Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 25 November 2022

Die goedheid van God in jou lewe: Ons moet meer bewus wees van wat God in ons doen

Die goedheid van God in jou lewe: Ons moet meer bewus wees van wat God in ons doen

Ons raak dikwels heeltemal vasgevang in die eentonige realiteite van die lewe. Daaglikse roetines soos opstaan, die kinders regkry vir skool, regmaak vir werk, ‘n gesukkel in die verkeer, ‘n taak om toe doen waarvan ons niks hou nie – hierdie is net sommige van die goed wat ons vervelig noem. Tog moet ons deur hulle almal gaan. Ons raak so verstrengel dat ons vergeet dat te midde van dit alles, is God teenwoordig, en vul ons lewens met goedheid vêr bo dit wat ons kan bedink.

Ons het reeds voorheen in meer besonderhede na Psalm 23 gekyk, en ons gaan dit nie hier herhaal nie, maar dit kom op die volgende neer:

5U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. – Psalm 23:5

Te midde van probleme veel groter as wat ons vandag ooit mee te doen sou kry, skryf Dawid dat die Here vir hom ‘n tafel voorberei wat sy teëstanders jaloers maak, word hy met olie gesalf, en het hy meer as wat hy ooit nodig sou kry.

Om iemand met olie te salf het ‘n besondere betekenis in die Bybel. Wanneer jy gaste genooi het vir ete, sou jy dikwels die vernaamste gaste met olie salf. In ‘n sterk bewoorde onderonsie met Petrus, meld Jesus aan hom dat hy geen van die dinge gedoen het wat die kultuur vereis het nie – hy het nie water gekry en sy voete gewas nie; hy het Hom nie ‘n kus van verwelkoming gegee nie; en hy het nie Sy hoof met olie gesalf nie (Lukas 7:44-26). Die vrou wie teenwoordig was in die huis van die Fariseër, het al hierdie dinge aan Jesus gedoen (Lukas 7:46). Lees die teks mooi: Jesus vaar nie uit teen die Fariseër se optrede nie, maar verwys na ‘n insident in Petrus se eie huis, en gee hom ‘n les in Joodse hoflikheid (Lukas 7:44). Dink net hoe Petrus moes voel.

Om iemand met olie te salf het ook ‘n verdere betekenis van vreugde wat oor die persoon uitgestrooi word. As ons weer na Psalm 23:5 kyk, sien ons dat god ons salf, en hy wil sy vreugde met ons deel, in oorvloed. Lees nou die laaste vers van die psalm.

6Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae. – Psalm 23:6

Goedheid en guns gaan nie bloot net na sy kant toe kom nie, dit volg hom waar hy ook al gaan. Waarom volg ons iemand of iets? Ons doen dit omdat dit van waarde vir ons is. Op dieselfde manier ag God jou so hoog dat sy goedheid jou volg, en saam met dit sy guns, waarsonder ons nie een dag sal oorleef nie. Het jy al gedink hoe God se guns en goedheid vandag oorvloedig in jou lewe was? Voordat jy verder lees, dink terug aan vandag. Wat het gebeur wat God se goedheid demonstreer? Selfs al het jy ‘n verskriklike dag gehad, dalk iemand moes groet wat oorlede is, of ‘n operasie gehad, of slegte nuus van een of ander aard ontvang het, is Psalm 23:6 nog steeds geldig. Hoe kan ek hierdie stelling maak as jou dag net suid gegaan het? Op grond van hierdie belofte:

5Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. – Hebreërs 13:5, Deuteronomium 31:6

Lees wat hier staan: God sal jou in geen omstandighede in die steek laat nie. Sy goedheid volg ons waar ons ook al gaan. Ek is dankbaar vir my omstandighede – vir die pragtige weer, die voëls in die bome, om gesond te wees. Meer as dit, is ek dankbaar dat Hy my so lief gehad het dat Hy my gekies het om gered te word en in sy goedheid te deel! Indien geen van hierdie dinge vir my geld nie, word ek nog steeds vermaan om dankbaar te wees:

18Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. – 1 Thessalonicense 5:18

Waarom sal ons in alles dankbaar wees? Omdat dit wat met ons gebeur, God se wil vir ons lewens is. God se goedheid werk in ons en ons moet op ons beurt goedheid toon deur die vrug van die Gees in ons lewens (Galasiërs 5:22). Dieselfde Gees wat die goedheid van God demonstreer, werk in jou om dieselfde goedheid aan ander te bewys.

Slotsom

‘n Christen sanger sing oor die bewys van God se goedheid wat hy elke dag in sy lewe ervaar. Miskien moet ons meer doen om die bewys van God se goedheid in ons lewens te vind. Die bewys is dikwels nie net aan my bekend nie, maar is ook sigbaar vir diegene rondom my. Moenie net vir die groot en belangrike bewyse soek nie, maar ook vir die klein dingetjies wat ons dikwels miskyk.

God se goedheid is een van die intrinsieke karaktereienskappe van sy aard:

9Tet. Smaak en sien dat die HERE goed is; welgeluksalig is die man wat by Hom skuil! – Psalm 34:9

Verder, aangesien een van die karaktereienskappe van God sy onveranderlikheid is, beteken dit dat Hy nie sy goedheid sal verander nie. Hy is goed vir almal, of ons dit verdien of nie. As jy ‘n plaasboer is en as gelowige bid dat dit sal reën, gaan dieselfde reën waarskynlik ook op jou ongelowige buurman se plaas val. Hy sal egter dit wat jy as ‘n seën sien, as natuurlik en niks besonders nie, ervaar.

43Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; 45sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. – Mattheus 5:43-45

As jy dit tot dusver nie gedoen het nie, neem tyd, dink aan die goeie dinge wat Hy vir jou gedoen het, en skryf hulle neer. Daarna dank jy Hom daarvoor. Gaan dan uit en deel dit met ander mense. Die wêreld daar buite moet hoor dat alles nie vir hulle verlore is nie, en dat God hulle lief het. Ons moet egter nie huiwer nie. Die uurglas is besig om uit te loop. Daar is eintlik nog net ‘n paar sekondes oor. Moenie die geleenthede wat jy het mors nie, ter wille van jouself en andere.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy