Jy is waarlik nuutgemaak: Die bediening van die versoening

Die bediening van die versoening
Goeiemore liewe Jesus vriende! Ons lees vanuit 2 Korinthiërs 5:11-21, die bediening van die versoening met God.
11Omdat ons dan die vrees van die Here ken, probeer ons om die mense te oortuig; maar voor God is ons openbaar, en ek hoop om ook in julle gewetens openbaar te wees. 12Want ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar ons gee julle aanleiding tot roem oor ons, sodat julle iets kan hê teenoor die wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die hart nie. 13Want as ons uitsinnig is, is dit tot eer van God; en as ons by ons verstand is, is dit om julle ontwil. 14Want die liefde van Christus dring ons, 15omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. 16Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. 17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. 18En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, 19naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. 20Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. 21Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. – 2 Korinthiërs 5:11-21
Die kern van hierdie gedeelte is dit:
17Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. – 2 Korinthiërs 5:17
Paulus beskryf dié wat in Christus is baie mooi in hierdie gedeelte. As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel. “In Christus wees” – geld dit vir jou? Indien jy waarlik in Christus glo, dan is jy:
- in Christus
- deur die geloof in Christus ingelyf
- in ‘n persoonlike verhouding met Christus, en leef jy in Sy gemeenskap.
Wanneer jy in Christus is, is jy waarlik ‘n nuwe skepsel.
Hier vind nou ‘n groot wonder plaas, en dit is vergelykbaar met die skepping of selfs die opwekking uit die dood. Jy word nou werklik ‘n ander mens:
- herskep
- wedergebore
- opgewek uit die dood van die sonde
Kom ek verduidelik dit op 'n praktiese manier vir julle, en ek gebruik ‘n voorbeeld uit my eertydse beroep. Om ‘n nuwe skepsel in Christus te wees deur bekering en geloof, is soos wanneer ek ‘n voertuig se enjin herbou. Ek haal die enjin uitmekaar, was alles mooi skoon, en al die ou verslete onderdele word weggegooi. Net so word jy en ek by wedergeboorte skoongewas van ons sondige verlede deur die bloed van Jesus, en al ons sondes uit hierdie ou lewe word “weggegooi”!
Die enjin word nou sorgvuldig met splinternuwe onderdele aanmekaar gesit en opgebou tot ‘n volledige werkende enjin, alles is nuut en skoon, en hierdie enjin kry ‘n tweede kans. Wanneer jy en ek vernuwe word in Christus Jesus, word ons ook, net soos daardie enjin, splinternuut gemaak en opgebou om, soos jou Verlosser, rein en heilig te wees. Daar is nie meer ou dinge uit jou verlede om jou te kniehalter nie, jy het ook nou ‘n tweede kans gekry.
Nog meer, jy het nou die ewige lewe as belofte.
Wanneer God jou vernuwe, deur jou geloof in Christus Jesus, word daar nie “tweedehandse onderdele” gebruik nie, nee, God maak jou skoon en nuut. Jou en my verlossing is nie net gedeeltelik nie, nee, dit is volkome. Laat jou geloof in, en toewyding aan, Christus ook nou volkome wees.
5Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. – Korinthiërs 5:21
Ek sluit af: Laat hierdie vernuwing in elkeen van ons dan deel van ons bediening word sodat ons ander ook kan lei en vermaan om met God versoen te raak.
2Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. – 2 Korinthiërs 5:20
Bekeer! Bely! Glo! Vertrou!
Groetnis
Gerhardt