Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 29 Desember 2023

>Die ondergang van die Kerk kom van binne. Die Kerk kan die wêreld oorleef, maar pasop vir die infiltrasie van die wêreld se kant af

Die Kerk kan die wêreld oorleef, maar pasop vir die infiltrasie van die wêreld se kant af

Charles Spurgeon het iets in die volgende trant gesê: 'n Boot is veilig in die wydste en diepste oseaan, totdat 'n paar golwe oor die kante begin slaan water in die boot inlaat. Dan kan dit vinnig sink. Dit is nie die breedte of die diepte van die water wat die boot se ondergang veroorsaak nie, maar water binne-in die boot.

Dit som die moderne Kerk redelik op. Dit sou volkome in staat wees om “die wêreld” rondom dit en sy invloede te oorleef, solank daardie invloede uit die kerk bly. Die wêreld stel nie belang in die Kerk nie. Hoe word die Kerk dan geraak tot die punt dat dit gereed is om te sink? Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde van golwe wat oor die kante neerstort en die boot vol maak.

Die jag na getalle

In plaas daarvan om te verstaan dat nuwelinge, om in die Kerk te funksioneer, soliede Bybelse leerstellings geleer moet word, is ons so bly om te sien dat ons getalle elke Sondag toeneem, dat ons net nie die tyd neem om te verseker dat hulle behoorlik in die gesonde leer opgelei is nie. Maar wag, Jesus is lief vir hulle, en ons moet nie te opdringerig wees nie, reg? Laat hulle net hul eie ding doen en moet hulle nooit uitdaag nie. Skep preke sodat hulle hoor wat hulle wil hoor. Bied eredienste aan waar hulle dieselfde goed kan sing wat hulle in die wêreld sing, maar sit 'n paar "Jesus"-frases by om dit aanvaarbaar te laat klink. So laat ons toe dat mense wat geen werklike begeerte het om getransformeer te word deur op 'n nuwe manier te dink nie, soos beveel in Romeine 12:2, om soos die wêreld in die Kerk voort te gaan. As daar geen transformasie na die nuwe lewe is nie, bly dit ooreenstemmig met die wêreld, binne die Kerk!

1Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. 2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. – Romeine 12:1-2

Die Woord

Ons kyk nie of die Bybels wat lidmate in die erediens inbring, aanvaarde weergawes is nie, en nie sommige van die valse vertalings en parafrases wat ons vandag het nie. O nee, ons wil hulle op hul vlak as onvolwasse gelowiges ontmoet, so hul Bybelvertaling is reg, al is dit 'n parafrase met meer opmerkings en hakies as werklike oorspronklike teks. Jy hoef nie die Woord te verduidelik deur parafrasering en hakies binne die teks te gebruik nie. Ek stel nie belang om die skrywer se opinie oor die Woord te hoor nie. Ek wil die Woord hoor soos God dit aan die oorspronklike skrywer gegee het. Ek het 'n jongeling hoor sê sy wil nie die 1953 Afrikaanse Bybel lees nie, want die teks is te moeilik om te verstaan en weier om dit te gebruik. Jong dame, as ek kon leer om die 1611 King James Version, wat meer as 400 jaar oud is, en ander aanvaarde weergawes van die Bybel te gebruik, dan kan jy die 1953 Afrikaanse Vertaling leer, wat hierdie jaar 70 jaar oud is.

Hier is 'n voorbeeld van 'n besonder slegte parafrase-vertaling, uit The Passion Translation, waarvan ek hier ‘n Afrikaanse weergawe gee:

“Moet nooit twyfel aan God se magtige krag om in jou te werk en dit alles te bereik nie. Hy sal oneindig meer bereik as jou grootste versoek, jou mees ongelooflike droom, en jou wildste verbeelding oortref! Hy sal hulle almal oortref, want sy wonderbaarlike krag gee jou voortdurend energie.”

Raai waar kom dit vandaan? Uit Efesiërs 3:20, wat in 'n meer aanvaarde vertaling lees:

20En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, 21aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen. – Efesiërs 3:20

Jy kan argumenteer dit is wat die teks moontlik kán beteken. Die parafrase is egter baie selfgesentreerd, en die bewoording neem die fokus weg op die krag wat van God af kom. As hierdie teks so in 'n preek verduidelik is, kon dit so deurgegaan het asof dit kommentaar lewer op die Woord van God. Dit word egter in 'n "bybel" (kleinletter bedoel) gevind en is nie meer die Woord van God nie, maar aannames oor God. Gesonde leer is krities, maar dit kan slegs behoorlik verstaan word deur 'n behoorlike Bybel te gebruik.

Hier is die ware Woord se beskouing hiervan:

3want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 4en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. – 2 Timótheüs 4:3-4
  • In die moderne tyd wil die meeste 'n maklike uitweg hê – gesonde leer is te moeilik, en dit sny te na aan hul sondige lewens, wat hulle nie wil prysgee nie;
  • Hulle wil hoor wat nie vir hulle aanstootlik is nie, so hulle kry die aanbidding wat hulle wil hê, en leraars wat preek wat hulle wil hoor;
  • Hulle draai weg van gesonde leer soos dit deur aanvaarde vertalings gegee word, en lees eerder stories en versinsels.

Aanbidding

Hulle hou nie van die gewyde en Goddelike atmosfeer van die Sondagdiens nie en daarom word ons aanbidding 'n raserige aangeleentheid. Orrels en selfs onlangs klaviere word as argaïes beskou. Dit is dus aanvaarbaar dat ouer, meer gevestigde gelowiges wat die plaaslike kerk vir baie jare dra, hierdie "aanbidding" moet verduur om 'n jonger skare te vermaak. Die musiek moet hulle goed laat voel. Dit gaan oor hulle en hul gevoelens. Dit is 'n selfgesentreerde aanbidding, nie God-gesentreerd nie.

Weiering om gesag te aanvaar

Ek hoor baie sê dat hulle nie van gesag hou nie en dat ons as gelowiges almal gelyk is voor God. Laasgenoemde is dalk waar, maar jy het sopas die Woord verkeerd toegepas, want jy laat nie toe dat jy aan ouer en wyser gelowiges onderwerp word en van hulle leer nie.

7Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na. – Hebreërs 13:17

Ek beskou myself as 'n leier in die kerk met 'n goeie begrip van die Woord van God, en genoeg jare tot my krediet. Ek het 'n pad van geloof met God gestap, langer as wat baie ander tot dusver gedoen het. Sodra die "ou" heersers nie meer daar is nie, kan jy doen wat jy wil. Op die oomblik stel diegene wat oor jou aangestel is die voorbeeld, toon, en rigting.

Hoekom is ek so streng? Want as jong Christen het ek ook gedink ek “het gearriveer”, en het gevolglik baie foute gemaak – “flaters” is seker ’n beter woord. Ek het nie altyd die teregwysing van ouer en meer ervare mense waardeer nie, maar vandag weet ek dit was nodig om my te vorm om nuttig te wees vir God as 'n dienaar, eerder as om 'n arrogante eie ek te wees. Die belangrikste les om hier te leer is dat dit nie oor my gaan nie; dit gaan oor God en sy wil vir my lewe.

’n Onwilligheid om gesag te aanvaar voeg nog water by die boot en is teen God se wil.

Gebed

Ek wou 'n tradisionele biduur in die kerk begin. Toe word ek meegedeel dat die program vir die week te vol is om "nog 'n aktiwiteit" te akkommodeer. Hoe goed sommige van hierdie programme ook al kan wees, is die meeste daarvan daarop gerig om die deelnemer 'n beter mens te maak. Die fokus is op die persoon, nie op God nie. Dit blyk dat baie in die kerk voel die tradisionele biduur is te lank en hulle vind dit vervelig. Jesus se woorde resoneer:

40En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? 41Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. – Matthéüs 26:40-41

Slegs een uur. Dit is al wat Jesus van sy dissipels gevra het in Sy uur van nood.

Manne van geloof het geweet hoe om effektief te bid. Lees maar Nehemia 1:5-11 en Daniël 9:4-19. Hulle gebede was nie oor enige voordeel vir hulleself nie, maar eerder om hulle sondes te bely en God te smeek om genade en vergifnis. Ek dink die meeste Christene vandag het nog nooit geleer om effektief te bid nie of gee nie om daaroor nie. Hoekom? Omdat gebed in wese op God fokus en nie op hulle nie, en hulle hou nie hiervan nie. ’n Biddelose gesindheid oorstroom die Kerk.

Wat moet ons doen?

Terwyl die Kerk gevul word met wêreldse standaarde, is daar diegene wat die stem van God duidelik hoor en toegewyd is aan behoorlike leerstellings en orde, soos deur Jesus opdrag gegee:

11En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 12om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 13totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 14sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; 15maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, 16uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.– Efesiërs 4:11-16

Daar is 'n paar dinge wat hier opgemerk moet word. Eerstens is die vyfvoudige bediening progressief en moet in konteks gesien word. Daar is geen profete en apostels meer in ons tyd nie. Daardie twee bedieninge het hul doel gedien, en hulle was nodig aan die begin van die Kerk. Hulle is soos die fondamente van 'n gebou. Ons weet die fondasie van die gebou is daar, maar dit speel nie meer 'n sigbare rol in die huis nie, en ons grawe nie voortdurend die grond op om seker te maak dit is daar, of bou 'n nuwe fondasie nie. Daar is geen fondament meer om te lê nie. Wat ons vandag meer as enigiets nodig het, is toegewyde pastore en leraars, wat sal leer wat die Woord beveel, en nie deur die opinie en wil van die massas geslinger word nie.

Ons het mense nodig om geestelik te groei, gewortel in die gesonde leer, sodat hulle nie meegevoer sal word deur valse leerstellings nie maar dit eerder kan identifiseer en daarvan wegbly. Die identifisering van valse leerstellings, aangedryf deur valse leraars, is noodsaaklik. Om eerlik te praat, al maak dit iemand seer, is nodig, sodat die liggaam as 'n eenheid kan funksioneer, met die uitsluitlike doel om Christus te verheerlik.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy