Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 11 Augustus 2023

Ons moet leer om die Woord in konteks te lees, en nie net op een teksvers staat te maak nie

Ons moet leer om die Woord in konteks te lees, en nie net op een teksvers staat te maak nie

So ‘n rukkie terug het ek saam met ‘n groepie gelowiges met wie ek ‘n pad stap, die volgende gedeelte gelees:

1In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2Hy was in die begin by God. 3Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. – Johannes 1:1-5

Ek maak toe die stelling dat Jesus Christus die Woord is (Johannes 1:1 beklemtoon hierdie aspek en hy noem dit drie keer), en dat Hy alles geskape het. (Johannes 1:3). Hy was dus die Skepper. Dit is hier waar van die ouens vasgeskop het. Hulle wou nie sien dat Jesus as die Woord of die Seun alle dinge geskape het nie, maar dat dit eerder die Vader was. Dit is meesal hoe ons in die “tradisionele” kerke geleer is.

Ek verduidelik toe dat ons die gebruik van eiename en voornaamwoorde in die teks moet verstaan. Twee eiename word gebruik – Woord en God. Een persoonlike voornaamwoord word gebruik – Hom. Vir diegene wie dalk nie taalkundig ingestel is nie, hier is ‘n voorbeeld van die interaksie tussen eiename en voornaamwoorde. Dit werk in meeste tale op hierdie manier.

Daar staan Jan. Ek ken hom goed.

Baie duidelik kan “hom” na niemand anders nie as Jan verwys. Kom ons vertel meer oor Jan.

Daar staan Jan. Ek ken hom goed. Sy broer is Koos, maar ek ken hom nie eintlik nie.

Na wie verwys die tweede “hom” nou? Dit verwys duidelik nie na Jan nie, want daar is mou ‘n tweede persoon betrokke, Koos. Wie ken ek nie eintlik nie? Jan of Koos? Dit is baie duidelik dat die tweede “hom” nie na Jan kan verwys nie. As ek die sin verder wil skryf en nou weer na Jan wil verwys, sal ek weer sy eienaam moet gebruik om verwarring te voorkom:

Daar staan Jan. Ek ken hom goed. Sy broer is Koos, maar ek ken hom nie eintlik nie. Jan en ek was saam op skool en ek het saam met hom rugby gespeel.

Dit is nou duidelik dat ek nie na Koos verwys nie. Om egter seker te maak ek verwys na die regte persoon, moet ek die eienaam gebruik om “hom” daarna te kwalifiseer. As ons dit nie doen nie en die sin so skryf:

Daar staan Jan. Ek ken hom goed. Sy broer is Koos, maar ek ken hom nie eintlik nie. Ons was saam op skool en ek het saam met hom rugby gespeel.

dan vra ons of die “ons” na my en Jan, of my en Koos verwys, en die laaste “hom” na Jan of Koos verwys. Die reël is dat ons altyd die naamwoord gebruik wat geïdentifiseer word met die eienaam direk voor dit.

Hoe sluit dit aan by Johannes 1:1-5? Kom ons lees dit weer:

1In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2Hy was in die begin by God. 3Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. – Johannes 1:1-5

Ons het hier nog ‘n aspek wat bykom – die eerste naamwoord is Hy. As ons die hele sin voor dit lees, is dit duidelik dat Woord die sentrale karakter is. Hy en die tweede voornaamwoord Hom kan dus net na Woord verwys. Ons weet dat die Woord Jesus Christus is, en deur Hom het alle dinge ontstaan. Ons lees verder dat in Hom lewe was.

Ons kan die grammatika egter slaan tot dit blou is, maar ons moet ook onthou dat die Bybel (Ek gebruik spesifiek nou die woord Bybel, en nie Woord nie, bloot om verwarring te voorkom.) homself verklaar. Ons moet dus die Bybel in konteks lees. Kom ons kyk na net ‘n paar voorbeelde wat die feit dat die Woord die Skepper is, onderstreep en staaf:

Johannes se evangelie

10Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. 11Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. – Johannes 1:10-11

Die “Hy” waarvan geskryf is, verwys nog die hele tyd na Jesus Christus. Hier word dit duidelik gestel dat die wêreld deur Hom ontstaan het.

Paulus aan die gemeente in Korinthe

6tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom. – 1 Korinthiërs 8:6

Die laaste eienaam in die sin is Jesus Christus en die twee naamwoorde wat volg, wie en Hom, kan dus net na die laaste eienaam verwys.

Paulus aan die gemeente in Efese

8Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, 9en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, – Efesiërs 3:8-9

God (Vader, Seun, en Heilige Gees) het alles geskape deur Jesus Christus. Wat ons weereens hier sien, is die wisselwerking en samewerking van die Drie-eenheid.

Paulus aan die gemeente in Kolosse

15Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; 16want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. 17En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. – Kolossense 1:15-17

Kyk na vers 16. Hom verwys na die laaste eienaam voor dit, en die eienaam is Eersgeborene. Vir die res van die teks word daar nie na ‘n ander eienaam verwys nie.

Paulus aan die Hebreërs

1Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun 2wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het. – Hebreërs 1:1-2

Ons het hier twee eiename – God en Seun. Hier is die fokus wie die agent van die skepping was. Kyk na die volgorde: Seun is die laaste eienaam voor die verskyning van die voornaamwoorde – Hy (twee keer). Alhoewel hierdie voornaamwoorde ook na God verwys, maak die konteks dit duidelik dat die Seun die wêreld gemaak het.

Terug na Johannes

Kom ons keer terug na Johannes:

4In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. – Johannes 1:4

Hom verwys nog steeds na Jesus Christus, die Woord, en in Hom was die lewe. Die skepping gaan oor lewe. Jesus Christus is die Lewe (Johannes 14:6). Lewe skep lewe.

Opsomming

Hoef hierdie ‘n kontroversie te wees? Jesus Christus die Woord is tog immers ook God. Die feit dat Jesus die Woord is en ook God is, is ‘n pragtige voorbeeld van progressiewe openbaring. Dit beteken bloot dat God meer oor Homself aan mense openbaar het deur die eeue. Die Woord, Jesus Christus, is God se volledige openbaring aan die mens.

Ons moet egter onthou om die drie Persone van die Die-eenheid die regmatige respek te betoon deur hulle nie te verwar nie.

Wie Hulle is

Die Vader is God;

Die Seun is God; en

Die Heilige Gees is God.

Wie Hulle nie is nie

Die Vader is egter nie die Seun of die Heilige Gees nie;

Die Seun is nie die Vader of die Heilige Gees nie; en

Die Heilige Gees is nie die Vader of die Seun nie.

Elkeen van Vader, Seun, en Heilige Gees het ‘n baie spesifieke rol en karakter, en ons moet hulle nooit verwar nie.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy