Die sin van Christus

Die gesindheid van Christus moet in ons ook wees
Geplaas op Maandag, 31 Oktober 2022
Ons moet daarna streef om meer en meer soos Jesus te wees. Die Woord spreek hom daaroor uit:
16Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kon onderrig? Maar ons het die sin van Christus. – 1 Korinthiërs 2:16
asook:
5Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. – Filippense 2:5
Wie van julle het al ooit hierdie twee verse bedink, of selfs probeer verstaan wat dit vir jou as ware gelowige beteken? Kom ons bekyk dit vanuit die Skrif. Om die sin, of te wel die geaardheid van Christus te hê, beteken die volgende:
- Om God se plan te verstaan:
Om aan Homself glorie te bring, om die skepping tot sy oorspronklike prag te herstel, en om verlossing van sondes vir elke mens te bewerkstellig.
- Dit beteken ons kan nou identifiseer met Christus se begeerte om die verlorenes te vind en te red.
10Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. – Lukas 19:10
- Dit beteken ons deel Jesus se perspektief aangaande gehoorsaamheid en nederigheid ongeag van die situasie waarin ons ook al mag verkeer.
6Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, 7maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk te word; 8en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. – Filippense 2:6-8
- Medelye:
36En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. – Mattheüs 9:36
- Biddende afhanklikheid tot God:
16Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid. – Lukas 5:16
Daar is ook sekere ander waarhede aangaande die geaardheid van Christus vervat in die Skrif.
Ons vind dit opgeteken in 1 Korinthiërs 2:5-15:
- Die geaardheid van Christus is in skerp kontras met die wyshede van die mens.
- Die geaardheid van Christus behels die wysheid van God:
7Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid. – 1 Korinthiërs 2:7
- Die geaardheid van Christus kan nie verstaan word deur dié wat sonder die Gees is nie.
- Die geaardheid van Christus gee aan ware gelowiges die vermoë om onderskeid te tref in alles wat geestelik is.
Om die geaardheid van Christus te kan hê moet ons die "reddings geloof" in Christus Jesus hê. Na ons verlossing begin elke gelowige lewe onder die invloed van God. Die Heilige Gees, wat inwonend in ons is, verlig ons en vervul ons met hierdie wysheid – die geaardheid van Christus.
As ware gelowiges dra ons die verantwoordelikheid om ons te onderwerp aan die leiding en lering van die Heilige Gees, en dat ons die Heilige Gees sal toelaat om ons te verander en ons denke te vernuwe.
Baie mense is gewillig om te deel in hierdie geaardheid van Christus; maar slegs wanneer dit geen opoffering van enige aard insluit nie. Ons kan nie aan hierdie sondige wêreld en al sy perversiteit vasklou en een word daarmee nie, maar ons moet egter volkome verander, want ons verlossing is volkome. Jesus se voltooide werk aan die kruis is volkome.
2En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. – Romeine 12:2
Mag die Gees met julle wees, en julle volkome verander!
Bekeer. Bely. Glo. Vertrou.
Groetnis
Gerhardt