Die wedloop van die lewe

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 3 Februarie 2025

Die wedloop van die lewe: Jy moet dit enduit volhou

Die wedloop van die lewe: Jy moet dit enduit volhou

Paulus is aan die einde van sy lewe. Sy bediening is verby en so ‘n lewe van opoffering om die evangelie te verkondig. Hy som sy lewe op vir Timótheüs, wie sy opvolger sou word.

7Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. 8Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het. – 2 Timótheüs 4:7-8

Die wedloop van die lewe is nie een om ligtelik op te neem nie. Ons lees alreeds in die eerste Psalm iets hiervan:

1Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; – Psalm 1:1

Die drie werkwoorde hier word in die negatief gebruik omdat beskryf wat die gelowige nie doen nie:

  1. wandel nie – hy volg nie die raad van ongelowiges nie
  2. staan nie – hy volg nie die weg van sondaars nie
  3. sit nie – hy bevind homself nie tussen spotters nie (2 Pet 3:3)

Kyk na die progressie van die ongelowige mens. Wandel is nog ‘n aktiewe werkwoord. Die man beweeg ten minste. Daarna gaan staan hy, en hou op wandel. Laastens gaan sit hy en gee op. Dit is hoe die ongelowige mens leef.

Ek en jy is nie ongelowiges nie en ons is almal besig met ons eie wedloop van die lewe. Ons moet aanhou wandel, sal dalk soms gaan staan as ons moeg raak, maar ons mag nie gaan sit nie. Vra enige atleet wat aan ‘n marathon of langer wedloop deelneem (Two Oceans, 56 km en Comrades, 89 km). Jy word dalk moeg, jy kan nog gaan staan en weer begin vorentoe beweeg, maar as jy eers gaan sit het, kom min atlete terug uit daardie posisie om die wedloop te voltooi. Die opbou van melksuur in jou spiere maak dat as jy eers gaan sit het, die krampe so erg word dat jy kan opstaan nie, selfs al wil jy. Dit is die krampe van die lewe in ‘n geestelike konteks.

Die wedloop van die lewe gaan nie oor hoe jy dit begin het nie, maar hoe jy dit eindig. Paulus noem aan Timótheüs dat hy die wedloop voltooi het. Vir hom wag daar ‘n beloning. Vir die gelowige in Jesus Christus is daar egter een aspek wat ons nie moet vergeet nie: jy weet nie hoe lank jou wedloop gaan wees nie. Paulus kon met sekerheid sê dat die einde van sy pad op hande was. Hy het egter drie doelwitte bereik:

  1. Hy het die goeie stryd gestry – hy het aanhou doen wat God hom voor geroep het.
  2. Hy het die wedloop voleindig – tot op die laaste toe was hy getrou aan die opdrag.
  3. Hy het die geloof behou – hy het nie opgegee nie.

Het jy alreeds hierdie drie doelwitte bereik? Dink mooi oor die antwoord wat jy vir elke stelling gee. Ons weet nie hoe lank ons wedloop is nie. Dit is die verskil tussen die beste voorbeeld wat ons kan gee, ‘n aardse wedloop, en die realiteit dat God se afstand vir ons persoonlike wedloop nie aan ons geopenbaar is nie en nie dieselfde is as ander mense se wedloop nie. Moenie jouself met ander gelowiges vergelyk nie, nie eers diegene wie die naaste aan jou is nie. Volg wel hulle goeie voorbeeld na. Selfs gelowiges wie in die Woord opgeteken is, het die fout gemaak om hulle omstandighede met die van ander te vergelyk in die hoop om onsself te regverdig.

19En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My. 20En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier? 21Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom? 22Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. – Johannes 21:19-22
  1. Wie was die dissipel waarna Petrus verwys het?
  2. Wat is Jesus se antwoord op Petrus se vraag?
  3. Wat is Jesus se opdrag aan Petrus?

Moenie jou wedloop met die van ‘n ander een wil verruil of vergelyk nie. Elkeen van ons is geroep om in hierdie jaar voluit te leef. Jy weet nie wanneer die einde van jou wedloop aanbreek nie. As jy dalk laasjaar iewers moeg geraak het om te wandel en gaan staan het om te rus, herfokus en beweeg aan, voordat jy gaan sit en gladnie weer kan opstaan nie.

Wat is jou en my taak in 2025?

Jou antwoord hoef net twee woorde te wees.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy