Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 9 Augustus 2024

Eskatologie en die Koms van Jesus Christusw

Ons gaan vir die volgende paar weke indringend kyk na God se plan vir die toekoms. Almal wil altyd weet wat die toekoms vir hulle inhou. Dalk wil jy ook weet wat more met jou gaan gebeur. Ons vergeet egter dikwels dat om te kon weet wat die toekoms inhou, dalk iets is wat so negatief is, dat ons dit nie sal wil glo nie. God deel egter regdeur die Woord sy planne vir die mens en sy toekoms. Ongelukkig wil ‘n verlore gaande wêreld nie die waarheid hoor nie. Ongeveer 30% van die Bybel is profeties. Groot gedeeltes van die Ou Testament word gewy aan die toekoms van Israel. In die Nuwe Testament handel groot gedeeltes oor profesie, van die evangelies deur na die sendbriewe, veral van Paulus en Petrus. Openbaring is eskatologies en ons sien uit om te ervaar hoe hierdie gebeure gaan realiseer.

Ons gesprekke gaan baie prakties en indringend wees, en jy moet maar jou notaboek en pen gereed hou, en reg wees om oral in die Woord inligting te soek. Meeste van die inligting wat ek gaan deel, verskyn dalk nie eers in die notas nie.

Wat is Eskatologie?

Eskatologie is ‘n onderafdeling van sistematiese teologie, wat die tematiese studie van die volledige Bybel is. Ons het alreeds Soteriologie gedoen, die doktrine oor Jesus Christus. Eskatologie word dikwels genoem “die studie van die eindtye” en dit is in wese wat dit is. Ons moet egter verstaan dat gebeure wat in die Ou Testament eskatologie was, omdat dit nog moes gebeur, is dalk nie vir ons vandag eskatologie nie, omdat dit alreeds gebeur het. Omdat dit lank sal neem om alle aspekte van eskatologie te verduidelik, gaan ons ons fokus plaas op Jesus se lering oor eskatologie aan sy dissipels en die skares. Ons begin by Matthéüs 23.

Mattheus 23 – die begin van die konflik

Daar is verskillende plekke in die Woord vanwaar ons die studie van eskatologie kan begin, maar Matthéüs 23 vertel ‘n verhaal van voortgaande konflik wat Jesus en die skrifgeleerdes finaal uitmekaar gedryf het. Dit het gelei tot die vrae aan die begin van Matthéüs 24, wat aanleiding gee tot Jesus se verwysing na Daniël en dit wat hy geprofeteer het. Dit gee weer aanleiding tot die gebeure in Openbaring. Ons gaan Matthéüs 23 as die vertrekpunt gebruik. Lees eers die hoofstuk.

Jesus en sy dissipels is in Jerusalem vir die Paasfees. Ons begin in Matthéüs 23 waar Hy in die voorhof van die tempel is, eers met die skare praat, en later met die skrifgeleerdes.

  1. Matthéüs 22 is die aanloop tot die konflik in die volgende hoofstuk. In Matthéüs 22:34 is die Fariseërs op die toneel. Hy vra hulle vas en hulle struikel met teologiese vraagstukke wat hulle eintlik moes geken hê.
  2. Matthéüs 23 begin met Jesus wat die skare en sy dissipels toespreek (vers 1-12). Op hierdie stadium praat Hy Hom nog nie met die Fariseërs (skrifgeleerdes) nie.
  3. Hy vertel die skare dat alles wat “hulle” (die skrifgeleerdes, derde persoon) “julle” (tweede persoon) beveel, “julle” moet doen, maar hulle moenie volgens “hulle” werke doen nie.
  4. Vanaf vers 4 verduidelik Hy hoe die Fariseërs optree, teenoor hoe ons eerder moet optree. Hy verduidelik geloof in aksie.
  5. Vanaf vers 13 verander dinge egter drasties. Hy praat nou na die skrifgeleerdes. Hy begin met “Maar”, ‘n koppelwoord wat altyd ‘n radikale verandering van ‘n vorige gedagte aandui. Hy gebruik die woord “wee” nie minder nie as agt keer (verse 13, 14, 15, 16, 23, 25, 27, en 29). Die Engelse Bybel gebruik die woord “woe”. As jy dié woord sien, weet dat jy in die moeilikheid is as dit God is wat met jou spreek.
  6. Hy spreek hulle in die tweede persoon aan (“julle”) en berispe hulle vir hulle dubbel standaarde:
    1. Vers 13: hulle verhoed gewone mense om God se liefde te ervaar;
    2. Vers 14: hulle openbare optrede is bloot skyn;
    3. Vers 15: hulle evangelisasie proses is totaal ontoereikend en die fokus is verkeerd;
    4. Vers 16: hulle handhaaf dubbele standaarde;
    5. Vers 23: hulle dink dat die gee van niksseggende tiendes iets is om op te roem, maar hulle dade getuig nie van omgee nie;
    6. Vers 24: hulle fokus op nuttelose besonderhede, maar vergeet van dit wat belangrik is;
    7. Vers 25: hulle is van buite blink (voorkoms en optrede), maar binne stink hulle (ware intensies);
    8. Vers 27: hulle godsdiens is nutteloos. Na buite gee hulle voor wat hulle nie self is nie; en
    9. Vers 29: hulle bou grafte vir dieselfde profete wie hulle vermoor het.
  7. Hy het genoeg gehad van hulle optrede en noem hulle geveinsdes (vers 13, 14, 15, 23, 25, 27, en 29); blinde leiers (vers 16, 17, 19, 24, en 26); skrifgeleerdes (vers 13, 14, 15, 23, 25, 27, en 29); dwase (vers 17 en 19); slange en addergeslag(vers 33).
  8. Elkeen van hierdie terme is vernederend, sarkasties bedoel, en met rede, want die skrifgeleerdes het net na hulle eie behoeftes gekyk. Daarom is hulle geveinsdes (hulle handhaaf dubbele standaarde en doen nie wat hulle ander beveel nie); blind (hulle sien nie die nood van ander raak nie); skrifgeleerdes (hulle beweer hulle is die kenners, maar hulle leef dit op geen manier uit nie, en ken eintlik gladnie die wet nie so goed as wat hulle vir ander preek nie); dwase (hulle optrede spreek nie van volwassenheid nie, maar van onkunde); en slange (hulle is listig en van die duiwel). Dit is dus geen wonder nie dat hulle besluit om Hom dood te maak, soos ons in Matthéüs 26:4 sien.
  9. Hy spreek profeties dat hulle diegene wie gestuur word om die evangelie van vrede te verkondig, doodmaak (vers 34 ev.). Hy gee ‘n voorbeeld van Sagaría wie vermoor is tussen die tempel en die altaar, die plek wat veronderstel is om in God se heilige teenwoordigheid te wees.
  10. In vers 37 verwys Jesus na Jerusalem nie as net die stad nie, maar as die volk. Die ironie is dat nie net die skrifgeleerdes nie, maar oor die skare, Hom wil doodmaak. Sien Matthéüs 27:20-25.
  11. Vers 38 is waarna die dissipels Hom later sou uitvra. “Julle huis” is die tempel. Jesus beskou Hom nie as deel daarvan nie omdat Hy Hom nie met die verkeerde dinge wat in die tempel gedoen is, vereenselwig nie. Die tempel sou inderdaad 40 jaar later verwoes word en nooit weer opgebou word tot nou nie. Ons sien vandag die pogings om die tempel weer te bou. Dit is deel van Daniël se profesie wat in vervulling gaan.
  12. Sy laaste woorde aan hulle is dat hulle Hom nie weer sal sien nie, totdat hulle Psalm 118:26 sal aanhaal, op dié dag waarvan Paulus in Romeine 11:26 skryf. Daardie dag as hulle Hom sien staan op die Olyfberg sal hulle oë oopgaan en hulle herken Hom as die Messias.

Mattheus 24 en die blik op die toekoms

Jesus vertrek van die tempel, om nooit weer terug te keer nie tot in die toekoms gedurende die millennium. Sy dissipels het die hele konflik met die skrifgeleerdes beleef. Seker om die konflik te ontlont en sy gemoed te probeer kalmeer, wys hulle hom die geboue wat die tempel uitmaak. Die tempel was ‘n indrukwekkende gebou. Daar was niks anders soos dit nie. Sy antwoord is egter kil – hierdie “dinge” is die tempel, en Hy het geen respek meer daarvoor nie. Hy profeteer dat nie een steen op die ander sou oorbly nie. Die Romeine sou 40 jaar later die tempel verwoes. Let op die gebruik van die woord wat ons vandag ken, “ondermyn”, Eng, “undermine”. Dit het sy ontstaan uit wat die Romeine gedoen het.

Waarom is die tempel nie intussen herbou nie? Vir die periode vanaf 70 nC tot 1948 was Israel nog ander onder die beheer van ander nasies. In 1967 het Israel weer beheer oor Jerusalem geneem. Die Moslems het egter nog steeds beheer oor die deel waar die Al Aqsa moskee tans staan. Die proses is egter aan die gang om die tempel te herbou, sodat Daniël (Daniël 9:27) se profesie vervul kan word. Verseker gaan die Moslem nasies dit nie toelaat nie en dit gaan onderhandelinge verg, waarskynlik deur ‘n nuwe leier, om dit te bemiddel.

Later, verder van die stad af, kom die dissipels alleen na Hom toe, nie gevolg deur die groter skare wat gewoonlik agter die groep dissipels aangeloop het nie. Markus 13:3 noem dat nie al die dissipels teenwoordig was nie, maar net Johannes, Petrus, Jakobus, en Andréas. Hoe ook al, hulle vra Hom twee vrae om drie antwoorde te kry:

  1. Wanneer gaan hierdie dinge gebeur?
  2. Wat is die tekens van u koms en die voleinding van die wêreld?

Kyk mooi na die antwoord. Jesus weet dat die dissipels se teologie en verstaan van die Ou Testament ontoereikend is. Die verwoesting van die tempel is nie die teken van sy koms nie, maar eerder ‘n geleentheid wat sy koms vooraf gaan. Die teken van sy koms is iets anders.

Hy antwoord as volg: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” Misleiding is wat in ons tyd so prominent is. Hy gee nog nie die antwoorde op die twee vrae nie. Vir Hom is die misleiding in ons tyd (wanneer) en die tekens (wat) dit waarvoor die dissipels, en ons vandag, op die uitkyk moes wees. Die tekens is die misleiding. Dit het egter ook verwys na ‘n tyd in die toekoms, lank na die dissipels oorlede was. Dit verwys na die einde van die kerk periode waarin ons tans staan.

Hy verduidelik dat die misleiding gedryf word deur vals messiasse (vers 5); gerugte oor oorloë, hongersnode, pessiektes, en aardbewings. Tog is hierdie net die begin van die smarte vir Israel. Hulle sal verdruk word en doodgemaak word (dink aan die slagting van Jode gedurende WO2). Israel sal deur die nasies gehaat word. Moet vir geen oomblik dink dat Israel se huidige bondgenote, die VSA en Brittanje, by Israel gaan bly staan nie. Sodra druk van die res van die wêreld op hulle begin toeneem, gaan hulle Israel in die steek laat. Vals leringe sal toeneem, mense word mislei, vals profete tree op, en die verkeerde neem toe. Eers moet die evangelie regoor die wêreld verkondig word, en dan sal die einde kom.

Die dissipels sou dit nie toe verstaan nie, en Jesus het dit ook nie so verduidelik nie, dat die toestand van Israel parallel loop met die kerk periode. Baie van dit wat Hy in verse 4 tot 14 verduidelik, is ook op die Kerk van toepassing. God het in hierdie dispensasie Israel ter syde gestel ten einde met die Kerk te deel, totdat die Genade bedeling (volheid van die heidene) voleindig is en Hy dan weer met Israel as ‘n nasie sal deel. Ons het dit in ons studie van Romeine 11:25-26 geleer.

Die Groot Verdrukking

In vers 15 sê Jesus dat wanneer hulle die gruwel van die verwoesting soos dit deur Daniël voorspel is, sien staan in die heiligdom (die tempel; sien Openbaring 13:6), moet diegene wat hier lees, oplet. Die woord “oplet” beteken eintlik “verstaan” in Grieks.

Waarvan Daniël spreek, word in Daniël 8;13; 9:27; 11:31; en 12:11 verduidelik. Dit gaan oor die ontheiliging van die tempel. Tog is daar nie tans ‘n tempel nie. Dit is juis hier waar die moderne geskiedenis so belangrik is. Gaan kyk hoedat die planne reeds in plek is om die tempel te herbou. Wat Jesus na verwys, en wat Daniël beskryf, is die ontheiliging van die toekomstige tempel wanneer die Antichris in die tempel gaan sit en voorgee dat Hy God is. Sien Paulus se verduideliking in 2 Thessalonicense 2:4.

Wat moet diegene wie dit sien, doen? Hulle moet vlug. Jesus benadruk dit in vers 16. Vlug na die berge. Doen dit vinnig. Moenie iets saamneem nie. As jy op jou huis se dak is, dalk besig om te bid, moenie van die dak af kom nie maar hardloop oor die dakke (die huise van die tyd was naby aan mekaar gebou en jy kon maklik oor die gapings tussen hulle spring) om weg te kom. Dit gaan moeilik wees vir die vrouens wie swanger is en die wie babas het, want hulle sal nie vinnig kan hardloop nie. Mense moet ook sommer bid dat dit nie winter en koud is nie, of dat dit op die Sabbat gebeur wanneer die Jode volgens die wet nie ver mag loop nie. Waarom word al hierdie waarskuwings gegee? Omdat die gebeurtenis in die tempel die grootste verdrukking inlei wat daar al ooit gewees het, en ooit sal wees.

Jesus verduidelik verder dat die dae verkort sal word (ons weet nie hoe God dit gaan doen nie, maar Hy gaan sy volk beskerm, ten spyte van hulle ongeloof). Dan verduidelik Hy dat mense (Israel) nie nou stories moet glo dat die Christus al hier is nie. Daar gaan teen hierdie tyd alreeds baie mense wees wie sê dat hulle die Christus is. Jesus bevestig dit aan die vier dissipels. Sien vers 25. Moenie in die woestyn of selfs in jou binnekamer na die Christus soek nie. Sy koms sal skielik wees, soos weerlig van oos na wes sigbaar is, dus sigbaar vir die hele wêreld.

Jesus sluit hierdie gedeelte af deur te verduidelik wat direk na die verdrukking sal gebeur. Wanneer alles teen Israel is, verskyn daar eers ‘n teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn. Daarna sal Hy self verskyn (Matthéüs 25:30). Dit is die dag wanneer Israel hulle Messias sien en erken vir wie Hy is, volgens Jesaja 53. Almal wie op hierdie dag leef, sal Hom sien kom.

Waarom haal Jesus vir Daniël aan?

Jesus haal Daniël aan omdat enige Jood die Ou Testament sou ken. Dit wat hulle dalk egter nie verstaan het as hulle Daniël lees nie, verduidelik Jesus nou vir hulle. Dit is ‘n pragtige voorbeeld van God se progressiewe openbaring aan die mens. In elke dispensasie (tydvak) maak Hy meer van sy plan vir die mens bekend. Sodra die Kerk gestig is, word die progressiewe openbaring voortgesit. Paulus noem dat hy baie van dit wat hy die gemeentes leer, as openbarings direk van Jesus af ontvang het. Sien 2 Korinthiërs 12:1 en Galasiërs 1:12 as voorbeelde.

As Jesus vir Daniël aanhaal, kan ons verseker wees dat Hy hom as ‘n betroubare bron beskou het. Volgende week kyk ons in meer besonderhede na dit wat die profeet vir ons nagelaat het. Ek vra dat jy Daniël gaan lees. Indien jy nie die tyd het om die hele boek te lees nie, lees dan ten minste hoofstukke 7 tot 9. Dit sal jou help om die konteks te kry vir dit wat ons gaan bespreek.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy