Ontvang God se vergifnis as deel van die saligheidsplan

God se plan vir jou lewe is uniek
6Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. – Johannes 14:6
- Jesus sê dat Hy die enigste Weg is waardeur die mens toegang kry tot die Vader en die hemel. Ander godsdienste het ander leerstellings, naamlik dat jy in die hemel kan kom met die hulp van 'n ander persoon, godheid of werke. Jesus het nooit alternatiewe wyses genoem, waardeur die mens tot die hemel kon kom nie. Die enigste weg tot die hemel is deur Hom: deur Jesus Christus.
- Jesus noem dat Hy die Waarheid is. God die Vader het Jesus na die aarde gestuur met die doel om die Waarheid aan alle mense te verkondig. Jesus het die mense geleer dat Hy die Weg is waardeur die mense die hemel kon bewoon.
- Laastens, noem Jesus dat Hy die Lewe is. Deur Sy dood en opstanding kan ons lewe hê, en slegs deur Hom. Geen ander godsdiens of stelsel verkondig dat die mens lewe kan ontvang nie. Ander godsdienstige stelsels, hou altyd een of ander voorvereiste voor: daar is altyd 'n 'as' en 'n 'miskien'. As jou werke goed genoeg geag word, dan sal jy miskien die hemel bereik. Die kans is egter groter dat jy nie die hemel as prys sal ontvang nie. Die Woord leer ons dat Jesus die mens se absolute waarborg van lewe is. Omdat Hy leef, leef ek.
Wanneer jy nie weet waarheen jou lewe op pad is nie, weet dat Jesus jou leiding en rigtingwyser is. Hy is die enigste manier en voorbeeld xvir jou lewe. Indien jy 'n doodsheid ervaar, omdat jou godsdienstige stelsel jou nie tevrede stel nie, is Jesus jou enigste uitkoms. Hy is jou enigste kans op lewe.
Die kern van die teksvers in Johannes 14:6 is opgesluit in die tweede gedeelte van die vers:
6niemand kom na die Vader behalwe deur my nie. – Johannes 14:6b
Lees hierdie teksvers aandagtig deur, en kom tot die besef van die betekenis en impak van hierdie teksgedeelte:
- niemand - nie 'n enkele persoon, verlede of hede nie;
- kom na die Vader - kan toegang hê tot die ewige lewe (hemel);
- behalwe deur my nie - as hulle Jesus nie as die enigste Redder en Saligmaker, aanvaar en erken nie.
Daar is geen uitsonderings nie. Enigeen wat na die Vader wil kom (en dus in die hemel wil kom), doen dit deur Jesus.
Daar is geen ander Godheid nie behalwe God die Vader, Sy Seun Jesus Christus en die Heilige Gees.
Daar is geen ander weg, geen persoon, geen doktrine, en geen stel werke wat ons na die Vader toe kan lei nie, behalwe Jesus. Jesus se kruisdood en opstanding is feite. Dit is slegs deur geloof in Jesus dat ons die gaping tussen die sondige mens en Heilige God kan oorbrug.
12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is. – Johannes 1:12-13
Hierdie vers bevat 'n wonderlike feit. Die reg om 'n kind van God te word, hang nie af van jou nasionaliteit nie, of 'n besluit wat deur iemand anders gemaak is, of die feit dat jy selfs gebore is uit gelowige ouers, of selfs die godsdiens waaraan jy vashou nie. Jy is weergebore omdat God so besluit het, gebaseer op die besluit wat jy gemaak het. Hy aanvaar mense vanuit alle vlakke van die lewe, van regoor die hele wêreld.
9Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; – Openbaring 7:9
Indien jy Johannes 1:12-13 sowel as Johannes 3:16 verstaan, dan is jy gereed om Jesus as Here en Saligmaker te aanvaar. Ons ontvang Hom deur geloof. Jy gaan jou lewe in Sy hande plaas. Om Hom te ontvang vereis nie rituele reiniging van enige soort , of enige verdere vernedering nie. Jy bid 'n eenvoudige, maar effektiewe, gebed en vra Hom om in jou lewe in te kom, en jou vir ewig te verander.
Kan dit so maklik wees? Ja! God se liefde is vir almal beskikbaar en Sy boodskap is eenvoudig genoeg om deur enigiemand verstaan te word. Sy liefde was nooit bedoel om beskikbaar te wees deur die onderhouding van reëls en regulasies nie. Dit moet in geloof aanvaar word, 'n vaste vertroue dat God sal doen wat Hy belowe het. Hierdie is egter die begin van jou geestelike wedloop en baie uitdagings wag op jou.
Die gebed van verlossing lyk eenvoudig. As dit egter uit 'n hart kom wat werklik die Lewe begeer, sal God jou nie teleurstel nie.