukkig); arm (het min geestelike groei); blind (nie in staat om hulle posisie in Christus te sien nie); en naak (nie beklee met geregtigheid nie). Kyk na die raad wat Hy vir hulle gee:
18Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. – Openbaring 3:18, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die Laodicensiese gemeente word aangeraai om sekere dinge te doen om hul situasie te verbeter. Die 1953 Afrikaanse Vertaling gebruik die frase raai jou aan, (om advies te gee, veral oor sosiale of persoonlike probleme), wat wys hoe Jesus steeds wil hê dat hulle gered moet word, ten spyte van hul onwilligheid om te luister. Hulle moet leer om van Hom goud te koop – die metaal is volop in die hemel. Hy stel wit klere voor. Op daardie stadium was hulle klere van swart wol gemaak. Jesus stel iets beters voor, iets rein. Hy stel voor dat hulle introspeksie doen, en die Evangelie met hul eie oë moet lees, sodat hulle die waarheid kan sien.
Is Hy ontsteld oor hulle optrede? Ja. Het Hy hulle lief? Ja. Wil Hy hê hulle moet vergaan? Nee. Kyk na vers 19:
19Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. – Openbaring 3:19, 1953 Afrikaanse Vertaling
Hy sê omdat Hy hulle liefhet, bestraf Hy (om kwaai met iemand te praat omdat jy dit afkeur wat hulle gedoen het) en tugtig Hy (om iemand te laat verstaan dat hulle misluk het of iets verkeerd gedoen het en hulle wil verbeter) hulle. As gevolg hiervan, beveel Hy hulle om ywerig te wees (entoesiastiese en gretig, ook vertaal warm), en hulle te bekeer (om jammer te wees vir dinge wat jy gedoen het en streef om nie weer dieselfde fout te herhaal).
Nadat hy hulle getugtig het, sê Hy die volgende:
20Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. – Openbaring 3:20, 1953 Afrikaanse Vertaling
Hierdie is ‘n uitnodiging gerig aan die Laodicensiese kerk, selfs in sy huidige toestand. Hy staan by die deur van die kerk van vandag en Hy klop. ‘n Dief staan nie by ‘n deur en klop nie. ‘n Dief klim van die verkeerde kant af in (Johannes 10:1), agter jou rug. Hierdie diewe is die valse leraars en valse leerstellings wat vandag gepredik word. As die kerk van vandag die klop (die oproep tot bekering) hoor, is al wat dit hoef te doen, die deur oopmaak. Jesus dwing nie ‘n deur oop wat jy nie wil oopmaak nie. Wanneer die kerk van die laaste dae die deur oopmaak, sal Hy inkom en saam met die gemeente eet. Dit is nie ‘n wegneemete of ‘n vinnige maaltyd nie. Om maaltyd te hou beteken om tyd te spandeer: nie net om ‘n leë maag met kos te vul nie, maar ook om dinge van wedersydse belang vir beide partye, te bespreek (saam met hom [die gemeente in Laodicéa en dus die kerk van ons tyd] maaltyd hou, en hy met My).
Ons kultuur het gewoond geraak aan ‘n wegneem leefstyl – alles moet vinnig geskied, mense is altyd haastig en dit laat ons geen tyd om regtig “te eet” nie. Ons dink nie dikwels aan maaltyd hou as ‘n werkwoord nie. Ons gebruik dit as ‘n selfstandige naamwoord, maaltyd of ete, maar ons vergeet die belangrikheid van ‘n maaltyd as ‘n ontspanningsaktiwiteit. Wanneer jy in ‘n eetkamer ingaan, is die idee dat dié ‘n taamlik formele aangeleentheid is, en wat tyd neem om te voltooi, maar die geleentheid moet geniet word. Wanneer laas het jy en jou gesin by ‘n etenstafel gaan sit, jou kos geniet en jou maag gevul, maar terselfdertyd ook belangrike dinge met jou tafelgenote bespreek? Ons wegneem kultuur het ons beroof van ‘n baie belangrike geleentheid van behoorlike kommunikasie en gemeenskap met tafelgenote. Op dieselfde wyse is die ete met liefde en groot detail voorberei, daarom moet dit geniet word, en die tafelgenote moet groot dank en waardering vir die kos hê. Dit alles neem tyd!
Soos met al die gemeentes waaraan briewe geskryf is, is daar egter ook goeie nuus vir die Laodicensiese gemeente:
21Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. – Openbaring 3:21, 1953 Afrikaanse Vertaling
Ons word dwarsdeur die Nuwe Testament gewaarsku dat aan die einde van die Kerk bedeling, moeilike tye sal kom. Ons sien dit in ons tyd daagliks in die dinge wat rondom ons aangaan. Ons het ‘n keuse – ons kan óf oorweldig word (passiewe verklaring) deur die situasie, óf ons kan die situasie (aktiewe verklaring) oorkom. As ons terugsit en niks doen nie, sal die situasie ons oorweldig. As ons optree en aktief optree, sal ons oorwin. Stel jou dit voor: Jesus sê dat as ons oorwin, sal ons saam met Hom op Sy troon sit op presies dieselfde manier as wat Hy ook die uitdagings oorwin het tydens Sy tyd op aarde en nou saam met die Vader op Sy troon sit.
Die laaste vers in die gekose teks verwys nie net na die gemeente in Laodicéa nie, maar na al sewe die gemeentes:
22Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. – Openbaring 3:22, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die Afvallige Kerk
Tot dusver het ons die toestand van die Laodicensiese gemeente met die van die huidige en moderne kerk vergelyk. Daar is ‘n goeie rede hiervoor. Die Laodicensiese gemeente was die laaste gemeente aan wie ‘n brief geskryf is. Kom ons kyk weer na die titel van die stuk: Die afvallige kerk. Wat beteken dit? Afvalligheid is die daad om jou godsdienstige of politieke oortuigings prys te gee, en ‘n godsdiens of ‘n politieke party te verlaat. ‘n Afvallige is die persoon (of kerk) wat hulle godsdienstige oortuigings opgegee het. Jesus het dít genoem as ‘n teken van wat sal gebeur in die laaste dae:
10En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 11En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 12En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. – Mattheüs 24:10-12, 1953 Afrikaanse Vertaling
Dit beteken dat die liefde wat hulle vir Jesus en die Evangelie van verlossing gehad het, koud geword en gesterf het, in teenstelling met die woord ywerig (om warm te wees), waarna Jesus verwys in Openbaring 3:19.
Paulus spreek dieselfde aspek aan in sy brief aan die Thessalonicense, maar eerder as om die woord afvalligheid te gebruik, gebruik hy die woord “afval”:
1Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,2om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. 3Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, 4die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. – 2 Thessalonicense 2:1-4, 1953 Afrikaanse Vertaling
In sy pastorale brief aan Timótheüs, waarsku Paulus dat daar ‘n tyd sal kom wanneer hierdie dinge sal gebeur, en gebruik die frase afvallig word:
1Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang 2deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle eie gewete, 3wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken. – 1 Timótheüs 4:1, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die probleem is nie dat hierdie persone van hul geloof afgewyk het en die kerk verlaat het nie, maar eerder dat hulle van die geloof afgewyk het, steeds in die kerk is en nou ander mense beïnvloed. Ons dink dikwels dat die aanval teen die kerk, of eerder teen Christen gelowiges, van buite die kerk kom. In plaas daarvan, leef ons in ‘n tyd waar die sleutelwoord vir almal, “gemak” is – ons gaan na megakerke waar die verkeerspolisie moet toesien dat elkeen parkering vind; waar daar genoeg ruimte binne die kerk is vir gemaklike en gestoffeerde sitplekke, goeie lugversorging, asook professionele klank en video. Met duisende mense teenwoordig, kan jy wegkruip in jou eie gemaksone. Daar is skaars enige behoefte om jou Bybel te bring. Die teksverse en liedere word immers op oorhoofse stelsels aangebied, en ons glo dat wat uitgebeeld word, die ware Woord van God is, sonder om vir onsself in ons eie Bybels, na te gaan. Ons luister na die dinge wat die spreker sê, meestal sonder om te kyk dat wat gesê of gedoen word, volgens die Woord is. Deur dit te doen, word die woorde en dade van die mens die norm, nie die Woord van God nie.
Die rede hiervoor word gevind in Jesus se woorde in die brief aan die Laodicensiese gemeente:
17Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie. – Openbaring 3:17, 1953 Afrikaanse Vertaling
Baie mense voel dat wanneer hulle die dinge het wat hulle lewens gemakliker maak – geld, hoekom sou hulle geloof nodig hê? Vir hulle lyk dit of geloof net van toepassing is op diegene wat geen geld het nie en God dus moet smeek vir ‘n aalmoes. Jakobus verduidelik dat die rykes nie so gemaklik moet wees nie:
9Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, 10en die ryke in sy geringheid, want soos ’n blom van die gras sal hy verbygaan. 11Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk. – Jakobus 1:9-11, 1953 Afrikaanse Vertaling
Die probleem met ryk mense is nie dat hulle ryk is nie – daar is baie voorbeelde van mense wat beide ryk en getrou was, Job en Salomo is twee van hulle – maar die gesindheid wat saam met ryk mense gaan, dit is die probleem. Baie mense wyk af van die geloof, omdat hulle verblind is deur hulle oënskynlike vermoë om op hulle eie te oorleef – ek is ryk, het ryk geword en het niks nodig nie. Tog bly hulle in die kerk. Wanneer hulle op ‘n goddelike manier aangespreek word, is hulle reaksie dikwels die van:
3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. – 2 Timótheüs 4:3-4, 1953 Afrikaanse Vertaling
Vandag het ons baie kerke waar die waarheid nie die fokus van verkondiging is nie, omdat dit nie goed afgaan met baie in die gemeente nie. Hulle aanvaar nie die gesonde leerstellinge wat bekering en sondelose lewens bepleit nie. In plaas daarvan, waarskynlik as gevolg van hulle aansienlike finansiële bydraes, is hulle in ‘n posisie om kerkrade te manipuleer en te dikteer wie aangestel word as pastore en leraars, en ook dit waaroor gepreek mag word. Die mense in mag bepaal wat hulle as preek wil hoor, nie wat hulle moet hoor nie. Wanneer die boodskap nie hulle agenda pas nie, sluit hulle hul ore (draai hulle ore weg), en die gesonde leer word na verwys as fabels (stories wat geen basis het nie).
In baie kerke is die Woord van God nie meer die fokus nie, maar wel die idees en stories van die leraars. Daar die massas nie moeite doen om hulle Bybels te bestudeer nie, en nie weet wat in hulle Bybels geskryf is nie, word hulle mislei. Dit is die louwarm water waarna Jesus verwys in sy lering aan die gemeente van Laodicéa – die lou water wat goed is vir niks. Jesus impliseer dat dit beter is om geen lering (koue) te hê as om verdraaide lering (lou) te hê. ‘n Louwarm prediker, en die onderrig van ‘n louwarm boodskap, lei tot ‘n louwarm ontvanger. As jy tevrede is met onderrig wat ‘n halwe waarheid of ‘n fabel is, sal Hy jou uitspoeg!
Paulus het ‘n punt daarvan gemaak om Timótheüs te leer aangaande die dinge wat sou gebeur. As hierdie dinge reeds in die eerste eeuse kerk gebeur het, hoeveel erger het dit vandag geword?
1Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. – 2 Timótheüs 3:1-5, 1953 Afrikaanse Vertaling
Vers 5 noem dat baie mense ‘n vorm van goddelikheid sal hê, maar dat die krag van die Evangelie nêrens te vinde is nie.
Die bekende evangelie sanger, Steven Curtis Chapman, het dit op ‘n treffende manier opgesom:
There’s a preacher in a nice church
Anchored in the heart of town
People flock to hear his eloquent delivery
He talks of Jesus how he can please us
But the cross cannot be found
Makin’ theory out of facts until they’re all deceived
And the lost lead the way
And more hearts are led astray
These are the days when the blind lead the blind
And there’s one narrow way out of here
So pray that the light of the world will keep your eyes clear
‘Cause it’s a dangerous place here where the blind lead the blind
- Blind Lead the Blind
Baie hedendaagse predikers leer hoe Jesus ons kan behaag en elke keer wat ons bid, antwoord, maar baie van ons sal nie buig voor Sy wil vir ons lewens nie. As jy dit lees en dit klink soos jy, is dit tyd dat jy iets daaraan gedoen. Die koms van Jesus Christus om ‘n einde te maak aan die tydperk van genade is naby. Daarna is daar nie meer kans nie. Weereens, die grapmakers en kritici het dit te sê gehad (vers 4 van die aangehaal teks):
1Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan julle skrywe. In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, 2sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser. 3Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel 4en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af. – 2 Petrus 3:1-4, 1953 Afrikaanse Vertaling
Hulle grappies en uitlatings was reeds aan God bekend, en dit is waarom dit reeds in die Woord vervat is. Vir die gelowige in Jesus Christus, is ons verlossing nou nader as die dag waarop ons die eerste keer gered is. Dit is die geseënde hoop wat ons het:
11Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn 12en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe,13terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus,14wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke. – Titus 2:11-14, 1953 Afrikaanse Vertaling
In plaas daarvan om toe te laat dat die huidige situasie in die wêreld ons depressief en terneergedruk laat, het Godvresende Christen gelowiges al hoe meer rede om te juig en opgewonde te wees, ten spyte van die omstandighede. Terwyl ons die dag van Sy koms sien nader kom, laat ons dit in gedagte hou:
23Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; 24 en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; 25en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. – Hebreërs 10:23-25, 1953 Afrikaanse Vertaling
Opsomming
Jesus se oproep tot ons is om standpunt in te neem en ‘n keuse te maak. Jy is óf koud en geestelik dood, in welke geval jy ‘n ongelowige is, óf jy is warm en geestelik paraat en in diens van Sy werk, in welke geval jy ‘n gelowige is. Dog, die ongelowige het steeds die geleentheid om die reddende genade van Christus aan te neem. Jy kan kies om warm (ywerig) te wees en ‘n doel gevulde lewe in Jesus te leef.
Is jy ‘n louwarm Christen? Louwarm Christene sal uitgespoeg word deur die einste Verlosser waartoe hulle eens behoort het. Óf dit, of hulle was nooit gered om mee te begin nie. Voor Hy jou uitspoeg, besluit om te verander. Jy weet watter keuse om te maak.
