Lewenslesse uit Hebreërs: Die Profete: Miga

Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 20 Maart 2026

Lewenslesse uit Hebreërs: Die Profete: Miga

HEBREËRS 11:32 – DIE PROFEET MIGA

Sy agtergrond

Miga het opgetree in die tyd van die Judese konings Jotam (742 - 735 vC) , Agas (735 – 715vC) en Hiskia (715 – 687 vC). Dit sluit die inname van Samaria deur die Assiriërs, asook die Assiriese beleg van Jerusalem onder Sanherib in 701 vC. Miga was afkomstig van ‘n dorpie Moreset-Gat 10 kilometer suidwes van Jerusalem.

Sy optrede

Miga se profesie het op Samaria en Jerusalem betrekking. Sy optrede oorvleuel gedeeltelik met Jesaja, Hosea en Amos.

Sy uitsprake

Deel 1

In Miga hoofstuk 1 en 2 word ‘n oordeel aankondiging (1:2–2:11) gemaak gevolg deur ‘n uitspraak van redding (2:12–13). Hierdie uitspraak van oordeel word gerig tot Samaria, Jerusalem en Lakis. Sien Lakis se besonderhede op bladsy 3 en 4 .

Die Here se verskyning gaan gepaard met allerlei kosmiese gebeure. Dan volg die verrassing: Die aankondiging van oordeel is veral gerig teen die Here se eie volk: Samaria (1:6-7), Jerusalem (1:13-16) en Lakis (1:13-16).

Die rede vir die oordeelsboodskap was Juda en Israel se sonde. (1:5). Samaria sal ‘n puinhoop gemaak word omrede die stad sy redding by ander volke gaan soek het. In 1:8-12 spreek die profeet ‘n oordeel oor Jerusalem uit. Dit raak die profeet so intens dat hy huil as hy die uitspraak maak. Lakis word ook veroordeel as die oorsprong van al die ongeregtighede.

In Miga 2:1-5 spreek die profeet die vername inwoners van Jerusalem aan en beskuldig hy die maghebbers van verskeie oortredings. Die Here het aan hulle die land as geskenk gegee en dit moes in familiebesit bly. Reg en geregtigheid is nie beoefen nie , maar onreg was aan die orde van die dag. Hierna volg die oordeel dat die oortreders onder die juk van vreemde oorheersing kom en die rykes sal nie ‘n toekoms hê nie.

In Miga 2:6-11 kom Miga se teenstanders aan die woord. Hulle roem dat die Here verdraagsaam is en nie sal doen wat die profeet sê nie. Hierop reageer Miga dat die Here se woord aangenaam is vir almal wat reg lewe.

In Miga 2:12-13 volg ʼn uitspraak van redding. Met die Here se bystand sal die volk alle struikelblokke oorwin.

Deel 2

In Miga hoofstuk 3–5 word ‘n oproep tot gehoorsaamheid gemaak.

Hierna volg ʼn aankondiging van straf in 3: 1-12. Eerstens word die leiers beskuldig. Miga beskryf hulle hiperbolies as kannibale. Tweedens word die profete beskuldig dat hulle die volk mislei. Miga veroordeel hul vals optrede. In kontras met die vals profete besit Miga krag en is vol van die Gees van die Here. Dit beteken dat hy ‘n sin het vir dit wat in die Here se oë reg is, en dat hy ook die outoriteit het om aan Israel haar oortredinge bekend te maak. Derdens word die leiers en profete skerp veroordeel omrede hul die indruk by die mense skep dat Jerusalem met moord en onreg gebou is.

In hoofstuk vier in die eerste vyf verse word ‘n profesie van redding aangekondig. Hierdie profesie stem ooreen met Jesaja 2:2-4. Miga brei uit oor die belofte van oorwinning en die tyd wanneer die ideale heerser ‘n toekoms van vrede en veiligheid vir die volk sal bring.

In hoofstuk vyf word daar verwys na ‘n tyd wanneer die Here sal ingryp in sy volk se geskiedenis en militêre toerusting, waarsêery en onwettige kultiese voorwerpe waarop hulle vertrou, sal uitwis. Hy sal dan verantwoordelikheid neem vir die beskerming van sy volk.

Deel 3

Die derde hoofdoel begin ook met ‘n oproep om te hoor wat die Here sê. Die gedeelte bestaan ook uit ‘n aankondiging van oordeel gevolg deur uitsprake van redding. Miga 6-7 moet verstaan word teen die agtergrond van ‘n noodsituasie waar die Assiriërs die volk bedreig. Die uitsprake is weereens oor godsdiensbeoefening wat verkeerd is in die oë van die Here.

Die vereistes wat die Here stel, is om reg te doen, opreg voor Goden mense te wees en ‘n daaglikse verhouding met Hom te hê.

Die laaste gedeelte van Miga se sewende hoofstuk is amper ‘n samevatting van die boodskap van Miga. Miga kondig hoop aan. Die gedeelte bestaan uit ‘n lied van vertroue, ‘n profesie wat redding vir die volk aankondig, ‘n smeekgebed en ‘n lied wat die grootheid van God se medelye met sy volk bely. Die boek Miga eindig dus met ‘n boodskap van hoop en vertroue in die Here.

Waar was Lagis?

Lagis was 'n belangrike versterkte stad in die suidelike deel van die Koninkryk van Juda. Dit was geleë in die Sefela, die lae heuwel gebied tussen die Judese berge en die Mediterreense kusvlakte. Meer spesifiek was dit geleë:

  • Ongeveer 24 km (15 myl) wes van Hebron
  • Suidwes van Jerusalem
  • Op die hoofpad wat Jerusalem met Egipte en die kusstede verbind het.

Vandag word die ruïnes van die Bybelse stad gevind by Tel Lagis, 'n argeologiese heuwel in suidelike Israel.

Waarom Lagis belangrik was in die Bybel

Lagis was een van die belangrikste stede in Juda, soms net tweede na Jerusalem. Dit verskyn in verskeie Bybelse gebeure:

  • Josua het Lagis verower tydens die Israelitiese verowering van Kanaän (Josua 10:31–33).
  • Dit het later deel geword van die grondgebied van die stam van Juda (Josua 15:39).
  • Koning Rehabeam het dit versterk as 'n verdediging stad (2 Kronieke 11:9).
  • Die Assiriese koning Sanherib het dit in 701 vC verower tydens sy veldtog teen Juda (2 Konings 18:13–17).

Omdat dit die hoofroete na Jerusalem bewaak het, het wie ook al Lagis beheer het, toegang tot die binneland van Juda beheer gehad.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy