Wat in die kerk gebeur, is al lank reeds voorspel

Die noodsaaklikheid om die Woord te bestudeer en verleiding te voorkom
Hierdie week se boodskap is baie anders as voriges. Neem jou Bybel, druk die PDF dokument wat hier aangedui is uit, doen die Bybelstudie alleen of saam met iemand anders, en leer wat die Woord sê.
Druk hierdie dokument uit: [ 2 Timótheüs 3 en 4 ] en gebruik dit dan om jou Bybelstudie te voltooi.
Ons kyk hierdie week na die misleiding wat in ons tyd plaasvind. Hierdie misleiding kom nie van die “wêreld” af nie – dit gebeur in die kerk. Kom ons kyk wat die Woord sê oor hoe die kerk in die laaste dae gaan ontaard. Hierdie is intense Bybelstudie. Ons lees uit 2 Timótheüs 3 en 4.
Stel jou hierdie situasie voor: Paulus weet dat sy einde naby is. Meeste van sy volgelinge het hom verlaat. Hy skryf sy laaste brief, aan Timótheüs. Hierdie jong leraar moet met die werk wat Paulus begin het, aangaan. Paulus gee raad en bemoedig hom.
- 2 Timótheüs 3:1 – In die laaste dae gaan daar swaar tye wees. Waarom?
- Wat is die gesindheid wat hierdie mense openbaar? Sien verse 2 – 4.
- Wat sien ons in vers 5? Is hierdie mense in of buite die kerk? Motiveer.
- Dink jy dat dit wat Paulus hier beskryf nog moet gebeur, of gebeur dit nou al in ons tyd?
- Kyk na vers 7 en vergelyk dit met vers 16.
- Wat dink jy leer hulle in vers 7?
- Is dit Gees-geïnspireerd?
- Wat leer vers 16 ons?
- Wat is die doel van vers 16?
- Wie is hier die inspirasie?
- Vergelyk vers 12 en 13. Bespreek.
- Kyk na hoofstuk 4, vers 2. Wat moet Timótheüs doen? Daar is vyf take. Wat beteken hulle?
- Kyk mooi na vers 3, en die woord “hulle”. Na wie verwys “hulle” hier? Jy gaan verder terug moet soek as hoofstuk 4.
- Daar is iets baie interessant wat met hierdie mense gebeur. Kyk na vers 13, die laaste gedeelte.
- Terug by vers 3. Wat gaan hulle nie verdra nie?
- Wat gaan hulle eerder doen? Daar is drie dinge wat hulle gaan doen.
- Kyk na vers 4. Verduidelik “waarheid” teenoor “fabels”.
- Kom ons gaan gou terug na vers 2. Hierdie vers is die voorbereiding wat ek en jy moet doen vir die tyd wat in vers 3 en 4 uitgebeeld word.
- Wat moet ek en jy doen, volgens vers 5? Dink jy ons het dieselfde taak as Timótheüs?
- Kyk na vers 6. Waarom gee Paulus hierdie raad aan sy volgeling?
- Wat het Paulus gedoen om tot hier te kom?
- Wat is sy beloning? Gaan doen bietjie navorsing oor die vyf krone wat die Woord noem.
- Hoe kan jy hierdie gedeelte op jou lewe toepas?