Daar is net twee keuses

Watter keuse gaan jy maak?
Die Bybel was nooit bedoel om gekompliseerd te wees nie. Daar is egter baie mense, van wie ongelukkig baie Christene is, wat probeer om die Bybel ‘n boek van raaisels te maak, te moeilik vir die gewone man op straat om te verstaan. Baie reken dat die Ou Testamentiese profetiese geskrifte moeilik is om te verstaan. Dit is egter nie hoe die Bybel is nie. Hoe meer ons die Bybel lees, hoe meer sal God Homself deur die Woord openbaar. Dit is die Heilige Gees wie ons sinne verhelder om die geskrewe woord te verstaan.
Paulus, Petrus en ander skrywers was dit eens dat ons nie moet bly by die melk van die Evangelie nie, met ander woorde die basiese boodskap, maar aan moet beweeg na die meer komplekse dele – die vleis. Dit impliseer dus dat daar geestelike groei moet wees. Hierdie groei sal ons in staat stel om dele van die Woord te verstaan wat voorheen vir ons moeilik was om te verstaan.
Die maklike deel
Wanneer ons na die laaste vers in die derde hoofstuk van Johannes se evangelie kyk, som Johannes die Doper dit in een sin op. Selfs al was hy nie teenwoordig by die gesprek tussen Jesus en Nikodémus nie, die eerste deel van die hoofstuk, het hy geweet dat Jesus die Messias is en dat wedergeboorte ‘n noodsaaklike aspek is. Die Apostel Johannes sluit die hoofstuk af met Johannes die Doper se woorde:
36Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. – Johannes 3:36
Hier is perfekte balans en dit is om die Woord vir enige persoon verstaanbaar te maak. Eers moet ons die persoon identifiseer:
- Hy wat in die Seun glo;
en
- Hy wat die Seun ongehoorsaam is.
Hoe verskil hulle eindbestemming?
- Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe;
en
- Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie.
Ons kan eenvoudige logika hier toepas. Daar is ‘n kondisie en ‘n vereiste om die kondisie na te kom:
- Indien jy die uitnodiging om weer gebore te word, nagekom het (vers 3), dan moet jy geestelik begin groei en andere van jou wedergeboorte vertel. Groei in die Woord en moenie net geestelike melk drink nie, maar streef daarna om ook die geestelike vleis in te neem. Gaan na die afdeling Geestelike Groei;
of
- Indien jy nog nie die uitnodiging aanvaar het nie, dan moet jy die volgende doen:
- Erken dat jy ‘n sondaar is
- Bely jou sonde
- Vra vir vergifnis
- Aanvaar die vergifnis
- Bely Jesus Christus as Heer en Redder, volgens die Woord:
- Gaan terug na punt 1 hierbo en begin jou geestelike pad.
9As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; – Romeine 10:9
Hierdie inligting is op die hoofbladsy van die webwerf beskikbaar. Lees die inligting en gebruik die skakels om na die verskillende dele te beweeg.
Geestelike groei
In die boek Hebreërs dui die skrywer die volgende aan:
13Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ’n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. – Hebreërs 5:13-14
Hier dui die skrywer (en ons kan nie aanneem dat dit Paulus was nie, soos wat baie kommentare dit wil aandui) duidelik aan dat geestelike groei ‘n proses is. Die nuwe gelowige is soos ‘n baba. Hierdie baba kan beslis nie vaste kos eet terwyl sy maag nog nie in staat is om dit te verteer nie. Jou eerste stap van geestelike groei is die melk – die basiese elemente van die geloof. Soos wat jy vorder, begin jy vaste kos eet – die meer gevorderde aspekte van die Woord. Die aangehaalde teks is nie bedoel om die nuwe gelowige in ‘n slegte lig te stel nie. Dit dui bloot aan dat geestelike groei ‘n proses is.
Baie jong gelowiges maak die fout om onmiddellik die twee boeke aan weerskante van die Bybel te takel – Genesis en Openbaring. Alhoewel beide boeke noodsaaklik is vir God se progressiewe openbaring aan die mens, word nuwe gelowiges vasgevang in aspekte wat hulle nie op hierdie stadium kan hanteer nie. Genesis byvoorbeeld, bring die vraagstuk na vore waar Adam se kinders hulle vrouens gekry het. ‘n Ander voorbeeld is hoe oud die aarde is. Gaan jy na die laaste boek in die Bybel, word nuwe gelowiges oorweldig deur die eskatologies vraagstukke – diere uit die see, ‘n groot oorlog, die duisendjarige vrederyk, en die nuwe Jerusalem. As ‘n nuwe gelowige groei jy nog. Drink eers die melk wat jou nou moet voed.
Begin by die evangelie van Johannes. Hierdie boek bevat die beste voorbeelde van Jesus se sending na die aarde, naamlik die redding van mense se siele. Indien ons vinnig deur die evangelie blaai, sien ons die verskeidenheid van mense met wie Jesus interaksie gehad het.
Die Apostel Johannes
- Johannes begin die verhaal deur te verduidelik wie die Woord was. (Johannes 1:1-18).
Johannes die Doper
- Hierna word Johannes die Doper bekend gestel as die een wie die weg sou voorberei vir die koms van die Messias. (Johannes 1:19-36). In vers 29 verskyn Jesus op die toneel en Johannes herken Hom as die Lam van God. Vers 36 verduidelik dat Johannes en twee van sy dissipels Jesus die volgende dag gesien het. Daardie twee dissipels het Johannes onmiddellik verlaat en Jesus gevolg.
- Die volgende aksie is waar Jesus sy dissipels kies (vers 38-52).
Jesus die Messias
- Noudat Jesus op die toneel is, sien ons hoe sy openbare bediening vorm aanneem:
- Hoofstuk twee begin met die troue in Kana. Hierdie was beslis nie ‘n doodgewone geleentheid nie. Dit toon duidelik aan dat Jesus belangstel in al ons doen en late. ‘n Troue was inderdaad ‘n groot geleentheid en dit is gepas dat Hy hier sy eerste wonderwerk verrig (vers 1-12).
- Die volgende geleentheid is die reiniging van die tempel waartydens Hy baie streng optree om diegene te verwyder wie nie daar was om te aanbid nie, maar eerder hulle eie aardse belange bevorder (vers 13-25).
- Hoofstuk drie vertel van die gesprek met Nikodémus en hierdie gedeelte bevat die kern gedagte van die Bybel: God het elkeen van ons lief en wil nie sien dat enige persoon in sy sonde sterf nie maar dat almal wedergebore word en die ewige lewe ontvang (vers 1-21).
- Hoofstuk drie gaan verder met die oorhandiging van Johannes se bediening aan Jesus as Messias. Johannes se taak, om die weg vir die koms van die Messias aan te baan, is voltooi. Hy het net die pad aangedui en nou is die tyd dat sy rol minder word en die van Jesus meer (vers 22-36). Dit is Johannes die Doper self wat die woorde spreek waarmee hoofstuk drie afgesluit word:
- Hoofstuk vier begin met die ontmoeting by die put, wat weereens aandui dat Jesus gekom het om die sonde van alle mense weg te neem, en nie net die van die Jode nie. Dit begin met die gesprek met ‘n vrou, ‘n Samaritaan en dan nog iemand met ‘n twyfelagtige verlede (vers 1-30).
- Die hoofstuk gaan verder met die boodskap dat die lande inderwaarheid gereed is vir die oes, en dat die tyd om mense na Jesus te lei, nou daar is (vers 31-42).
- In hierdie hoofstuk sien ons die tweede wonderwerk soos deur Johannes beskryf word, die genesing van die seun van ‘n vooraanstaande persoon. Die eerste wonderwerk, die verandering van water in wyn, was ‘n publieke bewys van die krag van God, waar Jesus self teenwoordig is. Die volgende wonderwerk toon dat Hy nie nodig is om fisies teenwoordig te wees nie. Hy is die alomteenwoordige God. Die koors het die kind verlaat deur net ‘n woord van die Geneesheer af. Hy noem aan die kind se pa dat hy moet gaan, sy kind leef. (vers 50).
- Hoofstuk vyf en verder dui aan hoe Jesus op alle vlakke betrokke is, in alle aspekte van die samelewing. Of dit nou wat om met sy ongelowige broers te deel of ‘n konfrontasie met die Joodse leiers (Hoofstuk agt); sy kontak met ‘n vrou wie in egbreek betrap is en waartydens Hy hierdie selfde Jode in die openbaar veroordeel (Hoofstuk agt); die genesing van ‘n blinde man (Hoofstuk nege); of die opwekking van Lasarus (Hoofstuk 11), was Hy altyd gereed om die liefde van God te toon aan diegene teenwoordig maar op die selfde tyd het Hy nie geskroom om die dubbele standaarde van mense uit te wys nie.
36Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe; maar hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom. – Johannes 3:36
Gaan voort met jou studie van die Woord
Soos wat jy die Woord lees, dink aan die menslike karakter van die Messias. Hy het met mense op alle vlakke gemeng, maar nooit deel gehad aan hulle sonde nie. Hy het hulle eerder die liefde van die Vader gewys. Die media vandag skets ‘n verkeerde beeld van Jesus. Alhoewel hy kalm en beredeneerd was die vrug van die Gees getoon het (Galasiërs 5:22) het dit nie beteken dat Hy mense toegelaat het om met hulle sondige lewe voort te gaan nie maar het eerder ‘n beter weg aangedui. Ons sien ‘n goeie voorbeeld hiervan in hoofstuk agt:
10En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie. – Johannes 8:10-11
Hy was bewus van haar sondige toestand, maar deur haar te beskuldig en te laat stenig was nie die antwoord nie. Hier was iemand wie bewus was van haar toestand, maar ‘n tweede kans gekry het, ten spyte van die voorskrifte van die wet. Die Joodse leiers sou steniging gekies het, sonder enige kans op berou en bekering deur die beskuldigde. Jesus kies lewe, en die belydenis van sonde word opgevolg deur vergifnis, herstel en geestelike groei.
As ‘n nuwe gelowige gaan jy baie foute maak op die pad van jou geestelike groei. Jy mag dalk die pad byster raak en op een of ander stadium weer terugkeer. Dit is omdat die Vader jou liefgehad het voor die grondlegging van die aarde en altyd sal probeer om jou terug te trek na Hom toe, net soos wat Hy Petrus uit die water opgetrek het toe sy geloof gewankel het:
29En Hy sê: Kom! Petrus klim toe van die skuit af en loop op die water om na Jesus te gaan. Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my! En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel? – Matthew 14:29-31
Jesus wag altyd vir jou, of dit in privaat is (Nikodémus); by ‘n put (die Samaritaanse vrou); in ‘n publieke plek (die vrou wat in egbreek betrap is); of in die water (Petrus), om jou terug te bring op die regte pad.