Gekruisig met Christus

Na saligheid verkry is, moet totale oorgawe volg
Hierdie webwerf se fokus en tema is God se liefde vir die mens. As ons teruggaan na die hoofbladsy van die webwerf, en die inleidende teks bestudeer, besef ons dat hierdie teksvers, selfs vir toegewyde Christen gelowiges moeilik is om te verstaan. Hierdie vers sinspeel daarop dat ek en jy saam met Jesus gekruisig is. Laat ons na die vers kyk:
20Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God, wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. – Galasiërs 2:20
God die Vader het Jesus Christus na die aarde gestuur met 'n spesifieke doel. Paulus noem aan die Galasiërs dat dit nie langer hy (Paulus) is wat lewe nie, maar Christus wat in hom leef. Wat bedoel hy hiermee?
Ons moet verstaan dat die belofte van die ewige lewe wat God gee, net die eerste stap is. Jy het as ongelowige jou sonde bely – dit was jou eerste tree op die pad van die verlossings proses. Die natuurlike wil om sonde te doen, is steeds daar. Die duiwel sal verseker probeer om jou met valse lokaas, weg te lok van God en Sy Woord. Om onsself ten volle te beskerm teen die aanslae van die duiwel, moet ons onsself ten volle aan Jesus gee. Deur Jesus Christus se kruisdood, is ons as gelowiges, saam met Hom gekruisig. Vir baie gelowiges is hierdie 'n moeilike begrip om te verstaan. Was die doel van Christus se dood aan die kruis dan nie om vir ons te sterf nie, terwyl ons nog sondaars was (Romeine 5:8), en ons sodoende die pyn spaar nie? Hoe kon ek op dieselfde kruis as Christus wees?
Die ware betekenis is dat jy eers die ou lewe en die ou self moet aflê. Hierdie ou dinge moes op gewelddadige manier gekruisig word, sodat dit nooit weer kan terugkeer nie. Die ou lewe waarvan ons moes afstand doen, het nie voorsiening gemaak vir die reddende genade van Jesus Christus nie. Diegene wat deur die “kruisigingsproses” gegaan het, het nou 'n nuwe lewe, is 'n nuwe mens, Christus woon in hulle en is nou die Een wat in beheer is van die mens se lewe. Trouens die teks maak dit duidelik dat Christus in ons woon.
Dink vir 'n oomblik hieroor na:
Dit is nie meer ek wat lewe nie, maar Christus leef in my.
Die proses van verlossing moet so ten volle wees, dat wanneer mense jou sien, hulle nie sal sê, “Kyk, daar is die man wat sy lewe vir Jesus gegee het nie”. In plaas daarvan, moet hulle sê, “Kyk, daar is Jesus, in die vorm van 'n man wat ons voorheen geken het”. Die verandering moet so dramaties wees dat daar geen twyfel daaroor bestaan dat hierdie persoon 'n nuwe skepsel is nie. Kyk wat na wat die Bybel sê is 'n nuwe skepsel:
17Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. – 2 Korinthiërs 5:17
Die teks is stel dit baie duidelik - as jy in Christus 'n gelowige is, is jy nuut gemaak. Die ou lewe is verby en lê agter jou. Jy leef nou 'n nuwe lewe. Die teksvers benodig geen verdere verduideliking nie.
Op dieselfde wyse, is Christus in my. Hierdie is 'n wedersydse proses. Johannes beskryf dit so pragtig:
1Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer.
2Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.
3Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.
4Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie.
5Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.
6As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
7As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
8Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. – Johannes 15:1-8
Soos jy kan sien, vereis hierdie proses insette van beide partye. Jesus sê dat ons in Hom moet bly. Dit beteken om op Hom te wag, in Hom te bly, of in Hom te woon. Hy sal dan dieselfde vir ons doen.
Jesus is baie duidelik hieroor, dat wanneer ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons geestelik groei, geestelike vrugte dra, en suksesvol wees. Hier is 'n psalm wat die idee “om vrug te dra” verduidelik:
1Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.
3En hy sal wees soos 'n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. – Psalm 1:1-3
Die persoon wat nie loop, staan, of sit met die goddelose, sondaars en spotters nie, sal wees soos 'n boom wat langs 'n rivier vol water, geplant is. Vanuit die rivier kry die boom sy lewensmiddele. Die psalmis skryf dat hiérdie persoon voorspoedig en suksesvol sal wees in alles wat hy doen.
Kom ons gaan kyk wat in Johannes 15: 7-8 staan. Dieselfde idee word ook in hierdie teksgedeelte gevind: soos die boom langs die water in die psalm vrug dra, so sal ons ook baie vrugte dra. Daar is egter fyn detail opgesluit in die teks, wat 'n mens baie keer nie raaklees nie:
7As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.
8Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. – Johannes 15:7-8
Wanneer ons in Christus bly, en Hy in ons, dan sal ons vrug dra, sodat ons sy dissipels kan wees. Ons moet nie die laaste deel van die teksvers vergeet nie. Ons is in die eerste plek geroep om sy dissipels te wees, maar ons kan dit nie doen sonder die krag wat ons van die Heilige Gees ontvang nie (Handelinge 1:8).
Stap een van die reddingsplan, was om die ewige lewe as geskenk te aanvaar. Stap twee is totale oorgawe aan Jesus Christus, soveel so dat jy Hom vertrou om deel te word van jou hele wese: jou begeertes, plesiere, vrese en ambisies. Hy kan nie net aan die buitekant wees nie, Hy moet binne in jou wees! As jy hom buite jou wese het, mag jy voel dat jy alleen kan uitgaan, Hom agterlaat en jou eie begeertes, plesiere, vrese en ambisies soek, en net na Hom soek wanneer jou planne misluk. As jy Hom in jou wese toelaat, verbind jy jouself daartoe om Hom “saam te neem” waar gaan, en in alles wat jy doen. In hierdie geval is daar min kans dat wat jy doen, nie suksesvol sal wees nie.
As Christus in jou lewe, word Hy die dryfkrag in jou lewe. Dit is nie meer jy wat lewe nie (jou begeertes, plesiere, vrese, en ambisies), maar Christus lewe in jou! Menslike begeertes, plesiere en vrese is drie aspekte wat nie hand aan hand gaan met die lewe van 'n Christen gelowige nie. Jy moet jou eie wêreldse begeertes en plesiere veroordeel, en afsterf. Waar daar vrees is, is daar nie liefde nie, want die liefde dryf die vrees weg, soos Johannes skryf:
17Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
18Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. – 1 Johannes 4:17-18
As 'n Christen gelowige is “vrees” nie 'n woord wat in jou woordeskat hoort nie. Natuurlik, praat ons nie hier oor fobies nie - as jy 'n vrees vir hoogtes, sekere ongediertes of dinge het nie. Die “vrees” waarna hier verwys word, is daardie dinge wat jou keer om jouself totaal aan God oor te gee, sodat Jesus in beheer van jou lewe is.
Hoe kom ons tot so 'n verhouding met Christus? Ons kan dit slegs doen met die krag van die Heilige Gees wat ook in ons woon:
19Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? – 1 Korintiërs 6:19
Dit is 'n verstommende konsep: Christus in my, die Heilige Gees in my!
Wat is jou ambisies vir jou lewe? Ons beplan dinge, soms tot in die fynste detail, en dan gebeur iets soos COVID-19, en alles wat ons beplan het stort in duie - net die ruïnes van ons goedbedoelde planne bly oor. Is dit verkeerd om ambisies te hê? Nee, maar miskien het God iets anders vir jou in gedagte. Wanneer ons om ons rond kyk, en die verwoesting wat COVID-19 gebring het sien, verstaan mens die ongelukkigheid wat individue ervaar: onsekerheid oor die dag van môre; teleurstellings dat sekere ambisies en drome nie gaan realiseer nie. Selfs gelowiges ervaar verlies aan hoop, en beleef vernedering (verlies van inkomste en besittings).
Nou is die tyd dat jou geloof in God in aksie gestel word. Miskien is jou ambisies deur jouself gedryf en is dit nie Sy ambisies vir jou lewe nie. Miskien is die rigting waarin jy op pad was, nie die rigting wat Hy vir jou wil hê nie. Dit is nou dat, ten spyte van die situasie rondom jou, jy gefokus moet wees op Jesus, Hy wat op die water loop en jou roep om jou geloof in Hom te plaas. Toe Petrus uit die boot gespring het, was daar 'n storm maar hy het steeds op die water geloop. Jy kan ook in so 'n storm wees vandag. Die probleem was dat Petrus sy oë van Jesus weggeneem het, en net die magtige golwe gesien het. Dit was toe dat hy gesink het. Het hy verdrink? Nee, Jesus het Sy hand uitgesteek en Petrus uit die water getrek, waarna Hy saam met Petrus terug is na die boot.
Laat ons die teks lees:
29En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan.
30Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!
31En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?
32Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê.
33Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God! – Mattheüs 14:29-33
Wanneer Jesus by jou is in die storms van die lewe, sal Hy seker maak dat jy nie sink nie. Dit vereis egter dat jy jou vertroue in Hom plaas, en Hom met jou lewe vertrou. Met Hom in beheer van jou lewe, sal jy dit maak. Op jou eie, het jy geen kans nie.