Die Opstanding uit die Dood

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 22 April 2024

Die Opstanding uit die Dood

Waarin glo jy werklik?

Ons sien dikwels dat evangelisasie pogings baie oppervlakkig is. Iemand preek iewers, en doen ‘n uitnodiging vir mense om “hulle harte vir Jesus te gee”. ‘n Hele aantal reageer. Dit klink baie mooi, maar dit is nie heeltemal korrek nie, eerder baie vêr van die waarheid af. Die vraag is waarin jy werklik glo noudat jy die Here Jesus Christus as Verlosser en Saligmaker aangeneem het.

Glo jy in God (by implikasie die Vader)? Dit is nie voldoende nie. Glo jy in sy Seun, Jesus Christus? Dit is ook nie voldoende nie. Glo jy dat Hy gesterf het vir jou sonde? Jy is amper daar, maar nog steeds is dit nie voldoende nie. Wat dan? Wat word dan as voldoende beskou vir jou redding? Eenvoudig dit: jy moet glo dat Hy alles is wat sover genoem is, en dat Hy uit die dode opgestaan het. Sonder dit, bly Jesus Christus nog steeds aan die kruis, of in die graf, en beteken jou belydenis net mooi niks nie.

Kom ons kyk mooi hierna: Jy kan alles glo tot net voor die opstanding van Jesus Christus, en dit sal jou nie red nie. Daar is baie mense wie hulleself Christene noem, wie eintlik nie glo dat God sy Seun Jesus Christus uit die dode opgewek het nie. ‘n Goeie voorbeeld is die Rooms Katolieke, en ook elkeen wat ‘n kruis dra met die beeld van Jesus nog steeds daarop. Vir baie van hulle het Hy nooit uit die dood opgestaan nie en is nog steeds aan die kruis. As gevolg daarvan is hulle geloof nutteloos. Die geregtigheid word net toegereken (Romeine 4:24) “aan ons wat glo” dat Jesus “ter wille van ons misdade opgewek is ter wille van ons regverdigmaking”. Daar is nie regverdigmaking vir ongelowiges nie, eenvoudig omdat hulle nie glo in die opstanding en lewe van Jesus Christus nie.

Lukas beskryf dit in Handelinge 23:6 en hiermee vat Paulus die essensie van die evangelie in een sin vas:

6En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg.Handelinge 23:6

Paulus was ‘n uitgeslape man. Hy het goed geweet hoe om die Sadduseërs en Fariseërs teen mekaar af te speel. Die Sadduseërs het nie in die opstanding van die dode geglo nie. Die Fariseërs het wel. Toe hy voor die Sanhedrin gedaag word, was sy fokus om Jesus aan hulle bekend te stel as nie net die Een wie tydens ‘n oproer in Jerusalem tereg gestel is nie, maar wie uit die dood opgestaan het. Hy verskyn voor hierdie mense presies oor die opstanding. Dit is sy hoop, en ek vertrou ook joune. Paulus het ‘n verwagting om te sterf en dan as ‘n nuwe mens in Christus op te staan (Filippense 1:23). Dit wat hy op die aarde mee begin is, is nog net ‘n gedeeltelike opstanding. Dit word voltooi wanneer hy as mens sterf en in ‘n verheerlikte staat opgewek word om saam met Christus te wees.

Paulus beskryf hierdie aspek baie mooi in sy brief aan die kerk in Rome, veral in Romeine hoofstuk 4. Kyk mooi na vers 23. God se beloftes is eerstens nie net vir Abraham nie, maar ook vir ons. Abraham is regverdig verklaar sodat ons vandag die voordele daarvan kan geniet. Net soos wat uit Abraham en Sara se verstorwe toestand (vers 19) lewe gekom het, het daar uit my en jou as ongelowiges lewe gekom toe ons tot die geloof gekom het. Abraham se geloof het deur Jesus Christus in my en jou gerealiseer. Sien Romeine 4:23-25.

In sy briewe aan die gemeente in Korinthe beskryf hy die opstanding. Dalk moet jy eers hier stop, 1 Korinthiërs 15 lees, en dan verder hier lees. Die hoof momente van die hoofstuk is dit:

  1. Jesus Christus het uit die dode opgestaan (vers 4);
  2. Hy het liggaamlik aan baie mense verskyn (vers 5-8), ook aan Paulus;
  3. Indien Hy nie uit die dode opgestaan het nie, is ons geloof nutteloos (vers 12-18);
  4. Ons word deur Jesus Christus se dood en opstanding lewend gemaak (vers 19-23);
  5. As die dode nie opgewek word nie, dan kan ons maar net sowel lekker leef, want ons gaan in elk geval sterf, en nie opgewek word nie (vers 29-32). Vers 32 is geneem uit Jesaja 22:13;
  6. Paulus gebruik die voorbeeld van ‘n saad om sy punt te verduidelik (vers 36-43);
  7. Hy verduidelik die verskil tussen die natuurlike en geestelike liggaam (vers 44-50);
  8. Hierna tref hy hulle met die essensie van die evangelie – die verandering van die gelowige van sy verganklike na sy onverganklike staat (vers 51-54); en laastens
  9. Die dood is oorwin (vers 55-58).

Was dit nie vir die dood én opstanding van Jesus Christus nie, is daar geen hoop vir ons nie. ‘n Saad wat nie in homself sterf en in die grond geplaas word nie, kan nie lewe bring nie.

Wat ek en jy dus moet doen is om ons geloof in Jesus se opstanding uit die dood te plaas. Soos wat daar lewe uit Abraham en Sara gekom het, so het die Lewe gekom toe Jesus uit die dode opgewek is (Romeine 4:24). Sonder dood sou daar nie nuwe lewe kom nie. Toe Jesus aan sy dissipels verduidelik het dat Hy die weg, die waarheid, en die lewe is (Johannes 14:6), het sy dissipels nog nie verstaan dat die lewe eers sou kom na die dood nie. Sy dood moes tot opstanding lei. Sonder dit, was sy sending na die aarde nutteloos.

Die vraag is in watter aspek van Jesus ons ons geloof plaas. Is dit dat Hy die Seun van God is? Dat hy die beste leraar van alle tye was? Dink jy dat dit is omdat hy die Skepper is (Johannes 1:1-5)? Niks hiervan gaan jou red nie, behalwe hierdie gedeelte: “ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.” (Romeine 4:24-25).

In die film Risen sien ons hoe die Romeinse soldaat by die kruis staan en in die oë van Jesus kyk nadat Hy alreeds dood is. ‘n Paar dae later bars die soldaat by die huis in waar die dissipels sit, en sien hy dieselfde twee oë toe Jesus lewend saam met die dissipels sit. Die skok is groot. Hy het dan self gesien hoe die man sterf, en nou sit Hy hier, lewendig soos die res van die dissipels. Dit is die skeiding tussen ‘n halwe waarheid en die volle evangelie.

Opsomming

Dit is tragies hoe daar dikwels ‘n afgewaterde evangelie aan ongereddes verkondig word. Ons moet eenvoudig mense deur die Woord, en uit die aard van die saak deur die werking van die Heilige Gees, kan oortuig dat geloof in die opstanding van Jesus Christus tot hulle redding lei. Daar is ‘n spreekwoord wat lui dat ‘n halwe waarheid so goed as ‘n leuen is. Indien ‘n halwe evangelie verkondig word, is dit net so goed as een wat nie waar is nie.

Aan die einde van die dag hang jou redding, en die van ander mense, eerstens af van die volle waarheid wat verkondig is, nie net dele daarvan nie. Tweedens, dat jy daardie volle waarheid aanvaar.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy