Lewenslesse uit Hebreërs: Abraham

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 9 Maart 2026

Lewenslesse uit Hebreërs: Abraham

HEBREËRS 11:8 – GEROEP OM TE GAAN; SONDER OM TE WEET

’n Lewe wat begin met ’n Stem

Sleutelteks

Deur die geloof was Abraham gehoorsaam... en hy het uitgegaan sonder om te weet waar hy sou kom. – Hebreërs 11:8

Geloof begin nie by begrip nie. Geloof begin by gehoorsaamheid.

Vraag: Wat is daar wat in my lewe gebeur wat ek nie noodwendig verstaan of begryp nie, maar ek bly gehoorsaam?

  1. Abraham se Roeping – Wanneer God Eerste Praat

Genesis 12:1–4

God roep Abram:

  • “Gaan uit jou land…”
  • “Ek sal jou ’n groot nasie maak…”
  • “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

Wat staan uit? Geen kaart, tydlyn, of volledige plan nie; net ‘n belofte. Hy het nie op sekerheid gereageer nie, hy het op God se stem gereageer. Abraham was 75 jaar oud. Op daardie ouderdom moet hy die volgende los: sekuriteit, familie, kultuur, en bekendheid. God gee nie altyd verduideliking nie, Hy gee ’n roeping. En geloof reageer op Wie praat, nie op wat ek sien nie.

Vraag: Wat is daar in jou lewe wat jy in glo sonder ‘n verduideliking van God?

  1. Groei en Toetsing – Geloof is ’n Reis

Abraham was nie perfek nie. Hy twyfel in Egipte (Genesis 12:10–20), hy lieg oor Sara en hy probeer God help deur Hagar (Genesis 16)

Hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. – Genesis 15:6

Hier sien ons die kern van die evangelie. Regverdigheid kom deur geloof, nie prestasie nie.

Vraag: Hoe presteer jy en dink jy jou besluite is regverdig?

Paulus verduidelik later in Romeine 4:18–21: Hy het gehoop teen hoop. Hy het nie gewankel nie. Hy was oortuig dat God mag het om te doen wat Hy belowe het.

Abraham se geloof was nie blind nie. Dit was gegrond in God se karakter. Hy het nie God vertrou omdat hy die plan verstaan het nie. Hy het God vertrou omdat hy God begin ken het.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy