Dokumentasie Geplaas op Woensdag, 2 September 2026

Laat toe dat God jou verander

Die wêreld daarbuite baklei hard vir jou aandag. Luister jy na die stem van die wêreld, of na die stem van die Gees wat jou wil vernuwe? Jy is nie geroep om ’n wurm te bly nie, maar om vir altyd verander te word in dit wat God vir jou beplan het.

Die fokus van hierdie leerstuk is om jou te kry om verby die oppervlakkige lees van die Woord te kom en dieper te delf. Mariëtte verduidelik altyd hoedat sy korter dele woord vir woord lees, eerder as lang stukke oorsigtelik. Ons gaan ’n bekende teks hiervoor gebruik.

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. – Romeine 12:2

Lees in konteks: begin by vers 1

Hier is alreeds ons eerste fout. Ons kan nie Romeine 12:2 lees sonder om ook eers die voorafgaande teks te lees nie:

EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. – Romeine 12:1

Die eerste vers het ’n aktiewe werkwoord, iets wat jy self moet doen: stel. Die KJV gebruik die woord “present”. Dus moet jy in die eerste plek jou liggaam “stel” as iets lewend, heilig, en welgevallig. Dit is “redelik” (Eng. “reasonable”) dat jy dit doen. Dit is nie buitengewoon of buitengewoon moeilik nie. Dit is die eerste ding wat jy moet doen. Nou kom vers 2.

Vers 2 begin met ’n skakelwoord, “en”. Dit bring vers 1 en 2 bymekaar en is die rede waarom die twee verse saam gelees moet word. Hoekom so? Want jy eet spek en eiers as een dis, en roomys en vla as een nagereg. Jy eet nie nou die spek en dalk later die eiers nie. Dit is nie hoe dit werk nie. Paulus skryf vers een en twee as een gedagte. Onthou dat hy nooit versindelings gedoen het nie. Dit het eers baie jare later gebeur.

Vers 2: moenie aan die wêreld gelykvormig word nie

Die eerste werkwoord in vers 2 is ’n saamgestelde werkwoord: “word (nie) gelykvormig”. Hierdie is ook ’n opdrag – word nie (Eng. “be not” [KJV] en “Do not” [NIV]). Hoe word jy gelykvormig? Dit is om te doen wat ander doen. In hierdie geval is dit om soos die wêreld op te tree – om soos die wêreld te dink en doen. Dit is baie maklik om soos die wêreld te word. Dit is dikwels ook ’n “slow fade”. Gaan kyk na die fliek Fireproof en jy sal sien wat ek met “slow fade” bedoel. Mens word nie oornag aan die wêreld gelyk nie. Dit is ’n tydsame proses. Die bose een wil nie hê dat jy agterkom dat jy soos die wêreld word nie. Stadig maar seker, soos die spreekwoordelike padda in die pot, gaan jy geestelik dood sonder om agter te kom dat daar fout is.

Die wêreld daarbuite skreeu vir jou aandag en die stemme is oorweldigend. Net omdat baie mense egter ’n boodskap aan die wêreld bring, maak dit nie die boodskap geloofwaardig nie. Hoe hard die boodskap van die wêreld en sy begeerlikhede ook al opklink, moenie daarna luister nie.

Vers 2: word verander deur die vernuwing van jou gemoed

Die tweede werkwoord in hierdie vers is die belangrike een: maar word verander. Let daarop dat hierdie nie ’n aktiewe nie, maar ’n passiewe werkwoord is. Dit beteken eenvoudig dat jy nie jouself kan verander nie, maar verander moet word deur iets anders. Hierdie iets anders is die vernuwing van jou gemoed (Eng. but be ye transformed by the renewing of your mind). Hierdie is iets wat jy self kan en moet doen. Die vernuwing van jou gemoed is dat jy anders dink oor jouself. Dit stel jou in staat om verander te word. Sonder dat jy anders oor jouself dink, kan daar nie verandering in jou lewe wees nie.

Wat die oorspronklike Grieks vir ons wys

Kom ons kyk hoe die oorspronklike Grieks dit beskryf. Die eerste gedeelte, om nie gelykvormig te word nie, is die volgende: συσχηματίζεσθε (syschēmatizesthe). Sonder dat jy Grieks hoef te verstaan behoort jy in hierdie woord twee eienskappe raak te lees: sisteem (syschēm) en sistematies (syschēmatiz). ’n Sisteem is ’n stelsel. Sistematies beteken dat dit berekend, met tyd, en in fases gedoen word. Die duiwel doen dit berekend – hy beplan jou val vooruit. Hy doen dit ook oor ’n periode van tyd sodat jy dit nie agterkom nie. Laastens pak hy dele van jou lewe aan, en elke deel het ten doel om jou gelykvormig te laat word aan die wêreld en sy standaarde.

Die volgende woord is die belangrike een: μεταμορφοῦσθε (metamorphousthe). Die woord “metamorphoo” beteken ’n verandering wat nie omgekeer kan word nie. Wanneer jy nuut begin dink, begin die Heilige Gees ’n werk van verandering in jou wat jy nie self kan doen nie, en wat ook nie omgekeer kan word nie. Jy kan nie teruggaan na wat jy was nie.

Sover sien ons dat verse 1 en 2 twee werkwoorde of aksies het: “stel” in vers een – aktief, en “word verander” in vers twee – passief. Een doen jy self (aktief) en die ander een doen die Heilige Gees in jou (passief). Saam word jou denke verander (gemoed) – hoe jy oor sonde en ’n wêreldse gesindheid dink.

Waarom is hierdie twee aksies saam nodig? “Sodat” (vers 2b) ek en jy kan “beproef”... Hier kom die derde Griekse woord: δοκιμάζειν (dokimazein). Die woord beproef beteken om die voorkoms van iets te analiseer. In die konteks beteken dit dat jy vasstel, analiseer, en bewys wat die goeie, welgevallige, en volmaakte wil van God vir jou lewe is.

Wat leer ons hieruit?

God wil hê dat ons volgens sy wil vir ons lewens leef, nie die wil van die wêreld nie. Die eerste elf hoofstukke van Romeine handel oor doktrine, hoe ons moet leef vanuit die oogpunt van die genade. In hoofstuk 12 vat hy alles saam. Die woord “vermaan” is in Engels “beseech” en dit beteken om ernstig te vra of te versoek/smeek (Eng. “beg”). Hy doen ’n versoek op ons om te leef soos wat hierdie God, waarvan ons in die eerste elf hoofstukke gelees het, van ons vra.

Dink weer aan die woord “metamorphoo”. Is jy nog steeds die larwe wat hoop om te kan vlieg met die lyf van ’n wurm, of het jy toegelaat dat jy verander word van ’n larwe in ’n papie, en dan in ’n vlinder vir wie vlieg normaal is?

Jy was nog nooit bedoel om ’n wurm te wees nie. Die duiwel wil egter hê dat jy so moet dink en so moet bly. Verander hierdie denkwyse vandag nog en beproef wat God se goeie, welgevallige, en volmaakte wil vir jou lewe is.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy