
Kom Kyk
Hoe bring jy iemand wie in die wêreld is, by Jesus Christus uit? Ons lees in Johannes se evangelie van seker die eerste persoon wie ‘n ander een na die Here gelei het, Filippus. Die evangelie skrywer beskryf dit as volg:
44Die volgende dag wou Jesus na Galiléa vertrek; en Hy het Filippus gekry en vir hom gesê: Volg My. 45En Filippus was van Betsáida, uit die stad van Andréas en Petrus. 46Filippus het Natánael gekry en vir hom gesê: Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Násaret. 47En Natánael sê vir hom: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus antwoord hom: Kom kyk. – Johannes 1:44-47
Filippus loop Natánael raak en vertel hom dat “ons” Hom gevind het. Filippus was dus toe alreeds deel van die klein groep van dissipels (Johannes, Petrus, en Andréas) nadat hy die vorige dag Jesus gevolg het (vers 44). Filippus verduidelik vir Natánael dat hulle Hom van wie deur die profete geskryf is, gevind het. Natánael is uit die aard van die saak ietwat neerhalend teenoor Násaret. Natánael was van Kana, ‘n heelwat beter plek as Násaret. Hy vra Filippus hierdie vraag: Kan daar uit Násaret iets goeds wees? Filippus se antwoord is die katalisator wat Natánael se lewe verander. Hy sê bloot vir hom: Kom kyk.
Toe Jesus vir Natánael sien, het Hy nie begin deur hom te berispe deurdat Natánael minagtend gedink het oor die dorp waar Hy vandaan gekom het nie. Jesus gee hom eerder ‘n baie groot kompliment: dat hy ‘n Israeliet is in wie daar geen bedrog is nie. Het iemand al vir jou so ‘n kompliment gegee by ‘n eerste ontmoeting? Natánael besef dat Jesus meer van hom weet as wat hy gedink het, en Jesus se redelike eenvoudige opmerking dat Hy hom gesien het toe hy die onder ‘n vyeboom gestaan het, maak ‘n groot indruk op hom. Hy bely onmiddellik die aard van Jesus op twee vlakke, dat Hy die Seun van God is, en dat hy die Koning van Israel is, wie die Jode verwag het.
Kom kyk. Dit klink so eenvoudig, maar dit het ‘n lewens veranderende effek. Om iemand aan Jesus Christus voor te stel behoort nie ‘n moeilike taak te wees nie. Filippus was nie geskool in evangelisasie kursusse nie. Hy het nie teologies opleiding gehad nie, en het nie probeer om Jesus vir Natánael te verduidelik nie. Hy nooi hom eerder om self te kom kyk.
Daar is 'n verdere voorbeeld van "kom kyk". Jesus is in gesprek met 'n vrou en sy is verstom oor sy leer. Sy is so diep getref dat sy teruggaan na haar stad toe, en vir die mense gesê het:
29Kom kyk 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie? – Johannes 4:29
'n Rukkie later sê hierdie persone vir die vrou:
42Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is. – Johannes 4:42
Ons het nie nodig om met ‘n groot bohaai van teologie te probeer om iemand tot bekering te dwing nie. Dit is soms bloot nodig om hulle te nooi sodat hulle self die waarheid kan ervaar. Jy moet dalk eerder minder as meer sê; net twee woorde: Kom kyk. Wanneer die waarheid die persoon tref, sal die Heilige Gees self onmiddellik die waarheid by die persoon tuisbring sodat hy Jesus Christus as die Een identifiseer op wie sy hoop is. In beide die gevalle hierbo genoem, was die uitnodiging eenvoudig: Kom kyk.
Nooi jy dalk iemand om saam met jou ‘n diens in jou kerk by te woon? Moenie probeer om te veel te sê nie. Laat die persoon self ervaar. Probeer jy iemand uit die Woord oortuig? Moenie te veel sê nie en laat hom self lees. Jy is net die een wie die kontak bewerkstellig, net soos wat Filippus met Natánael gedoen het die Samaritaanse vrou met die inwoners van die stad. Daarna tree jy terug, en laat toe dat die Heilige Gees die res doen.