Dokumentasie Geplaas op Maandag, 17 Oktober 2022

Na wie se stem luister jy? Leer om die stem vam God te onderskei tussen die ander wat wedywer om jou aandag

Leer om die stem van God te onderskei tussen die ander wat wedywer om jou aandag

Vroeër hierdie week het ek die eer gehad om iemand wat twee maande gelede by my huis verbygegaan het, weer te ontmoet. Die persoon was besig om Bybels en Bybelse boekies in ons omgewing te versprei. Toe ek hom die eerste maal ontmoet het, het hy my bygeval as ‘n ongelooflike gefokusde persoon, en ek het hom op my gebedslys bygevoeg hopende om hom weer te ontmoet. God het my gebed beantwoord. Tydens ons gesprek het beide van ons genoem dat ons beste pogings om uit te reik na ander met die evangelie, dikwels ontmoet word met ‘n koue skouer. Dit het my laat dink dat daar in die wêreld baie stemme is wat uitroep vir jou en my aandag. Tussen al hierdie stemme is die stil, sagte stem van God. Hoe dikwels mis ons dit?

Samuel was op ‘n jong ouderdom deur sy moeder opgedra aan die Here. Hoewel hy saam met priester Eli gedien het, moes Samuel nog leer om die stem van God te hoor. Dit is hoe God Homself aan Samuel openbaar het:

1En die seun Samuel het die HERE gedien voor Eli, en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie. 2In dié tyd dan terwyl Eli op sy plek lê en slaap — sy oë het al begin swak word, sodat hy nie kon sien nie — 3toe die lamp van God nog nie doodgegaan het nie, en Samuel lê en slaap in die tempel van die HERE waar die ark van God was, 4het die HERE na Samuel geroep; en hy het geantwoord: Hier is ek. 5Daarop loop hy na Eli en sê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie; gaan slaap maar weer. Hy het toe geloop en gaan lê. 6Verder het die HERE Samuel weer geroep, en Samuel het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Maar hy antwoord: Ek het nie geroep nie, my seun, gaan slaap maar weer. 7Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie. 8En die HERE het Samuel weer geroep vir die derde maal; en hy het opgestaan en na Eli gegaan en gesê: Hier is ek, want u het my geroep. Toe merk Eli dat die HERE die seun geroep het. 9Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, HERE, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê. 10Toe het die HERE gekom en gaan staan en geroep soos die vorige kere: Samuel, Samuel! En Samuel het geantwoord: Spreek, want u kneg hoor. – 1 Samuel 3:1-10

Samuel het nog nie die stem van God gehoor nie omdat dit nog nie aan hom geopenbaar is nie. Toe hy die stem hoor wat na hom roep, het hy aangeneem dat dit Eli was. Drie maal was hy verkeerd, en toe het Eli besef dat God vir Samuel roep. Sy opdrag aan Samuel het hom gelei om die stem van God te herken, en die volgende maal wat God hom roep het hy reg reageer.

Ons wêreld is ‘n raserige een – ons word daagliks met boodskappe bombardeer. Die media skreeu uit na ons toe, op soek na ons aandag; kompeterende reklame trek jou terselfdertyd na beide kante toe; almal is daarop uit om iets van jou af te kry, slegs vir hulle eie gewin. Tensy jy in ‘n afgeleë gebied bly, is die kanse goed dat daar nie veel geleenthede is om stil te sit, stil te wees nie, en te hoor wanneer die Here van die hemele met jou praat. Jesus en Sy dissipels was ook gekonfronteer met baie stemme, geluide, en die vereistes van die skares, en dit is wat Hy aan hulle gesê het om te doen:

31En Hy sê vir hulle: Kom julle self in die eensaamheid na ‘n verlate plek en rus ‘n bietjie. Want daar was baie wat kom en gaan, en hulle het selfs geen geskikte tyd gehad om te eet nie. 32En hulle het met die skuit vertrek na 'n verlate plek in die eensaamheid. – Markus 6:31-32

Dit was die tipiese aksie van Jesus. Hy sou gereeld die skares agterlaat, na ‘n eensame plek gaan, en bid. As Hy nodig gehad het om dit te doen, hoeveel te meer ons ook? Tydens Sy bediening is Hy gereeld gebombardeer deur mense wat Sy aandag nodig gehad het. Sommiges het genesing nodig gehad; andere, soos die godsdienstige Jode, het maniere gesoek om Hom uit die weg te ruim. Hy was besig terwyl Hy by die skares was, maar Hy het ook alleen tyd nodig gehad, en Hy het die dissipels sodanig geleer. Hierdie alleen tyd het hulle gehelp om fisies en emosioneel te rus, maar het ook gehelp om te fokus op God se stem. Ons vind ‘n pragtige voorbeeld van God se stem in die boek van Konings:

9En hy het daar in 'n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía? 10En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem. 11En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl 'n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind 'n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. 12En ná die aardbewing 'n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van 'n sagte koelte. – 1 Konings 19:9-12

Hierdie gedeelte leer ons baie aangaande die natuur van God. Hy is nie bekend gemaak in die wind, die aardbewing, of die vuur nie, maar eerder in ‘n stil, sagte stem. God die Vader gaan nooit na jou toe skreeu om jou aandag te kry nie. Liefs, Hy werk deur Sy Gees wie kalm en beheersd is (Spreuke 17:27 en Galasiërs 5:22-23). Om egter Sy stem te hoor moet ons leer om dit te onderskei. Hoewel Eli geweet het dit was die stem van God, het Samuel aanvanklik nie geweet dat dit God is wat hom roep nie. Hy moes eers leer hoe God met ons individueel praat. Hy gaan Homself nie gereeld hoorbaar maak bo al die geraas van skares en sosiale media wat stry vir ons aandag nie. Hy verlang dit van ons om eers van die afleidings te onttrek. Elia het juis dit gedoen. Lees 1 Konings 19 om die volle prentjie te kry.

Hoe gereeld kom jy weg van die skares en die geraas van die daaglikse lewe af, om eerder die stem van God te hoor? Net soos Eli vir Samuel geleer het om te onderskei tussen sy (Eli) stem en die van die Here, moet ons ook leer, of geleer word, hoe om die stem van God te hoor. Elia moes wegkom vanaf die skares sowel as die gevaarlike situasie waarin hy was, om God te hoor praat met hom, en om aanwysings te kry vir wat hy volgende moet doen. As jy tans in ‘n moeilike posisie is, is dit dalk nie nou die tyd om na die skares te hardloop vir hulle raad nie, maar om eerder eerstehands vanaf God te hoor.

Hoe weet ons wanneer dit God is wat met ons praat? Eerstens, Hy skree nie, maar stel ons gerus. Elia het Sy gerusstellende woorde nodig gehad. Dit openbaar die teer natuur van God (Johannes 14:26, die Heilige Gees is die Vertrooster). Hy is nie in die besigheid om mense te verdrink met Sy stem, soos die wêreld doen nie, maar Hy noodsaak ons eerder om stil te wees en na Hom te luister.

Slotsom

Ons het nodig om te leer hoe om God se stem te hoor in hierdie tyd. Reg rondom ons gaan die duiwel selfs die mees onskuldige situasies gebruik om ons aandag weg van God af te fokus, en om deurmekaar en verward te wees. As jy nodig het om te leer hoe om stil te wees, vat tyd af, neem jou Bybel, gaan alleen iewers heen, en begin net lees en bid. Los die telefoon agter, dit is juis die instrument wat ons aandag die meeste aftrek. Skakel dit af. Luister vir die stil, sagte stem. God sal baie gou jou bereidheid om na Hom te luister eer deur jou in ‘n baie intieme manier te antwoord.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy