Jy is Myne: Ek is die eksklusiewe eiendom van Jesus Christus

Ek is die eksklusiewe eiendom van Jesus Christus
Etlike jare gelede het ek in Angola gewerk, ‘n Portugees-sprekende land in wes Afrika. Een aand terwyl ek huis toe ry, te midde van al die chaos daarvan om te bestuur in die midde-stad van Luanda, die hoofstad van een van die mees oorvloedige en armoedige lande terselfdertyd, sien ek die volgende buffer plakker:
Eu sou propriedade exclusiva de Jesus Cristo
Dit word vertaal na: Ek is die eksklusiewe eiendom van Jesus Christus. Dit het my laat dink dat deur alles wat ek om my ervaar het, het iemand ‘n publieke verklaring gemaak dat hulle nie besit word deur ‘n regering of enigiemand anders nie, maar dat hulle slegs aan God behoort. Dit is so maklik om fokus te verloor wanneer ons na die situasie om ons kyk en te vergeet dat God steeds in beheer is. Ek het baie mense gesien wat ledemate verloor het – die resultaat van burgeroorlog en miljoene landmyne wat steeds nie uitgehaal is nie. Ek het ongelooflike armoede gesien – elke keer wanneer dit reën, is huise verspoel, en het mense nêrens om heen te gaan nie. Muskiete maak baie mense dood. Op een of ander manier, vir sommiges, bly hulle geloof rotsvas. Ongeag van hulle omstandighede, hulle behoort aan God, en Hy sorg vir hulle.
Die Bybel spreek dit baie duidelik toe:
1Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is Myne! – Jesaja 43:1
Lees dit weer en neem in wat dit sê. Binne hierdie konteks spreek God met die volk Israel, maar dit is ewe van toepassing op ons in hierdie dae. God het my geskape. Hy het my vrygekoop – Hy het my teruggekoop van die duiwel af. Hy het my by my naam geroep. Dink jou net in die massiewe data-basis wat elke persoon wat ooit geleef het se persoonlike besonderhede stoor. Tussen al hierdie, ken God my en roep my op my naam. Laastens sê Hy, ek is Syne. Wat ‘n wonderlike verklaring: ek is Syne.
Later bid Jesus tot die Vader, en Johannes pen die woorde neer:
6Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het U woord bewaar. – Johannes 17:6
Die Skepper van die heelal sê aan Sy Vader dat Hy mense gegee is wat eerste aan die Vader behoort het. Ons moet weereens tyd maak om sorgvuldig te lees wat Jesus hier sê:
- Hy proklameer Sy Naam oor die wat die Vader vir Hom gee;
- Hulle was deel van die wêreld, wat beteken dat hulle voorheen ongered was, maar hulle het nou genade gevind deur Jesus Christus;
- Hulle het eerste aan die Vader behoort, maar Hy het hulle vir Sy Seun gegee, om Sy eiendom te wees; en
- Hulle het Sy woord bewaar.
Dink as volg daaraan: God het die mens na Sy beeld geskape, nie net fisies nie, maar geestelik. Die val van die mens in die tuin van Eden het die mens gestroop van die volgehoue vermoë om ‘n geestelike verhouding met God te deel, en die duiwel het probeer om besit van die mens te neem – sy gees en siel. Om die verhouding te herstel het God Sy eniggebore Seun gestuur om die mens uit die kloue van sonde te verlos asook vanuit die houvas wat die duiwel op die mens het:
16Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. – Johannes 3:16
Sal jy jou enigste seun na die voorste linies van die oorlog stuur om mense te beskerm wat wesenlik boos is, wetende dat hy met sy lewe gaan betaal? God die Vader het dit gedoen vir ons wat dood was in ons sonde. Die resultaat is dat Hy ons nie net oor gewen het nie, maar Hy het ons Sy eiendom gemaak, om te beskerm en te versorg. Ek is so belangrik vir God dat Paulus die volgende geskryf het:
19Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. – 1 Korinthiërs 6:19-20
Nie net is ons teruggekoop vanuit die slawerny van sonde nie, wat meestal die gees en die siel affekteer, maar ons liggaam is nou die woonplek van die Heilige Gees. Neem kennis dat Petrus dit benadruk dat ons gekoop is teen ‘n prys – die dood van Jesus aan die kruis was ‘n baie duur transaksie:
18omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos, 20wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil, 21julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees. – 1 Petrus 1:18-21
Wanneer jy iets duur gekoop het, gaan jy dit oppas en waarde daaraan heg. Op dieselfde manier ag God jou en my as waardevol omdat ons aan Hom behoort. Die skrywer van die buffer plakker waarna ons verwys het in die begin verklaar dat hy die eksklusiewe eiendom is van Jesus Christus. Niemand anders het enige deel van hom meer nie. Sodra ons vrygekoop is van ‘n lewe van sonde, het die duiwel geen houvas op ons nie, tensy ons hom sodanig toelaat.
Slotsom
Die vraag, egter, is of jy die eksklusiewe eiendom van Jesus Christus is; of behoort ‘n gedeelte van jou nog aan die bose een. As jy eksklusief aan Jesus Christus behoort, dan is daar geen plek meer vir die duiwel nie. Die duiwel werk in jou lewe deur die sonde wat jy pleeg. Hoeveel sonde onderhou jy nog, terwyl jy glo dit wat jy doen is nie so erg nie, en dat niemand dit sal weet nie? God weet, en elke keer wanneer jy sondig en nie berou het daaroor nie, kap die duiwel so stukkie van jou as persoon in Christus weg. Nogtans maak God dit moontlik vir ons om ons sonde te bely:
8As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. 9As ons ons sonde bely, Hy is getrou om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. – 1 Johannes 1:8-9
Bely sonde so gou as wat jy daarvan bewus word. Verhoed die duiwel om deel van jou lewe te hê. Maak jouself die eksklusiewe eiendom van Jesus Christus. Sy bloed het jou skoongewas.