Jesaja 53

Hierdie skrywe is nie bedoel om die enigste Bybelstudie oor die onderwerp te wees nie; eerder ’n riglyn vir verdere studie van jou eie.
Die verbode hoofstuk vir die Jode
In hierdie studie vra ek jou om nie na teologie te kyk nie, maar bloot na wat die Woord sê. Vir baie jare al wil die Jode nie hierdie hoofstuk in Jesaja se profetiese boek lees nie, juis omdat dit van die Messías praat, terwyl hulle eerder wil sien dat die Kneg, Israel self is. Dit is nie moontlik nie. Tog is dit juis hierdie hoofstuk wat vandag besig is om baie Jode na Jesus toe te lei, soos wat hulle geestelik begin wakker word. Sien Jeff Morgan se webwerf www.highway53.org. Nie net Jode word egter hierdeur geraak nie.
Wat vertel hierdie hoofstuk vir jou oor jou posisie in Jesus Christus?
Jesaja 53
Ons lees vanaf Jesaja 52:13. Dit is waar die hoofstuk eintlik sy begin het en dit is die hoofstuk wat die Jode nie wil lees nie. Daar word dikwels na Jesaja 53 in die Nuwe Testament verwys. Die profeet het hierdie woorde 800 jaar voor die gebeure plaasgevind het geskryf, en dit is in die fynste besonderhede neergepen.
Jesaja 52:13: My Kneg, Jesus Christus, soos wat die Jode Hom in die toekoms gaan ervaar. Daar is vier hoofstukke oor die Kneg soos Jesaja dit ontvang het. Lees eerstens Jesaja 42:1 (verwys na Matthéüs 12:17–21) en dan Jesaja 49:6 (verwys na Handelinge 13:47) waar Jesus die eerste keer as God se Kneg aangedui word. Dan volg Jesaja 50:10. Die vierde keer waar daar na Jesus as die Kneg verwys word is in Jesaja 52:13. Hy was die kneg wie gedien het, eerder as om gedien te word. Waar lees ons hiervan in die Nuwe Testament?
Jesaja 52:14: Die impak van die géseling voor en tydens die kruisiging.
Jesaja 52:15: Die millennium regering in die toekoms. Sien Romeine 15:21.
Jesaja 53:1: Johannes verwys hierna in Johannes 12:38 en Paulus in Romeine 10:16.
Jesaja 53:2: Die evangelie moet nooit in mooi geskenkpapier toegedraai word nie. Dit is wat die duiwel wil sien gebeur. Dit moet aangebied word vir dit wat dit is en vir ons verteenwoordig. Dit is nie altyd vir ons mooi nie, maar dit is nodig.
Jesaja 53:3: Min mense het hulle aan Jesus se bediening gesteur, beide die Jode vir wie Hy eerstens gekom het, en die heidene.
Jesaja 53:4: Hy het verantwoordelikheid vir die sonde (krankhede en smarte) van andere (myne!) aanvaar en dit syne gemaak.
Jesaja 53:5: Hy was die ontvanger van dit wat na ons kant toe moes kom. Deur sy dood (wonde) het daar vir ons lewe gekom.
Jesaja 53:6: Ons het almal soos skape rondgedwaal wie herderloos was, maar Jesus kom as die goeie Herder en bring ons in sy kraal. Sien Johannes 10:11–14.
Jesaja 53:7: Sien Matthéüs 26:63 en Markus 15:5. Sien ook Handelinge 8:32.
Jesaja 53:8: Hy is afgesny (doodgemaak; Eng. “shall Messiah be cut off” in die KJV). Sien Daniël 9:26. “My volk” verwys na Israel en Daniël se profesie gaan oor Israel.
Jesaja 53:9: Die plan was dat Jesus waarskynlik saam met die ander twee gekruisigdes (goddeloses) begrawe sou word, maar toe het Josef van Arimathéa sy lyk gevra en Hom alleen gaan begrawe in sy eie, ’n ryk man, se graf. Sien Matthéüs 27:57–60.
Jesaja 53:10: Dit het die Here “behaag” beteken Hy het sy volle toestemming gegee en Hy was bly. Diegene wie deur Hom gered is, sal Hom sien en Hy hulle.
Jesaja 53:11: Ons regverdigmaking is die hoofsaak. Deur ons skuld te dra, is ons regverdig verklaar, en “baie” (dus nie almal nie) word regverdig verklaar. Nie almal gaan egter hierdie geskenk aanvaar nie. Sien Romeine 5:9, 21. Ons het alreeds ’n studie oor regverdigmaking gedoen (sien ons reeks oor Soteriologie).
Jesaja 53:12: In sy nood het Hy vir sy oortreders gebid. Sien Lukas 23:34.
Jesaja 53 en die Nuwe Testamentiese vervulling
Die tabel hieronder wys hoe elke vers van Jesaja 53 in die Nuwe Testament aangehaal word of in vervulling gaan. Aanhalings kom uit die 1953-vertaling.
| Vers | Jesaja 53 Teks (1953-vertaling) | Nuwe Testament Verwysing | Nuwe Testamentiese Verband en Teks (1953-vertaling) |
|---|---|---|---|
| Jesaja 53:1 | “Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?” | Johannes 12:37–38 Romeine 10:16 |
Direk aangehaal om te verduidelik waarom mense Jesus verwerp het ten spyte van sy wonders: “Here, wie het ons prediking geglo…” |
| Jesaja 53:2 | “Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit… Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie…” | Markus 6:3 Filippense 2:7 |
Weerspieël Jesus se nederige, alledaagse agtergrond as ’n timmerman en dat Hy die gestalte van ’n dienskneg aangeneem het. |
| Jesaja 53:3 | “Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid…” | Johannes 1:11 Lukas 19:41 |
“Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” Ook sigbaar waar Jesus oor Jerusalem geween het. |
| Jesaja 53:4 | “Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.” | Matthéüs 8:16–17 | Direk aangehaal nadat Jesus siekes gesond gemaak het: “Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra.” |
| Jesaja 53:5 | “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel… en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” | 1 Petrus 2:24 Romeine 4:25 |
Direk aangehaal deur Petrus: “Deur wie se wonde julle genees is.” Sluit ook aan by Jesus wat aan die kruis deurboor is (Johannes 19:34). |
| Jesaja 53:6 | “Ons almal het gedwaal soos skape… en die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” | 1 Petrus 2:25 2 Korinthiërs 5:21 |
Petrus skryf: “Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder…” Paulus noem dat God Hom sonde vir ons gemaak het. |
| Jesaja 53:7 | “Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word…” | Handelinge 8:32 Matthéüs 27:12–14 |
Direk aangehaal in Handelinge 8 deur die Etiopiese hofdienaar; vervul toe Jesus stilgebly het voor Pilatus en die owerpriesters. |
| Jesaja 53:8 | “Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem… ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.” | Handelinge 8:33 | Direk aangehaal in Handelinge 8: “In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag beskrywe?” |
| Jesaja 53:9 | “En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ’n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.” | Matthéüs 27:57–60 1 Petrus 2:22 |
Vervul in Jesus se begrafnis in die graf van Josef van Arimathéa, ’n ryk man. Petrus haal die slot aan: “Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie.” |
| Jesaja 53:10 | “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel… As sy siel ’n skuldoffer aangebied het, sal Hy ’n nakroos sien; Hy sal die dae verleng…” | Handelinge 2:23–24 Hebreërs 10:10–12 |
Wys op God se raad en plan met die kruisiging, Jesus se eenmalige offer vir sonde, en sy opstanding (“die dae verleng”). |
| Jesaja 53:11 | “Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak…” | Romeine 5:18–19 1 Johannes 2:1 |
Paulus eggo dit direk: “So sal ook deur die gehoorsaamheid van die een die baie tot regverdiges gestel word.” |
| Jesaja 53:12 | “…omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel is, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.” | Lukas 22:37 Markus 15:27–28 Hebreërs 9:28 |
Aangehaal deur Jesus by die Laaste Avondmaal (“En Hy is by die misdadigers gereken”), vervul tussen twee rowers aan die kruis, en weerspieël in sy voorbidding (Romeine 8:34). |
Nagmaal
Met hierdie teks in gedagte, hoe gaan jy jou volgende Nagmaal benader? Die profetiese woord is Gees-geïnspireerd. Ken die Woord. Hou op met sonde.