Lewenslesse uit Hebreërs: Jérigo en Jefta

“Deur Geloof”: ’n Historiese, Teologiese en Tipologiese Uitleg van Hebreërs 11:30 en 32
- Die Historiese Agtergrond van Hebreërs
Die brief aan die Hebreërs is waarskynlik tussen 60–70 n.C. geskryf, vóór die vernietiging van Jerusalem en die tempel in 70 n.C. deur die Romeinse generaal Titus. Die skrywer verwys na die tempeldiens asof dit steeds funksioneer (Hebr. 8–10), wat sterk aandui dat die tempel nog gestaan het ten tyde van skrywe.
1.1 Outeurskap
Die outeur bly onbekend. Vroeë kerkvaders het verskillende teorieë gehad:
- Paulus die apostel
- Barnabas
- Lukas die evangelis
- Apollos
Vandag beskou baie geleerdes Apollos as ’n sterk moontlikheid omdat:
- Hy was uit Alexandrië (’n sentrum van geleerdheid).
- Hy was magtig in die Skrifte (Hand. 18:24).
- Hebreërs toon ’n diep kennis van die Ou Testament in die Griekse Septuaginta-vorm.
- Die styl van Hebreërs is hoogs retories en verfynde Grieks.
Belangrik: Die vroeë kerk het die boek aanvaar nie op grond van seker outeurskap nie, maar op grond van sy teologiese gesag en apostoliese inhoud.
1.2 Geadresseerdes en Konteks
Die brief is waarskynlik gerig aan Joodse Christene — moontlik in Rome (vgl. Hebr. 13:24: “Die van Italië groet julle”).
Hulle het waarskynlik:
- Uit die sinagoge gekom.
- Christus as Messias bely.
- Sosiale en godsdienstige verwerping beleef.
Hulle druk het ingesluit:
- Sosiale uitsluiting uit sinagoges (Joh. 9:22)
- Ekonomiese verliese (Hebr. 10:34)
- Openbare vernedering en vervolging (Hebr. 10:32–33)
- Politieke spanning binne die Romeinse Ryk
Indien die brief net voor 70 n.C. geskryf is, was daar ook groeiende Joodse nasionalistiese spanning wat uiteindelik sou lei tot die Joodse Oorlog (66–70 n.C.).
Die Joodse Oorlog (66–70 n.C.)
Die Joodse Oorlog was ’n groot opstand van die Jode teen die Romeinse Ryk.
Wat het dit veroorsaak?
- Swaar belasting deur Rome.
- Godsdienstige spanning – Romeinse goewerneurs het dikwels die tempel en Joodse gebruike minag.
- Nasionale en Messiaanse verwagtinge – Baie Jode het ’n politieke Messias verwag wat Rome sou verdryf.
- Korrupsie en geweld onder Romeinse amptenare (veral goewerneur Gessius Florus).
In 66 n.C. breek openlike rebellie uit in Jerusalem.
Hoe het dit verloop?
- Rome stuur generaal Vespasian om die opstand te onderdruk.
- Hy verower sistematies Galilea.
- Wanneer hy in 69 n.C. keiser word, neem sy seun Titus die veldtog oor.
- In 70 n.C. word Jerusalem beleër.
- Die stad val.
- Die tempel word verwoes.
Waarom was dit so belangrik?
Die vernietiging van die tempel in 70 n.C.:
- Beëindig die offer stelsel.
- Verander Judaïsme radikaal.
- Verstewig die skeiding tussen Judaïsme en Christendom.
- Bevestig indirek Jesus se profesie oor die tempel se val (Matt. 24).
Waarom is dit belangrik vir Hebreërs?
As Hebreërs net vóór 70 n.C. geskryf is:
- Die tempel het nog gefunksioneer.
- Gelowiges is versoek om terug te keer na die ou stelsel.
- Die skrywer sê in wese: Moenie teruggaan na ’n stelsel wat binnekort gaan verdwyn nie.
Die ironie: Kort ná die brief sou die hele tempel stelsel fisies wegval.
Dit maak Hebreërs se boodskap van:
- Christus as beter Hoëpriester
- ’n Beter verbond
- ’n Hemelse heiligdom
nog kragtiger.
Hulle versoeking was nie om ateïste te word nie — maar om terug te keer na Judaïsme om vervolging te vermy.
Daarom wys Hebreërs herhaaldelik:
- Christus is groter as die engele (Hebr. 1)
- Groter as Moses (Hebr. 3)
- Groter as Josua (Hebr. 4)
- Groter as Aäron (Hebr. 5–7)
- Die vervulling van die tempel stelsel (Hebr. 8–10)
Die sentrale boodskap: Moenie teruggaan na die skaduwee wanneer die werklikheid gekom het nie.
1.3 Literêre Styl
Hebreërs lees nie soos ’n tipiese brief nie. Dit begin sonder ’n tradisionele groet en open met ’n verhewe teologiese proloog:
“God het baie keer en op baie maniere…”
Baie geleerdes beskryf dit as ’n homilie (preek) wat later as brief gestuur is.
Kenmerke:
- Gereelde waarskuwings gedeeltes (Hebr. 2:1–4; 6:4–8; 10:26–31)
- Intensiewe gebruik van Ou Testamentiese aanhalings
- Sterk tipologiese uitleg van priesterskap en offer stelsel
Hoofstuk 11 dien as klimaks van argumentasie: As die oues deur geloof volhard het sonder om die volle vervulling te sien, hoeveel te meer moet ons volhard wat Christus reeds gesien het?
1.4 Fokus van Hebreërs
Sleutel temas:
- Christus as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek
- Die Nuwe Verbond bo die Ou Verbond
- Die hemelse heiligdom bo die aardse tabernakel
- Volharding tot die einde
Hebreërs 10:36 som dit op: “Want julle het lydsaamheid nodig…”
Hulle probleem was nie ongeloof nie — dit was uitputting.
Hebreërs 11 bou dus nie ’n teorie van geloof nie — dit gee voorbeelde van volhardende geloof onder druk.
- Die Stad Jérigo – Historiese en Argeologiese Agtergrond
2.1 Ligging
Jericho was geleë:
- In die Jordaanvallei
- ± 8–10 km wes van die Jordaanrivier
- ± 25 km oos van Jerusalem
- Naby die Dooie See
Dit was ’n strategiese militêre en handelsroete-kruispunt. Enigiemand wat vanuit die ooste Kanaän wou binnegaan, moes by Jerigo verby.
Dit het bekend gestaan as die “Palmstad” (Deut. 34:3) weens sy vrugbare oase-omgewing.
2.2 Ouderdom en Argeologie
Jerigo is een van die oudste bekende nedersettings ter wêreld (bewoning reeds 8000–9000 v.C.).
Argeologiese opgrawings deur:
- John Garstang (1930’s)
- Kathleen Kenyon (1950’s)
het uitgebreide vestingstrukture blootgelê.
Die stad het:
- ’n Klip fondament muur
- ’n Moddersteen bo-muur
- ’n Hellings wal (glacis)
Hierdie tipe versterking het dit byna oninneembaar gemaak volgens antieke standaarde.
Vir die eerste lesers van Hebreërs was Jerigo dus nie net ’n Bybel storie nie, dit was ’n simbool van ’n onmoontlike vesting.
2.3 Jerigo in die Verlossings geskiedenis
Volgens die Boek Joshua hoofstuk 6 was die stad:
- Dig toegesluit
- Versterk met dubbele mure
- Militêr goed beskerm
Huise is selfs in of op die muur gebou.
Jerigo was:
- Die eerste stad in die Beloofde Land
- Onder die “cherem” (ban) geplaas — volkome aan God gewy
- ’n Eersteling-oorwinning
Dit beteken: God vestig die land deur Sy krag, nie deur Israel se militêre vermoë nie.
Die volk moes stap. God het laat val.
2.4 Waarom Jerigo Belangrik is vir Hebreërs
Vir die Hebreër-gelowiges wat moeg was:
Jerigo sê:
- Geloof werk selfs wanneer daar geen sigbare verandering is nie.
- God breek vestings wat mense nie kan breek nie.
- Volharding gaan voor deurbraak.
Soos Israel voor ’n fisiese vesting gestaan het, het hulle voor ’n geestelike en sosiale vesting gestaan.
Hebreërs gebruik dus die geskiedenis nie net as herinnering nie, maar as pastorale versterking.
- Hebreërs 11:30 — Geloof wat ’n Stad Laat Val
“Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat hulle sewe dae lank omgetrek het.”
Hier sien ons:
- ’n Volk wat gehoorsaam stap
- Geen stormramme nie
- Geen militêre strategie nie
- Die ark vooraan
- Priesters met basuine
Dit was meer aanbidding prosessie as oorlogvoering.
Belangrike beginsel:
- God gee die belofte
- Die volk gehoorsaam
- God bring die deurbraak
Die gevaarlikste oomblik van geloof is dag ses, wanneer niks verander nie.
Hier fokus Hebreërs op kollektiewe geloof; ’n hele volk wat saam gehoorsaam.
- Hebreërs 11:32 — Geloof in Gebroke en Onvolmaakte Leiers
Kom ons dink aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete…”
Nou skuif die fokus dramaties:
Van:
- ’n Volk
Na:
- Individue
Van:
- ’n Eenmalige dramatiese oorwinning
Na:
- ’n Hele geskiedenis van stryd, mislukkings en oorwinnings
Hier word genoem:
- Gideon
- Barak
- Simson
- Jefta
- David
- Samuel
Wat opvallend is, is dat baie van hierdie figure diep gebroke was.
- Gideon het getwyfel.
- Barak het huiwerig opgetree.
- Simson was moreel swak.
- Jefta het ’n tragiese gelofte gemaak.
- Dawid het ernstig gesondig.
En tog:
“Deur geloof…”
Hebreërs 11:32 wys dat geloof nie perfeksie vereis nie — dit vereis vertroue.
“Jefta” – Wie was hy?
Skrif agtergrond:
- Rigters 11–12
Jefta se verhaal:
- Seun van ’n prostituut (Rigters 11:1)
- Verwerp deur sy familie (Rigters 11:2)
- Weggestuur, leef as buitestander (Rigters 11:3)
- Later geroep as leier en rigter (Rigters 11:6)
Met ander woorde: Verwerping deur mense beteken nie verwerping deur God nie.
WAAROM WORD JAFTA IN HEBREËRS 11 GENOEM?
Nie oor sy foute nie
- Jefta het onwyse geloftes gemaak (Rigters 11:30–40)
- Sy verhaal is kompleks en tragies
Maar oor sy geloof
- Hy vertrou God vir oorwinning
- Hy tree op in afhanklikheid van God
Verwysing:
- Rigters 11:29 – “Toe het die Gees van die Here oor Jefta gekom…”
Met ander woorde: God erken geloof, selfs in onvolmaakte lewens.
VERHOUDING MET DIE RES VAN DIE WOORD VAN GOD
Deur die Skrif sien ons dieselfde patroon:
| Skrif | Beginsels |
| Genesis 12:1–3 | God roep Abraham |
| Eksodus 3:11–12 | God gebruik Moses |
| 1 Samuel 16:7 | God kyk na die hart |
| Romeine 8:28 | God werk alles ten goede |
| 2 Korintiërs 12:9 | Krag in swakheid |
Met ander woorde: God se genade werk deur gebroke mense.
IMPAK VIR VANDAG SE MENSWEES EN LEWE
Identiteit
- Baie mense dra vandag die seer van verwerping
- Jefta se lewe spreek tot:
- selftwyfel
- skaamte
- gebroke agtergronde
Verwysing:
- Psalm 27:10 – “Al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem.”
Roeping
- Jou verlede diskwalifiseer jou nie
- God roep mense waar hulle is
Verwysing
- Romeine 11:29 – God se gawes en roeping is onberoulik
Geloof in gebrokenheid
- Geloof beteken nie foutloosheid nie
- Dit beteken afhanklikheid van God
Verwysing:
- Hebreërs 11:6 – Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag
- Kontras tussen Vers 30 en 32
| Hebreërs 11:30 | Hebreërs 11:32 |
| ’n Stad val | ’n Geskiedenis ontvou |
| Kollektiewe geloof | Individuele geloof |
| Duidelike, sigbare oorwinning | Gemengde verhale van sukses en mislukking |
| Sewe dae | ’n Leeftyd |
| Perfekte gehoorsaamheid | Onvolmaakte mense |
Vers 30 wys ons:
Geloof bring dramatiese deurbrake.
Vers 32 wys ons:
Geloof dra jou deur ’n hele lewe — selfs met gebreke.
- Die “Link”: “Deur Geloof”
Jérigo en Jefta saam:
- Jérigo = uiterlike en innerlike struikelblokke
- Jefta = die gebroke mens agter die mure
Met ander woorde: God doen twee dinge tegelyk:
- Hy breek mure
- Hy herstel mense
Met ander Woorde: Soms moet die mure val sodat die mens kan staan.
WAT LEER ONS UIT GOD SE WOORD?
- God kies nie die sterkste nie
- Hy roep die gewondes
- Hy vorm mense oor tyd
God se liefde:
- Is geduldig
- Is genesend
- Is transformerend
Belangrik:
- Jy hoef nie alles te verstaan nie
- Jy hoef nie perfek te wees nie
- Jy hoef net beskikbaar te wees
- Tipologiese Lyn: Van Jérigo na Christus
By Jérigo:
- Mure val
- ’n Poort gaan oop
- God bring oorwinning sonder konvensionele geweld
By die kruis:
- Die voorhangsel skeur
- Skeiding word verwyder
- Christus oorwin deur oënskynlike swakheid
Soos Jérigo die poort tot Kanaän oopmaak, maak Christus die poort tot die Koninkryk oop.
Van Egipte → Sinai → Woestyn → Jordaan → Jérigo → Kanaän.
Soos Jérigo die fisiese poort tot die Beloofde Land was, was dit die oorgang van belofte na besit.
Die leiers in vers 32 wys vooruit na die ware Koning, die volmaakte Seun wat doen wat hulle nie volkome kon doen nie.
Die Pad na die Beloofde Land
- Uit Egipte – Die Uittog
Die Israeliete het uit slawerny vertrek uit Egipte onder leiding van Moses (Eksodus 12-14). Hulle het deur die Rooi See getrek — ’n beslissende bevryding moment.
- Berg Sinai – Verbond
Hulle het by Berg Sinai gekom waar God:
- Die wet gegee het
- ’n verbond met Israel gesluit het
Hier het Israel as volk gevorm geword.
- Die Woestyn – 40 Jaar
Weens ongeloof by Kades-Barnea moes die volk 40 jaar in die woestyn rondswerf (Numeri 13–14).
Die ongeloof-generasie het gesterf. ’n Nuwe generasie het opgestaan.
- Oos van die Jordaan
Onder leiding van Joshua het hulle noord van die Dooie See beweeg en die Amoritiese konings verslaan (Numeri 21).
Hulle kamp was by Sittim, oos van die Jordaanrivier.
- Deur die Jordaan – Ingang
In Jericho se omgewing het hulle:
- Deur die Jordaanrivier getrek (Josua 3)
- Klippe as gedenkteken opgerig
- Die verbond hernu
Jerigo was die eerste vesting — die “poort” tot Kanaän. Toe die mure val (Josua 6), het die pad oopgegaan na die binneland van Kanaän.
Waar is dit vandag?
- Kanaän lê vandag hoofsaaklik binne die moderne staat Israel.
- Jerigo bestaan steeds en lê in die hedendaagse Wesoewer, naby die Jordaanrivier.
- Dit is een van die oudste voortdurend bewoonde stede in die wêreld.
- Toepassing vir Vandag
Die eerste lesers was:
- Moeg
- Onder druk
- Sosiaal geïsoleer
Hebreërs 11:30 sê: Moenie ophou stap wanneer niks gebeur nie.
Hebreërs 11:32 sê: Moenie ophou glo wanneer jy nie perfek is nie.
Sommige van ons wag vir mure om te val. Ander voel skuldig oor persoonlike mislukkings.
Die teks sê vir albei: “Deur geloof…”
Gedagte om saam met ons te vat
By Jérigo het mure geval.
In die tyd van die rigters het gebroke leiers opgestaan.
In Dawid se tyd het ’n koninkryk gekom.
En bo alles:
In Christus het die finale oorwinning gekom. Geloof is nie net vir dag sewe nie. Dit is vir ’n leeftyd.
Mag ons stap wanneer die mure nog staan, en bly vertrou wanneer ons eie swakheid sigbaar word.
“Deur geloof…”
“Geloof is nie om sterk te wees nie, maar om te bly.”
By Jérigo het mure geval.
By Golgota het sonde geval.
By Jérigo het God ’n stad oopgemaak.
By die kruis het Hy die hemel oopgemaak.
“Deur geloof…”
Mag ons stap, selfs wanneer die mure nog staan.
Onthou die volgende:
PUNT 1: Geloof vra gehoorsaamheid, nie begrip nie
(Hebreërs 11:30)
- Die volk moes loop sonder verduideliking
- Geen wapen, geen strategie
- Net God se woord
Toepassing:
- Party mure val eers ná ons gehoorsaamheid
- Geloof beteken soms net: “Here, ek bly loop”
PUNT 2: God se tyd is deel van die genesing
(“sewe dae”)
- Geen kitsoplossing
- Volharding sonder sigbare resultate
Toepassing:
- Stil tye is nie leë tye nie
- God werk ook wanneer niks gebeur nie
PUNT 3: God gebruik gebroke mense
(Hebreërs 11:32 – Jefta)
- Jefta was verwerp
- Ongeskik volgens mense
- Geroep volgens God
Toepassing:
- Jou wond diskwalifiseer jou nie
- God gebruik juis wat gebreek is
PUNT 4: God breek mure én bou mense
(Verbinding tussen die twee tekste)
- Jérigo: uiterlike struikelblokke
- Jefta: innerlike seer
Waarheid:
God se werk het altyd ‘n dubbele doel: bevryding én herstel.