Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 2 Oktober 2026

Ek Is

Hierdie skrywe is nie bedoel om die enigste Bybelstudie oor die onderwerp te wees nie; eerder ’n riglyn vir verdere studie van jou eie.

Ek Is, in die Ou Testament

Ons lees in Exodus hoe God aan Moses verduidelik wie Hy is en wat Moses vir die volk moet sê wanneer hulle hom vra wie hom na hulle gestuur het.

14En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur. – Exodus 3:14

In die oorspronklike Hebreeus is dit as volg geskryf:

אֶהְיֶה אֲשֶׁר אֶהְיֶה (ehyeh asher ehyeh) – EK IS WAT EK IS.

Dit is hoe God Homself identifiseer. Later sê Hy vir Moses om vir die volk die verkorte weergawe van sy naam te gee: EK IS. Daar is geen tyd-indikasie nie en geen verlede of toekoms nie. Hy was voor alles, en sal na alles steeds wees. Net EK IS. Hierdie EK IS is ’n persoonlike naam. Ons sien hier alreeds die voorloper van wat Jesus baie jare later oor Homself sou sê. Die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, gebruik die frase Egō eimi. Dit is dieselfde frase as wat in die Nuwe Testament gebruik word.

Ek Is, in die Nuwe Testament

Johannes 8 beskryf Jesus Christus se sending na die aarde. Die omstanders, veral die skrifgeleerdes, is skepties. Bestudeer die hoofstuk om die konteks te kry. Hy praat oor Abraham, en hoe hy verheug sou wees as hy die dag sou ervaar dat Jesus sy sending op die aarde voltooi. Met die skrifgeleerdes se opmerking dat Hy nog nie eers vyftig jaar oud is nie en sê dat Hy alreeds Abraham gesien het, verbind Hy Exodus 3:14 aan die hede en dui aan dat Hy God in persoon is, die verwagte Messías, en waarlik tydloos is:

58Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek. – Johannes 8:58

Geen verlede of toekoms nie. Net Ek is. Ons moet verstaan dat die taalkunde in Afrikaans veroorsaak dat die woorde soms omgeruil moet word. In die konteks van die oorspronklike Grieks is is Ek dieselfde as Ek is. Hier het ons die openbaring van Jesus Christus as God self, met geen begin of einde nie. Nou het hulle geen verskoning nie. Dit is geen wonder nie dat die skrifgeleerdes Hom wou stenig. Die waarheid slaan hard, en tog was hulle oë daarvoor verblind, soos dit vandag nog steeds die geval is (Romeine 11:8). Lees in hierdie verband Jesaja 53, die “verbode” hoofstuk vir die Jode. Jesus is nou werklik God met ons, vir diegene wie Hom wíl sien.

Ons lees dieselfde gedagte in Johannes 18:4–5 toe Jesus in hegtenis geneem is. Toe Jesus die soldate vra wie hulle soek, en hulle antwoord, Jesus die Nasaréner, antwoord Hy: Dit is Ek. Weereens druk Afrikaans dit nie heeltemal uit soos in die oorspronklike Grieks nie, as gevolg van die vloei van die taal en die konstruksie van die volgorde wat vereis word. Wat die Grieks eintlik uitdruk is Egō eimi – Ek is. Sommige Engelse vertalings lees “I am he”, maar hierdie “he” is later eers bygevoeg. Dit word in sommige Engelse Bybels in kursief gedruk om aan te dui dat dit nie in die oorspronklike Grieks voorgekom het nie.

Ek Is, vir jou vandag

Wat beteken hierdie vir jou vandag? Kom ons kyk na ’n paar stellings wat Jesus oor Homself maak. Elkeen van hierdie stellings is ’n vervulling van die Ou Testament en dit dui die ware karakter en hart van God die Vader aan, nou vergestalt in sy Seun. Hy wil die beste vir ons hê. God gee om oor jou en wil vir jou die beste gee.

  1. Johannes 6:35, 41, 48, en 51:

    35En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.

    Dit volg op die wonderwerk van die 5000 persone wie gevoed is, waarvan ons in Johannes 6 lees. Kos was skaars, meeste mense was arm, en Jesus het oorvloed uit byna niks gebring. Hy wil egter nie net ons fisiese honger stil nie, maar ook ’n diepgesetelde geestelike behoefte.

    Ou Testamentiese verwysing: Exodus 16 – die manna in die woestyn.

  2. Johannes 8:12; en 9:5:

    Ek is die lig van die wêreld; wie My volg sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

    Net soos kos, was lig ook skaars. Daar was nie straatligte in die aand nie, net soos daar nie lig in die woestyn in die nag was nie. Tydens die Huttefees (Johannes 7) het die Jode ’n kers aangesteek as ’n simbool van hoe God die nasie deur die woestyn gelei het. Aangesien Hy eers daarna aankondig dat Hy die lig vir die wêreld is, het hulle nog die fees onthou. As Jesus jou lig is, hoef jy nie bang te wees vir die donker nie.

    Ou Testamentiese verwysing: Exodus 13:21 – die vuurkolom in die nag het die rigting vir die trekkende Israeliete aangedui.

  3. Johannes 10:7 en 9:

    Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

    Dit is die voorganger van die volgende stelling, dat Jesus die goeie herder is. Jesus is die deur waardeur ons na die Vader gaan.

    Ou Testamentiese verwysing: Psalm 118:19–20 – die poort van die Here.

  4. Johannes 10:11, 14:

    Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

    Hoe was ’n herder in Jesus se tyd? Die skape sou die herder by die ingang van die stal sien staan, en slegs daar ingaan. Die herder sou hulle ondersoek vir enige wonde of skade. Hy sorg vir hulle en tel die skape soos wat hulle in die stal ingaan. Indien een kort, los Hy die ander in die stal en gaan soek die verlore een. Sien Matthéüs 18:12 en Lukas 15:4. Dit is wat Jesus vir my doen. Hy kom haal my daar waar ek afgedwaal het.

    Ou Testamentiese verwysing: Eségiël 34 – die goeie herder en die slegtes. Gaan lees hierdie hoofstuk noukeurig. Hierdie hoofstuk is ’n aanklag teen die Joodse skrifgeleerdes. Jesus verwys in Johannes 21:15 hierna wanneer Hy Petrus in sy posisie herstel en vir hom verduidelik hoedat hy ’n leier vir die kerk sou word. Moderne leraars wat net op hulleself ingestel is, moet dalk ook Eségiël 34 lees.

  5. Johannes 11:25:

    Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe.

    Jesus verwys na Lasarus se dood, wie Hy net hierna opgewek het. Hy bewys dat die dood geen houvas op ons het nie. Dood is nie die finale stap nie.

    Ou Testamentiese verwysing: Jesaja 53:10. Jesaja 53 is die verbode hoofstuk vir die Jode. Dit is ook van kardinale belang vir ons om Jode te bereik. Bestudeer dit.

  6. Johannes 14:6:

    Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

    Hierdie stelling is in reaksie op wat Hy vroeër gesê het – Hy is nie net ’n weg nie; Hy is dié weg; Hy is nie net ’n waarheid nie; Hy is dié waarheid; en Hy is nie net die lewe vir nou nie; Hy is dié lewe, na hierdie lewe.

    Ou Testamentiese verwysing: Exodus 26:33 en Levítikus 16. Die voorhangsel wat skeiding tussen die mens en God was, is middeldeur geskeur. Deur Jesus is daar nie meer ’n skeiding tussen die Heilige en die Allerheiligste nie.

  7. Johannes 15:1:

    Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.

    Jesus spreek hierdie woorde voordat Hy sou sterf vir die sonde van die mensdom. Die waarheid van hierdie gedeelte is dat jy geanker moet bly in die ware wynstok, Jesus Christus self. Jy kan dit nie op jou eie doen nie. Sonder die bron is daar nie lewe in jou nie.

    Ou Testamentiese verwysing: Jesaja 5:1–7 en 27:2–6.

Dink daaroor

In elke geval word die Griekse frase Egō eimi gebruik, en dit word gevolg deur ’n selfstandige naamwoord. Hoeveel stellings maak Hy oor Homself?

Wat sê dit vir jou oor God se openbaring van Homself aan die mens? Wat beteken “sewe” in God se bestel en watter voorbeelde kan jy gee van die voorkoms van sewe/sewes in die Bybel? Gaan doen ’n bietjie navorsing hieroor.

Hoe kan jy Jesus se sewe stellings van “Ek is” op jouself toepas? Hy is:

  • die brood – my voedsel, voorsiening, onderhouding, en groei in ’n wêreld wat dit wat die media sê, as my kos vir die dag opdis;
  • die lig – my fokus in ’n wêreld waar die duisternis die oorhand kry. Lig verdryf duisternis;
  • die deur – my enigste toegang tot die Vader, terwyl die wêreld my vertel dat daar baie maniere is om gered te word;
  • die goeie herder – my beskerming en versorging (Psalm 23:1), terwyl die wêreld niks vir my omgee nie;
  • die opstanding – my hoop vir die toekoms terwyl die wêreld my niks kan bied nie, en die leuen voorhou dat daar nie ’n opstanding is nie;
  • die weg, die waarheid, en die lewe – my kompas, fokus, en versekering; waar die wêreld baie verkeerde weë, leuens, en dood verkondig; en
  • die wynstok – my bron en onderhouding; waar die wêreld my leeg tap deur die eise wat aan my gestel word.

Watter van bogenoemde het jy van die Vader nodig?

Hy gee vir jou alles deur Jesus Christus. Dink vir ’n oomblik wat jou grootste behoefte tans is. Met watter een van die “Ek is”-identifikasies van Jesus Christus aan die mens kan jy jou vereenselwig, en op watter manier word dit voorsien?

Dalk het jy nodig dat Egō eimi vir jou vandag ’n werklikheid word. Vir Moses en sy volgelinge was dit voldoende dat God Homself as EK IS identifiseer. Vandag is dit nog steeds dieselfde.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy