Jesus se laataand besoeker, Nikodémus

Jesus se laataand besoeker
Die eerste vers in Johannes se derde hoofstuk stel ons voor aan ‘n Fariseër met die naam Nikodémus. Om Jesus se woorde en antwoord aan Nikodémus in konteks te plaas, moet ons uitvind wie Nikodémus was.
1En daar was ’n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ’n owerste van die Jode. – Johannes 3:1
Ons word eerstens vertel dat hy ‘n Fariseër was. Die Fariseërs was een van twee denkrigtings onder die Jode van die tyd. Dit was meesal ‘n sosiale beweging maar hulle het dikwels geredeneer oor wettiese, etiese en sosiale aspekte van die Wet. Hulle opposisie was die Sadduseërs en daar was baie konflik tussen die twee groepe. Een van die verskille was die opstanding van die dode (Handelinge 23:6-8). Vir die Jode was die letterlike interpretasie van die wet baie belangrik, maar dikwels is hierdie regulasies verbreek om indiwidue te pas. Dit het bloot afgehang hoe jy op daardie dag gevoel het. Ons sien in vers een dat Nikodémus ‘n owerste van die Jode was, en dus ‘n lid van die Sanhedrin, die uitvoerende raad. Hy het waarskynlik heelwat status in die gemeenskap geniet. Die Romeinse oorheersing van die tyd het dit nie makliker gemaak nie. Die Skrifgeleerdes moes nie net alleen hulle eie standpunte regverdig nie, maar moes ook uitvoering geen aan die regulasies van hulle onderdrukkers.
Van die Fariseërs van wie ons in die Nuwe Testament lees, was Paulus waarskynlik die belangrikste. Hier was iemand wie die wet geken het, maar dit was eers nodig dat die Lig van Jesus Christus hom moes verlig op die pad na Damaskus, voordat die wet wat hy so lank bestudeer het, enige sin gemaak het. Paulus vertel self van sy posisie as ‘n Fariseër:
6En omdat Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg. En toe hy dit sê, het daar twis ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs, en die menigte het verdeeld geraak. Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei. – Handelinge 23:6-8
Paulus het geweet hoe om die situasie te gebruik om sy boodskap uit te dra. Hy noem dat hy glo in die opstanding van die dode en dit het onmiddellik verdeeldheid gebring. Hy identifiseer homself baie duidelik as ‘n Fariseër.
Die tweede keer dat Nikodémus genoem word, is in Johannes 7:50-51:
50Nikodémus — hy wat in die nag na Hom gegaan het, wat een van hulle was — sê vir hulle: Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen? – Johannes 7:50-51
Die is duidelik dat Jesus se gesprek ‘n groot impak op Nikodémus gehad het en in hierdie gedeelte sien ons hoedat hy Jesus se saak verdedig. Hy gebruik sy kennis van die wet en pas die beginsel toe wat sy mede-Fariseërs ignoreer, naamlik dat jy nie aangekla kan word indien jy nie die geleentheid het om jouself te verdedig nie. Hy kon baie maklik stilgebly het en bloot saam met die res gestem het, maar daar was iets van Jesus se lering wat ‘n verandering by hom veroorsaak het.
Die laaste keer dat ons van Nikodémus lees, is na die kruisiging:
38En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ’n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem. En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met ’n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. – Johannes 19:38-39
Weereens is Nikodémus op die toneel terwyl die res van die Jode na hulle eie sake omsien. Hulle het immers hulle doel bereik deur Jesus te laat doodmaak. Vir Nikodémus egter is die bring van die speserye ‘n belangrike optrede en dui dit op ‘n groot mate van respek vir die Leermeester wie hy laat in die aand ontmoet het.
Wat ons oor Nikodémus leer na aanleiding van Johannes se evangelie, is dat hier ‘n man was wie, ten spyte van sy godsdienstige agtergrond, die behoefte gehad het om meer oor Jesus se sending uit te vind, nie deur die wet te bestudeer nie, maar deur eerstehands by Jesus self uit te vind. ‘n Pragtige voorbeeld van dieselfde situasie word in Job gevind:
5Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. – Job 42:5
Job noem dat hy meesal van God gehoor het uit die monde van andere, waar hy hulle idees oor God gehoor het, maar nou het hy God self gesien. Is dit nie ‘n mooi beskrywing nie? Vir Nikodémus was dit nie genoeg om van Jesus se wonderwerke te hoor nie. Dalk het hy self een van die wonderwerke gesien. Hy wou self by Jesus uitvind wat sy sending was. Eerstehandse ervaring is altyd beter as om bloot van iets te hoor.
Ons sal nooit weet of Nikodémus wel Jesus se opdrag om weer gebore te word, nagekom het nie. Ons lees hoedat hy twee keer aandui dat hy die konsep van wedergeboorte nie verstaan nie:
4Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? – Johannes 3:4
Hy vra weer in vers nege:
9Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? – Johannes 3:9
Jesus noem dat ‘n mens uit water en Gees gebore moet word (vers vyf) en dan later berispe hy Nikodémus dat as hy ‘n leraar van die volk is, hoe verstaan hy dan nie die verduideliking nie?
Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? – Johannes 3:10
Johannes is die enigste skrywer wie van Nikodémus melding maak. Ons kan aanvaar dat Jesus se lering so ‘n effek op Nikodémus gehad het, dat hy later selfs sy mede-Fariseërs sou uitdaag (Johannes 7:50-51) en uiteindelik sy laaste respek aan Jesus betoon het (Johannes 19:38-39).