Waarom selgroepe baie meer effektief is as 'n groter kerk.

Dokumentasie Geplaas op Maandag, 7 Julie 2025

Selgroepe teenoor die moderne kerk: Waarom selgroepe baie meer effektief is as 'n groter kerk.

Dink vir ‘n oomblik hieraan: in watter spasie sal jy persoonlike inligting met iemand anders deel, in ‘n klein intieme spasie soos ‘n sitkamer, of in ‘n groot gebou? Dit is die kern van selgroepe, dat hulle in klein persoonlike spasies opereer wat veel meer persoonlik is as ‘n groot publieke struktuur.

Daar is soveel voorbeelde wat aandui dat die kleiner spasies in huise meer effektief is as ‘n groter publieke ruimte. Ons deel ‘n paar idees:

  1. Hoe meer mense jou sal hoor, soos in ‘n groot byeenkoms, hoe minder sal jy geneig wees om iets te deel of ‘n vraag te vra. Hoe kleiner die spasie is, hoe veiliger is dit.
  2. In ‘n kerk is sitplekke so gerangskik dat jy net ‘n paar mense se gesigte sien, en dan van ‘n afstand af. Vir die res sien jy net die agterkant van hulle koppe. Almal kyk in dieselfde rigting. In die selgroep is sitplekke so gerangskik dat ons vir mekaar moet kyk.
  3. In die kleingroep kry almal dieselfde kans om by te dra. In die kerk bly jy meesal stil.
  4. Die kleingroep kan jy vrylik rondbeweeg, binne perke natuurlik. In die kerk sit jy op een plek en daar is spasies waar jy gladnie in mag beweeg nie.
  5. In die vertrek waar die kleingroep vergader, verskyn dieselfde lig op almal. In die groter opset is die beligting bedoel om fokus van jou af weg te neem en net op die leraar te vestig. Jy sit in die donker, maar die kollig is op hom.
  6. In die kleingroep ken jy al die lede redelik goed. In die groter kerk is meeste van hulle eintlik vreemdelinge vir jou.
  7. Die groot kerk fokus die aandag op die leraar. Hy praat en jy bly stil. In die kleingroep kan jy vrae vra en daar is interaksie. Inteendeel, hoe minder die groepleier praat, hoe beter.
  8. In die groter publieke spasie kan jy wegkruip en onbetrokke bly. Jy is bloot ‘n hoorder. In die kleingroep is jou bydrae belangrik vir die groei van die groep en jy word ‘n dader.

Ons wil jou nie afrokkel van jou kerk nie. Indien jy gemaklik daar is, bly daar. Dit is egter noodsaaklik dat jy ook aan ‘n kleingroep behoort waar jou teenwoordigheid belangrik is en waar jou stem gehoor word.

Vir meer besonderhede, besoek www.netdiewoord.co.za/selgroepe.html.

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy