Geloof in aksie: Sonder werke beteken jou geloof niks nie

Sonder werke beteken jou geloof niks
Hierdie is ‘n onderwerp waaroor baie mense meningsverskille sal hê. Paulus beskryf dit as volg:
8Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 9nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. – Efesiërs 2:8-9
Jakobus, die halfbroer van Jesus Christus, beskryf dit so:
14Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? – Jakobus 2:14
Daar is ‘n klein stukkie belangrike inligting in die 1953 Afrikaanse vertaling verskuil, die aksent op die lidwoord dié, aan die begin van die sin. Dit fokus nie op geloof in die algemeen wat tot redding dien nie, maar op ‘n spesifieke manier hoe hierdie geloof uitgeleef word. Daar is twee maniere hoe geloof in die praktyk sigbaar is. Dit kan óf dood wees, wanneer ons niks doen nie maar passief is, óf dit kan lewe gee, deur uit te gaan en die wêreld en mense rondom jou positief te beïnvloed.
Paulus is inderdaad reg as hy skryf dat ons deur geloof gered word en nie deur werke nie. Geloof is die spil waarom redding draai. Jakobus neem dit egter verder deur te verduidelik dat vanuit die geloof wat ons alreeds getoon het om gered te word, daar nou iets moet gebeur wat daarop dui dat die verandering in die persoon se lewe ‘n werklikheid is – hoe hy hierdie geloof uitleef.
Hebreërs 11 verduidelik hierdie aspek vir ons baie goed. Daar is verskeie voorbeelde van mense wie “deur die geloof” tot aksie oorgegaan het. Elkeen het geloof gehad maar saam met dit iets gedoen sodat daar ‘n bewys van hulle geloof was. Hulle was nie net hoorders nie, maar daders.
Kom ons lees verder wat Jakobus skryf. Hy vra wat die nut (baat) van geloof is, as daar nie ‘n praktiese implikasie is nie. Kyk na die eerste voorbeeld wat hy gee. Ons sien dit dikwels in ons kerke – ‘n persoon het ‘n fisiese nood, en dan wil ons vir die persoon bid dat God hom sal seën, sonder om ‘n vinger te lig om in daardie nood te voorsien. Jakobus noem hierdie tipe geloof vir wat dit is. Dood. Nutteloos. Hy gebruik twee van dieselfde voorbeelde van geloof in aksie wat ons in Hebreërs 11:17 sien. Deur geloof het Abraham gereed gemaak om sy seun te offer. Al het hy geweet dat met die dood van Isak daar nie ‘n nageslag sou wees nie, was hy gehoorsaam aan God se opdrag, omdat hy geloof gehad het. God het hom getoets, en Abraham het die toets geslaag. Ragab, iemand wie in die oë van baie ‘n ongewenste figuur was, haal die lys van voortreflikes omdat sy geloof aan die dag gelê het maar saam met dit opgetree het (Hebreërs 11:31 en Jakobus 2:25).
Jakobus eindig sy verduideliking van geloof in aksie deur die liggaam en geloof as voorbeelde te gebruik: as daar nie in die mens gees is nie, is hy geestelik dood. As daar nie in die geloof ook werke is nie, is die geloof dood. Dit kan nie duideliker gestel word nie.
Wat is jou posisie aan die begin van 2026? Dalk gaan jy voort om eintlik maar net in naam, in teorie, ‘n Christen gelowige te wees. Dalk gaan jy iets doen om die omgewing en mense rondom jou so te bedien dat andere jou geloof kan sien, sonder dat jy jou mond moes oopmaak en vir hulle preek. Dít is geloof in aksie.