Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 26 November 2022

Laggend oppad hel toe: Leer om met respek met God te praat en teenoor Hom op te tree

Laggend oppad hel toe: Leer om met respek met God te praat en teenoor Hom op te tree

Dalk gaan hierdie boodskap mense omkrap. Dan is dit maar hoe dit is. Daar is nie tyd vir onsinnighede nie. Doen maar ‘n bietjie selfondersoek. Verlede week luister ek nie iemand se storie oor wat in sy verlede gebeur het. Ek hoor die taalgebruik en ek besef hoekom hierdie persoon se lewe uitmekaar geval het. As jou gebedslewe enigsins soos jou taalgebruik is, moet jy maar die houe vat, en die seën gaan jou verby. Jou krisis was nie ‘n tyd om jou hoogmoedige houding teenoor God uit te skree nie. Jy moet nog leer wat nederigheid is. Wat sê die Woord hieroor?

3Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; 4ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging. 5Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie. 6Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God oor die kinders van die gehoorsaamheid. 7Wees dan nie hulle deelgenote nie. – Efésiërs 5:3-7

Daar is ‘n baie goeie rede waarom die Bybel nie ‘n boek vol ligsinnigheid is nie. Die ewigheid is ook geensins iets om oor te lag, of die spot mee te dryf nie, of om ligtelik op te neem nie. Wanneer jy oor geestelike sake lag en hierdie belangrike dinge in ‘n komiese lig stel, is dit moeilik vir ander mense, dalk ongereddes wie dit hoor, om die evangelie werklik ernstig op te neem – en ons sien al meer hierdie “nar mentaliteit” onder sogenaamde predikers en geleentheidsprekers. Van hulle lyk en klink of hulle meer sal pas op ‘n komedie rolprent stel.

Daar is niks heiligs in hierdie laggende generasie nie – hulle dryf die spot met sonde, hulle dryf die spot met die dood, ja, hulle dryf die spot met alles, selfs met God, en God laat Hom nie bespot nie. Hierdie geslag lag al die pad hel toe, en dryf selfs die spot met hulle ernstige geestelike verval.

7Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. – Galásiërs 6:7

Hierdie geslag is baie vinnig om video’s aan te stuur, ongeag hoe afbrekend, Gods lasterend of vulgêr dit ook al mag wees – en dan lag die leier net so lekker saam. Baie kerkdienste ontaard in ‘n lagsessie – want Jesus het ons mos geroep net soos ons is, so ons kan maar doen wat ons wil. Ons moet mos nie altyd net die erns van God se Woord verkondig nie, want netnou dink mense ons is darem heeltemal te heilig – God het volgens hulle mos ‘n sin vir humor.

22Gedra julle nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here HERE van die leërskare gehoor ‘n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde. – Jesaja 28:22

Ons kan mos nou die Almagtige Heilige Vader sommer “pappa” of “daddy” noem, want Hy is mos nie meer buite bereik vir ons nie. Julle dink mos dit is reg as julle God toespreek as “jy” en “jou” asof Hy julle maatjie is. Julle dink seker julle is baie “cool” wanneer julle so praat, maar dit is blatante Godslastering.

Hierdie tipe mense is besig om God en Sy Woord in ‘n groot grap te verander – en God laat nie met Hom spot nie. Jesus het nie eers vir God “pappa” of “daddy” genoem nie, maar hy het Hom Vader genoem. Wat gee jou as sterflike mens enigsins die reg om God se Naam so te verlaag? En nee, dit is beslis nie ‘n teken dat jy in ‘n verhouding staan met die Vader nie.

As jy werklik in ‘n verhouding staan met God sal jy ewige respek hê vir Hom en sal jy God waaragtig nie “daddy” of “pappa” noem nie.

Jou geloof leer jou om te verstaan deur wat jy werklik ervaar oor wie God is, waar die Koninkryk van God is, waar die Koninkryk van Christus is, en waar jy jouself bevind. Wanneer mense God begin “pappa” en “daddy” noem, toon dit die standaard van hulle kennis – selfs gesalfdes en die wie onder geloof genesing spreek, kan onkundig bly aangaande die Grootheid van Jesus wie God is, want geen mens aan wie Christus Jesus werklik fisies verskyn het, en met Hom gepraat het, of wie werklik 'n ontmoeting met Jesus Christus gehad het, sal God “pappa” en “daddy” noem nie.

“Jy” en “jou” is nie tweede persoon voornaamwoorde wat jy die Vader gebruik nie. In Engels is daar nie ‘n verskil in die gebruik van “you” nie, hetsy vir ‘n persoon of vir God. In Afrikaans is dit anders. As jy die taal wil praat, doen dit behoorlik. Ek vervies my oor die vlak mentaliteit van sommige Afrikaanssprekendes, wie na enige iemand, soos ek, wat die taal behoorlik gebruik, snedig verwys as die “taalpolisie”. Jy kan maar spot. Die E-simbool op jou Matrieksertifikaat getuig egter die waarheid. Ek sê dikwels baie mense moet liewer stilbly sodat ander wonder oor hulle vlak van intelligensie, as om hulle monde oop te maak en almal die waarheid hoor.

Die ontmoeting met Jesus gee jou ‘n volwasse perspektief oor God se karakter, lofprysing en aanbidding. Jy moet jou taalgebruik daarvolgens aanpas. Jy is mos ‘n nuwe mens, en die ou dinge het verby gegaan, of hoe? Dalk moet jy weer 2 Korinthiërs 5:17 lees.

Solank as wat mense hierdie leiers en geleentheidsprekers se Godslasterlike gedrag as komies beskou, sal hulle nooit tot die besef kom hoe groot en heilig God die Vader werklik is nie. Solank as wat almal lag vir hierdie spul narre sal hulle nooit die dinge wat belangrik is vir die ewigheid ernstig opvat nie. Hierdie mense mors jou tyd – kom weg van hulle af voordat dit te laat is. Kom weg voordat hulle jou al laggend saam met hulle hel toe sleep.

Die prediker of geleentheidspreker is die voorbeeld wat mense gaan navolg – as jy meer soos Jesus is, gaan jou gemeente ‘n godvrugtige voorbeeld hê om na te volg, maar as jy soos die wêreld optree, gaan hulle dink dit is reg om dit ook te doen. Wees baie versigtig watse voorbeeld jy stel vir jou gemeente – God gaan jou as leraar dubbel verantwoordelik hou daarvoor:

36Maar Ek sê vir julle dat van elke ydele woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag. 37Want uit jou woorde sal jy geregverdig word, en uit jou woorde sal jy veroordeel word. – Mattheüs 12:36-37

Daar is ‘n rede waarom die Bybel nie ‘n boek vol ligsinnighede is nie. Daar is ‘n rede waarom die Bybel ons leer om te verander en om heiligheid en eer na te streef. Die ewigheid is geensins iets om oor te lag nie of mee die spot te dryf nie. Dit is ‘n saak van hemel of hel.

Bekeer! Bely! Glo! Vertrou!

Groetnis

Gerhardt en Andries


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy