Die Bybel in jou hand

Dokumentasie Geplaas op Donderdag, 14 November 2024

Die Bybel in jou hand

Die Bybel in jou hand

Die Bybel wat jy vanaand saamgebring het is kosbaar. Dit is nie net ‘n boek met papier en ink nie, maar dit vertel die verhaal van God se totale openbaring van Homself aan die mens. As inleiding, vertel vir ons vinnig waarom jou Bybel vir jou kosbaar is en wat die geskiedenis is.

Kern teks: Psalm 119:105

105U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. – Psalm 119:105

Wat lees ons hieruit? Die skrywer is intiem betrokke in 'n lewende verhouding met God. Hy sê nie "Die Woord is..." nie, maar "U Woord is...". Hy praat met God en noem vir Hom dat sy Woord twee dinge doen. Dit is 'n lamp vir sy voet, en 'n lig vir sy pad.

As 'n lamp verlig die Woord die onmiddelike pad voor hom. Dit help vir huidige omstandighede, daar waar sy voete loop. Hy hou die lamp in sy hand. Ek en jy moet die Woord fisies in ons hand hou en bestudeer, anders beteken dit niks vir ons nie.

Die Woord is 'n lig vir sy pad. Jesus is die lig vir die wêreld (Johannes 8:12). In hierdie geval is die Woord dit wat my toekoms ook verlig, verder af in die pad. Dit is die lig vir my hele lewe.

Wat sê hierdie teksvers vandag vir jou? Hoe kan jy dit toepas?

Wat sê die Bybel oor Homself?

  1. Die Bybel is Goddelik geïnspireer. Wanneer Paulus skryf “Die hele Skrif...” bedoel hy die Ou Testament soos mense in daardie tyd toegang tot gehad het. Vir ons vandag sluit dit die Nuwe Testament in. Bestudeer 2 Timótheüs 3:16.
    1. Die Bybel is Gees-gedrewe. God is die outeur deur die Heilige Gees.
    2. Die Bybel is Gees-geblaas. Die Heilige Gees het deur mense gewerk.
    3. Die Bybel is nuttig vir
      1. lering – sodat mense die Woord kan leer ken: Wat sê die Woord?;
      2. weerlegging – sodat sonde uitgewys kan word;
      3. teregwysing – sodat beide die probleem en die oplossing sigbaar is; en
      4. onderwysing – sodat die regte lering in ‘n betrokke situasie toegepas kan word. Hoe moet ek dit toepas in my betrokke situasie? Daar is ‘n betekenis verskil tussen (i) lering en (iv) onderwysing.

  2. Die Bybel is deur God, deur middel van mense, aan ons gegee. Lees 2 Petrus 1:20-21.
    1. Dit is God se interpretasie van sake, nie die van mense nie.
    2. Mense wie geskryf het, is deur die Heilige Gees gedryf.
    3. Dit gaan oor God en sy wil vir ons, niks anders nie.
    4. God het die persoonlikhede en agtergrond van die skrywers gebruik.

  3. Die Bybel is altyd waar en betroubaar. Sien Psalm 12:7 en Titus 1:13-14.

  4. Die Bybel is die finale outoriteit. Geen ander bron kan gebruik word om die Bybel te weerlê nie. Sien Matthéüs 22:23-33. Die Jode het ander geskrifte, wat hulle self opgestel het, gebruik en Jesus spreek dit hier aan. Sien Exodus 3:6.

  5. Die Bybel is duidelik en sonder dubbelsinnighede, volgens Psalm 119:130.

  6. Die Bybel is voldoende. Sien 2 Petrus 1:3.
    1. Dit bevat al die inligting wat nodig is vir ons redding (2 Timótheüs 3:15 en Jakobus 1:21). Dit gee wat ons móét weet en nie noodwendig dit wat ons wíl weet nie. Wat ons móét weet is God se perfekte wil vir ons. Wat ons wíl weet is ons eie wil. Ons eie wil is nooit in ons beste belang nie.
    2. Ons mag niks by die Woord voeg of wegneem nie. Ons lees dit duidelik in Deuteronómium 4:2 en 12:32; en in Spreuke 30:5-6.
    3. Jy kan dalk ‘n ander bron raadpleeg om meer agtergrond oor die geskiedenis, geografie, en kultuur te kry, maar dit vervang op geen manier die inhoud van die essensiële waarheid van die Woord nie. Kom ons neem ‘n voorbeeld van ‘n teks wat ons voorheen bespreek het. Openbaring 3:14-15 meld dat Jesus nie mense soek wie lou is nie, maar eerder warm of koud. Dit is maklik om hierdie gedeelte verkeerd te interpreteer. Laodicea het nie ‘n waterbron gehad nie en die inwoners het hulle eie ding gedoen en water van vêr af gekry en van ‘n verkeerde bron af. Indien hulle egter die water van Kolosse (koue, vars water) en Hiërapolis (warm bron) gebruik het, het hulle die beste van beide gehad – ‘n koue bron om die liggaam innerlik te genees, en warm water om die liggaam uiterlik te genees. Ons verstaan dalk vandag nie die voorbeeld nie, maar die mense van die tyd het wel. Dit was deel van hulle ervaring.

  7. Die Bybel is kragtig. Sien Jeremia 23:29.
    1. Dit red mense – Romeine 1:16
    2. Dit kom in krag – 1 Thessalonicense 1:4-5
    3. Dit sny akkuraat – Hebreërs 4:12
    4. Dit is effektief – Jesaja 55:10-11

  8. Die Bybel is Christus-gefokus. Sien Lukas 24:25-27.
    1. Dit gaan oor God se plan van redding vir die mens.
    2. Sien Lukas 24:44-45. Die Hebreeuse Bybel bestaan uit drie dele:
      1. Wet
      2. Skrywes
      3. Profete
    3. Lees Johannes 5:39-46. Moses het oor Jesus geskryf.

  9. Die Bybel is kosbaar. Leer Jeremia 15:16 en die volgende teksgedeeltes:
    1. Dit is kos – Jeremia 15:16;
    2. Dit is lewe – Deuteronómium 32:46-47;
    3. Dit is troos – Psalm 119:50;
    4. Dit is krag – Psalm 119:28;
    5. Dit is ‘n rigting wyser – Psalm 1119:105;
    6. Dit is ons begeerte – Psalm 119:20;
    7. Dit is ons hoop – Psalm 130:5;
    8. Dit is ons liefde – Psalm 119:97;
    9. Dit is ons blydskap – Johannes 15:11; en
    10. Dit is kosbaar – Psalm 119:72.

  10. Die Bybel is in totaliteit nuttig vir ons. Paulus beskryf dit in Romeine 15:4. Wanneer laas het jy een van die volgende boeke gelees: Levitikus, Kronieke, Hooglied of Sefanja? Ek noem sommer hierdie as boeke wat ek self lanklaas gelees het. Elkeen is in konteks van toepassing.

Daar is wel dele wat dalk nie direk op ons van toepassing is nie, maar tog ‘n boodskap vir ons het. Ek het verlede week gemeld dat Jeremia 29:11 sekerlik een van die teksgedeeltes is wat ons dikwels heeltemal uit verband ruk. Kom ons kyk daarna: Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.”

Dit klink pragtig, maar lees vanaf vers een en jy sal sien dat die konteks gaan oor Israel se ballingskap. Die teks het dus niks met my en jou te doen nie, selfs al weet ons dat die Here ons vrede en hoop wil gee. Leer dus om die Woord in konteks te bestudeer. Hoe meer jy die Woord jou eie maak, hoe meer sal God Homself deur hierdie selfde Woord aan jou openbaar. Daag jouself uit om hierdie week een nuwe Psalm te memoriseer, uitgesluit Psalms 23 en 117.

Gebaseer op ‘n lesing van Matt Smethurst: https://www.thegospelcoalition.org/article/bible-says-about-itself/

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy