'n Verduideliking van Johannes 14:6

Waarom spesifiek Johannes 14:6?
Die Evangelie van Johannes verskil van die ander evangelies daarin, dat die skrywer net 'n verkorte en oorsigtelike weergawe gee van Jesus se lewe en werk.
Die inhoud van die evangelie is 'n verkorte weergawe, daar die skrywer net fokus op hoogtepunte van Sy lewe en werk. Gebeure volg vinnig op mekaar, veral in die laaste week van Sy lewe, na die intog in Jerusalem.
Die skryfwyse in die evangelie is oorsigtelik, daar die skrywer 'n wye spektrum van gebeure binne 'n kort tydsverloop, beskryf. Die skrywer fokus veral op die laaste sewe dae van Jesus se lewe, voor die kruisiging.
Die fokus van die webwerf, Johannes Hoofstuk Drie, is Johannes 3:16. Hierdie gedeelte kan egter nie in isolasie verstaan en geïnterpreteer word nie. Die gebeurtenis soos genoem in Johannes 3:16, vloei uit tot die boodskap wat Jesus bring in Johannes 14:6 - Ek is die weg en die waarheid en die lewe: niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Kom ons kyk na die gebeure wat aanleiding gee tot Johannes 14:6.
Hoofstuk 12
Die tyd waarteen hierdie hoofstuk afspeel, is ses dae voor die viering van die pasga. Jesus gaan na Betanië en geniet 'n ete saam met Lasarus en sy susters, Maria en Martha. Tydens hierdie ete salf Maria die voete van Jesus met kosbare nardussalf. Judas Iskariot was 'n getuie van die salwing en hy lewer dadelik negatiewe kritiek oor die aksie. Judas was van mening dat die kosbare nardussalf eerder verkoop moes word, en die geld aan die armes gegee word. Jesus is bewus van die alternatiewe motiewe van Judas: om Hom te verraai, en om die geld, wat die salf kon inbring, vir homself te neem. Judas was in beheer van die finansies en het homself daaraan gehelp (steel).
In die hoofstuk is Lasarus die teiken van die Joodse leiers - hulle wou hom doodmaak.
In verse 12-19 gee die skrywer in oorsig oor die intog in Jerusalem. Jesus leer sy dissipels (verse 20-50) en daarna die mense (verse 30-50) aangaande Sy verheerliking as Seun van God.
Hoofstuk 13
Hoofstuk 13:1-20, vertel van Jesus se nederige en liefdevolle taak deur die voete van sy dissipels te was. Jesus openbaar vanaf vers 21 dat een van die dissipels 'n verraaier is, en nie is wat hy voorgee om te wees nie. Jesus toon aan die dissipels wie dit is, deur aan Judas Iskariot 'n stukkie brood te gee. Wanneer Judas die vertrek verlaat, is Jesus se woorde: "Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik" - vers 31.
Jesus deel met die dissipels die gebeure wat sal plaasvind, dog op hierdie stadium het hulle nog nie insig in dit wat Jesus vir hulle vertel nie. Jesus se vermaning aan Petrus, oor hoe hy Jesus sal verloën, vind ons in vers 38.
Hoofstuk 14
Die kruks van Hoofstuk 14 is opgesluit in vers 6. Jesus verduidelik vir die dissipels aangaande sy Hemelvaart en dat Hy na die Vader gaan om plek voor te berei vir wanneer Hy weer kom om hulle te kom haal.
Jesus noem dat hulle die weg ken wat Hy moet volg (vers 4). Thomas verstaan nie die boodskap nie, waarna Jesus in vers 6, die reddende boodskap aan hulle mee deel:
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (Johannes 14:6)
Jesus se missie op aarde word saamgevat in die konteks van twee verse: Johannes 3:16 en Johannes 14:6.
Wees gewaarsku, Johannes 14:6 is die een vers wat deur talle buite konteks aangehaal word om misleiding en valse leerstellings, as die waarheid, voor te hou.
Ek is die Weg
Met hierdie woorde beklemtoon Jesus dat Hy alleen die weg na die Vader is.
Hy is nie ''n weg nie', dus daar is nie keuses oor watter pad jy wil vat om by God uit te kom nie, daar is net een pad - 'die weg'.
Alle ander leerstellings wat anders leer, is vals.
Kortliks: Jesus is dié Weg.
Ek is die Waarheid
Weer word die bepaalde lidwoord, 'die' gebruik. Die betekenis is, dat daar net één Weg is om tot redding te kom.
As jy nie die Weg en die Waarheid volg nie, is jy op 'n valse pad.
Ek is die Lewe
Jesus verwys na lewe - die teenoorgestelde van 'dood'.
Jesus het vir Lasarus uit die dood opgewek; Jesus self oorwin die dood; so ook sal Hy ons uit die dood opwek, op die voorwaarde dat ons gelowiges is en in Hom glo.
In geen ander religie word daar melding gemaak van iemand wat uit die dood opgewek is nie.
Net Jesus kon die dood oorwin, want Hy is Lewe.
Niemand kon na die Vader behalwe deur My nie
Jesus self, leer die dissipels dat daar net een weg is om gered te word; net een weg om die saligheid te beërwe, en dit is deur Hom, Jesus die Christus.
Dié wat nie die waarheid aanneem en navolg nie, is verlore.
Fokus op dit wat Jesus vir ons in Sy Woord leer aangaande Homself, en sluit daarmee uit al die misleiding wat in die wêreld rond gaan.
Ter opsomming
Johannes 3:16 - hier val die klem op die gedeelte: 'sodat elkeen wat in Hom glo…', terwyl die klem in Johannes 14:6 val op: 'Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe...'.
Die twee skrifgedeeltes sluit by mekaar aan: almal wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê, terwyl die manier hoe jy in hierdie belofte van die ewige lewe kan deel, is om Jesus as die Weg, die Waarheid en die Lewe, aan te neem.
- Nie enige weg nie - Spreuke 14:12 - Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
- Dit is nie jou lewe nie - Galasiërs 2:20 - Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.