Lewenslesse uit Hebreërs: Ragab

Hebreërs 11:31 – Geloof wat bo skande uitstyg
Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die verkenners in vrede ontvang het. — Hebreërs 11:31, 1983 Afrikaanse Vertaling
- Die Galery van Geloof — Konteks
Hebreërs 11 is 'n lys van mense wat deur geloof geleef het — soos Abraham, Moses, Gideon. Groot name. Heldefigure. En dan, skielik: Ragab. 'n Vreemdeling. 'n Kanaäniet. 'n Vrou met ‘n slegte reputasie.
- Haar insluiting is nie 'n ongeluk nie — dit is 'n verklaring van wat God deur mense kan bereik.
- God gebruik nie net die sogenaamde heiliges van hierdie wêreld nie. Hy gebruik die stukkendes, die buite-staanders, die mense wie niemand anders sou kies nie.
- Ragab se Verlede — Die Uitgeworpene
Ragab was 'n prostituut in Jerigo (Josua 2). Sy was 'n Kanaäniet — 'n vyand van Israel. Sy het aan die rand van die samelewing geleef, letterlik in die muur van die stad. Haar huis was 'n plek wat mense in die geheim besoek het. Gaan lees gerus die hele gedeelte vanaf Josua hoofstuk een tot agt om die volle konteks te kry. Ons selgroep het nou die dag Jerigo se mure bespreek, ook as ‘n daad van geloof, om op te tree en te doen wat God vra, al klink dit onsinnig.
Tog is dit hierdie vrou wat God kies om Sy volk te red — en wat uiteindelik in die geslagsregister van Jesus Christus verskyn (Mattheüs 1:5).
- Ragab se Geloof — Wat Sy Gedoen Het
Ragab het die Israelitiese verkenners versteek toe haar eie mense die verkenners kom soek het (Josua 2:1–6). Sy het haar lewe en die van haar familie op die spel geplaas. Sy het haar lojaliteit verskuif van haar stad na die God van Israel.
- Haar geloof was nie teorie nie — dit was aksie teen alle verwagting.
- Die rooi tou aan haar venster (Josua 2:18) was 'n daad van vertroue — soos die bloed aan die deurposte in Egipte. Sy het geglo nog voor sy gesien het.
Ons moet onthou dat Israel nie in isolasie deur die woestyn getrek het nie. Hulle was oppad Kanaän toe, en die plaaslike inwoners het dit geweet. Sien Josua 2:9-11.
- Jesus en die Uitgeworpenes — Wat Dit van Ons Vra
Jesus het nie tyd spandeer met die godsdienstige elite nie. Hy het gesit by tollenaars, sondaars, siekes, en verstotenes (Lukas 15; Markus 2:16–17). Dit was nie toevallig nie — dit was sy roeping.
Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars. — Markus 2:17
Drie waarhede vir ons vandag
- Erken jou eie gebrokenheid.
Ragab het nie haar verlede weggesteek nie. Sy het God tegemoet gegaan presies soos sy was. Genade is nie vir mense wat hulself reggemaak het nie — dit is vir mense wat weet hulle kan dit nie self doen nie.
- Moenie jou gebrokenheid wegsteek nie.
In ons huisgroep is eerlikheid heilig. Die mense wat Jesus die meeste geraak het, was dié wat voor Hom neergekniel het sonder om voor te gee. Ons spoor nie mekaar nie na perfeksie nie — ons roep mekaar op na eerlikheid.
- Ware geloof vra soms dat jy jou reputasie neersit.
Ragab het haar status, haar sekuriteit, en haar plek in die gemeenskap op die spel geplaas. Geloof wat niks kos nie, is selde geloof. Volg jy Jesus net waar dit gemaklik is?
Groepsgesprek
- Ragab se verlede het haar nie gediskwalifiseer nie — dit het haar deel van die verhaal gemaak. Watter deel van jou verlede dink jy maak jou ongeskik vir God se gebruik?
- Jesus het opsetlik tyd spandeer by mense wat die samelewing verwerp het. Met watter soort mense is jy bereid om tyd te spandeer?
- Is daar 'n area in jou lewe waar jy weet God iets vra — maar jy is bang vir wat mense sal dink? Hoe lyk dit om jou reputasie in sy hande te lê?
Slotgedagte
Ragab is in die Bybel nie onthou as 'n hoer nie. Sy is onthou as 'n vrou van geloof.
God herskryf stories. Hy kan joune ook herskryf.