Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 7 Mei 2022

Jy hoef nie toe te laat dat vrees jou oowin nie

Jy hoef nie toe te laat dat vrees jou oowin nie

Die woordeboek definieer “vrees” as ‘n onaangename emosie of gedagte, wanneer jy bang of bekommerd is dat iets gevaarlik, pynlik, of sleg kan gebeur.

Ons word voortdurend omring deur dinge en situasies wat vrees kan veroorsaak. Ons kyk na die huidige situasie in die wêreld en sien hoe dinge “suid gaan”, om ‘n hedendaagse uitdrukking te gebruik, wat daarop dui dat dinge verkeerd gaan, en op die punt is om te misluk. In die lig van die COVID-19 pandemie, het mense oor die afgelope paar maande in vrees en onsekerheid geleef: die vrees om nie die virus te kry nie; die vrees om te sterf; die vrees om inkomste te verloor; die vrees om nie doelwitte te bereik wat ons vir onsself gestel het nie; en die vrees vir wat die toekoms inhou. As daar ooit ‘n tyd was wat die toekoms onseker gelyk het, is dit nou.

Die Bybel spreek die konsep van vrees dikwels aan. Die eerste gebruik van dié woord vind ons in Genesis 9:

1En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.
2Die vrees en die skrik vir julle sal wees oor al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel: alles wat op die aarde beweeg, en al die visse van die see. Hulle is in julle hand oorgegee. – Genesis 9:1-2

In hierdie konteks verwys vrees nie na ‘n negatiewe karakter eienskap van die mens nie, maar eerder na die stand van die diere teenoor die van die mens. Ten spyte van die sondeval het die mens steeds oor die skepping geheers.

Die tweede keer wat die woord vrees gebruik word, praat God met Abram:

1Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ’n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ’n skild en jou loon is baie groot. – Genesis 15:1

Hier vertel God vir Abram om nie bang te wees nie. Hier is ‘n voorbeeld van ‘n persoon wat bekommerd is oor die toekoms. God sê vir Abram om nie bekommerd te wees nie, aangesien Hy hom sal seën en ryklik sal beloon. Abram verwys na sy situasie en die feit dat hy geen erfgenaam het nie. God maak die belofte dat Abram ‘n groot nageslag sal hê, een wat Hy vergelyk met die sterre van die hemel. Die fokus val op dit wat nodig is om hierdie belofte waar te laat word: geloof in die Here.

6En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. – Genesis 15:6

Abram het in die Here en Sy belofte geglo, en dit het hom ‘n regverdige man in die oë van God gemaak.

Vervolgens, ‘n belangrike voorbeeld van die gebruik van die woord vrees, word in Spreuke gevind:

7Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. – Spreuke 1:7

In hierdie konteks beteken vrees nie om bang te wees nie, maar om eerbied aan die Here, as Skepper van alle dinge, te toon. Dit is ‘n positiewe en baie gewenste karakter eienskap, en ook die begin van kennis. Wee, die persoon wat nie die Here vrees nie! Dwase mense en hulle dwase optredes, is die rede waarom die sulkes vernietig sal word. Voorbeelde van die dwase se houding en optrede is oral in die wêreld te sien.

Johannes spreek die liefde aan

Voordat jy verder lees, neem jou Bybel en lees die Eerste Sendbrief van Johannes.

Daar is vyf hoofstukke en hulle is nie lank nie. Soos jy lees, let op na die gebruik van die woorde “liefde” en “vrees”, ook waar hierdie twee woorde in dieselfde sin of konteks gebruik word. Sodra jy die sendbrief gelees het, keer terug na die dokument en gaan voort met jou studie.

Het jy opgemerk dat byna die hele sendbrief fokus op die liefde wat God vir ons het? Laat ons kyk na die gebeure waar die woord “liefde” gebruik word:

5Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. – 1 Johannes 2:5

As ons Sy Woord bewaar, met ander woorde, Sy gebooie onderhou (vers drie), dan is Sy liefde volmaak in ons. Dit is belangrik dat God se liefde in ons is, en ‘n natuurlike eienskap word wat ons elke dag vertoon en uitdra.

Die volgende voorbeeld van “liefde”, spreek ons houding teenoor die dinge van hierdie wêreld aan:

15Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. – 1 Johannes 2:15

Hier word liefde gebruik as ‘n werkwoord, iets wat ons moet doen (of nie moet doen nie). Moenie die wêreld en die dinge wat in die wêreld is lief hê nie. Wat bedoel Johannes hiermee? Dit beteken nie dat ons nie diegene moet liefhê wat dierbaar vir ons is nie, óf dat ons nie God se skepping moet liefhê nie. Dit beteken eenvoudig dat ons fokus nie op die ongelowige wêreld moet wees nie. Ons moet fokus op Sy liefde, as ‘n ewige gawe, nie op die dinge wat hierdie wêreld vir ons kan gee nie – dinge wat geen ewigheidswaarde het nie. Johannes vergelyk hier die wêreldse dinge met Goddelike dinge. Vers 16 wys op voorbeelde van dinge wat van die wêreld is.

God se liefde berei ons voor vir ons toekoms

Die volgende gebruik van die woord “liefde”, bepaal die mens se toekoms:

1Kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.
2Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
3En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. – 1 Johannes 3:1-3

Eerstens, die feit dat ons “die seuns van God” genoem word, is baie kosbaar – dit verwys na die omvang van God se liefde vir ons. Die wêreld ken ons nie (verstaan ons nie), want die wêreld ken God nie. Hier is die antwoord op “die wêreld” – vers 15. Dit sluit ook die ongelowiges in, en ons maak dikwels die vergelyking tussen gelowiges en ongelowiges as “gelowiges en die wêreld”, waar “wêreld” almal verteenwoordig wat nie in Christus is nie, en dus steeds vasgeketting is aan die begeertes van die wêreld.

Johannes gaan voort om te sê dat nie net is ons seuns (en dogters) van God nie, maar dat wanneer Hy (Jesus) verskyn, sal ons verander word, om te wees soos Hy is, en ons sal Hom sien vir wie Hy werklik is - die herrese, ewige lewende Here van die here en Koning van die konings. Hoekom moet ons verander word? Bloot omdat vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërwe nie – soos beskryf word deur die apostel Paulus:

50Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.
51Kyk, ek deel julle ’n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word,
52in ’n oomblik, in ’n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.
53Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.
54En wanneer hierdie verganklike met onverganklikheid beklee is en hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.
55Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?
56Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet.
57Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. – 1 Korinthiërs 15:50-57

Dit kan nie duideliker wees as dit nie. God se liefde vir ons maak voorsiening vir ons om nie net op aarde te lewe en dan te sterf nie, maar dat ons verander sal word – eers diegene wat in Christus gesterf het, en dan diegene van ons wat nog lewe. Die liggame wat ons tans het, vlees en bloed, sal verander in onverganklike liggame, sodat ons vry is van die beperkinge van aards gebonde liggame. Die dood het geen houvas op ‘n onverganklike liggaam nie.

Ter wille van diegene van ons wat nuuskierig is om meer oor hierdie dinge te weet, dink vir ‘n oomblik aan hoe broos en beperk jou vergane liggaam is:

  • Ons kan nie regtig staan en dan hoog in die lug spring nie. Die wêreldrekord in hoogspring vir mans is slegs 2,45m – tans gehou deur ‘n Kubaan, Javier Sotomayor. Kyk na hierdie springers – hulle val baie vinniger terug na die aarde, na hulle oor die dwarslat geseil het, as wat hulle sprong in ‘n opwaartse rigting, was. Hierdie wêreld wil jou hier hou – nie waar God jou wil hê nie. Swaartekrag is enige voorwerp se grootste struikelblok. Vir nou is dit hoe God dit bedoel het om te wees. Ons weet dat in 1 Thessalonicense 4:17, ons Jesus sal tegemoet gaan in die lug tydens die wegraping. Met hierdie gebeure kom Hy nie na die aarde nie, maar ons sal Hom in die wolke, dus in die lug, ontmoet. Wolke vorm gewoonlik teen hoë hoogtes, en indien nie, dan beslis nie op ‘n hoogte van slegs 2.45m nie! Tydens dié gebeurtenis sal ons ‘n ander liggaam nodig hê wat nie deur swaartekrag aan bande gelê word nie. Die vlees en bloed liggaam sal nie werk nie.

  • Ons besluit om met vakansie te gaan en bespreek ‘n plek op ‘n vliegtuig. Op ‘n hoogte van 10 000 meter is die vliegtuig steeds binne die aarde se atmosfeer. Indien dit moontlik sou wees, en jy jou kop kon uitsteek by die vliegtuig se venster op daardie hoogte, sou jy dit nie oorleef nie: spoed en die gebrek aan suurstof sal gou ‘n einde aan jou avontuur maak.

Ons liggame gaan binne ‘n oogwink verander word. Binne die tyd wat dit neem om jou oog te knip – dit is vinnig. Die gemiddelde menslike oog knip in ongeveer 100 millisekondes. Probeer dit... in die tyd wat dit jou geneem het om jou oog te knip, sal jou liggaam verander van ‘n korrupte, aardgebonde liggaam na een wat die hoogspring wêreldrekord kan verbeter, baie vinniger as ‘n vliegtuig kan vlieg, en nie suurstof benodig nie.

Die verganklike liggaam sal onverganklik word, en die sterflike mens sal beklee word met onsterflikheid. Dié verandering is ‘n voorvereiste om met God te ontmoet in die hemel, ver buite die gebondenheid van die aarde se atmosfeer. Sy domein is heel anders as dit waaraan ons gewoond is.

Met dit in gedagte, laat ons terugkeer na 1 Johannes 3:1-3 en herbesin oor wat dit beteken “dat ons soos Hy sal wees”. Dit is die omvang van God se liefde vir ons, dat ons nie net die ewige lewe sal beërwe nie, maar Sy domein, die hemel, sal deel.

Terug na die tema van Liefde

Die volgende verwysing na liefde is:

10Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.
11Want dit is die boodskap wat julle van die begin af gehoor het, dat ons mekaar moet liefhê; – 1 Johannes 3:10-11

Hierdie verwysing is ‘n struikelblok vir baie mense. Ons lees van twee tipes mense: die kinders van God (diegene wat gered is, en Hom liefhet), en die kinders van die duiwel (die ongereddes, die “wêreld”). Die struikelblok is: hy wat sy broer nie liefhet nie, val in dieselfde kategorie as dié van die ongeredde mens. God plaas baie klem op die liefde wat ons vir mekaar moet hê. Elkeen van ons moet selfondersoek doen om te weet waar jy tekort skiet in dié verband. Waar het jy nagelaat om liefde teenoor jou medemens uit te leef?

14Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood.
15Elkeen wat sy broeder haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. – 1 Johannes 3:14-15

Die liefde wat God vir die mens het, is die liefde wat ons vir diegene rondom ons moet hê – dit vorm deel van ons verlossing. As ons nie liefde teenoor ons medemens kan betoon nie, kies ons om geestelike dood te wees, in plaas van om die ewige lewe te hê. Haat vir die broer is dieselfde as om ‘n moordenaar te wees, dus het hierdie persoon nie die ewige lewe nie.

16Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê.
Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? – 1 Johannes 3:16-17

As jy al ooit gewonder waar in die Bybel dit verklaar dat Jesus God is, dan is dit in hierdie teksvers. Ons sien die liefde van God (Jesus) omdat Hy (Jesus) Sy lewe vir ons neergelê het, deur die dood aan die kruis. Ons word gevra om ons lewens vir ons broers neer te lê. Dit is ‘n moeilike begrip om te verstaan, maar dit is baie duidelik. Daar word van ons verwag om ander lief te hê soos God ons liefhet. Vers 17 gebruik ‘n praktiese voorbeeld om vers 16, te verduidelik. As ons ander mense in nood sien, en dit is in ons vermoë om hulle te help, hoe kan ons, ons rug op hulle draai? Hoe kan God se liefde in ons sigbaar wees as ons dit nie prakties uit leef nie? As ons steeds wonder oor hoe ons ons broer moet liefhê, het Johannes ‘n antwoord gereed:

18My kinders, laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid. – 1 Johannes 3:18

Ons bewys nie liefde in dit wat mense ons hoor sê nie, maar in wat hulle ons sien doen. Johannes beklemtoon dit in die volgende hoofstuk:

7Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God.
8Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.
9Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
10Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes.
11Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. – 1 Johannes 4:7-11

Ons word beveel om mekaar lief te hê, want dit is die liefde wat in God is. As ons liefhet, beteken dit ons weet dat liefde van God kom, en ons God ken. God se liefde vir ons word bewys in Hom wat Sy Seun gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hy het dit nie gedoen omdat ons Hom liefgehad het nie, maar omdat Hy ons eerste liefgehad het.

12Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword.
13Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.
14En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.
15Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom, en hy in God.
16En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. – 1 Johannes 4:12-16

Die liefde wat God vir ons het, is die tipe liefde wat ons teenoor mekaar moet hê, want in liefde openbaar Hy Hom aan ons, deur die werking van die Heilige Gees. Geloof is om te bely dat Jesus die Seun van God is.

Johannes spreek vrees aan

In die eerste drie hoofstukke van 1 Johannes beeld Johannes die liefde wat God vir ons het, uit. Nou kom ons by die gedeelte waar “liefde en vrees” vir die eerste keer saam genoem word. Wat is die verhouding tussen liefde en vrees?

17Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld.
18Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
19Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. – 1 Johannes 4:17-19

In al die voorafgaande voorbeelde het ons gesien waarom liefde teenoor mekaar belangrik is, en hoe God ons toegerus het met Sy liefde. Daar is ‘n spesifieke rede voor. Ons leef in ‘n tyd waar vrees die wapen van regerings en instellings geword het, om mense mee te beheer en te manipuleer. Hierdie is nie ‘n politieke stelling nie, dit is ‘n feit.

Ons moet voorbereid wees op dit wat kom. Deel van die duiwel se plan is om mense te mislei, sodat hulle afvallig sal word van die Woord, en die leerstellings van duiwels sal aanvaar (1 Timotheus 4:1), liefhebbers van hulleself sal wees, en dus liefdeloos sal optree teenoor diegene wat nie doen soos hulle sê nie (2 Timotheus 3:1-5). Hierdie dinge gebeur reeds. Tans gee baie Christene hulle oorspronklike geloof prys en aanvaar die leuens. Hierdie is ‘n voorbeeld van die Laodicensiese kerk wat reeds in ‘n vorige artikel bespreek is.

Dat die COVID-19-virus ‘n werklikheid is, is waar, maar die hele situasie word misbruik en deur regerings regoor die wêreld gemanipuleer om vrees te skep – jy is bang om buite jou eie voordeur te gaan, indien jy nie ‘n masker dra nie. Jy word gedwing om ‘n “veilige” afstand van ander te handhaaf. As jy nader sou gaan, word jy gewaarsku om weg te beweeg. Winkelsentrums word gepatrolleer. Jou temperatuur word geneem voordat jy toegang tot enige winkel of winkel sentrum kan kry. Let op na die plek op jou liggaam waar jou temperatuur geneem word: jou hand en jou voorkop. Klink dit nie soos die waarskuwing waarvan vermeld word in Openbaring, oor die merk van die dier nie? Owerhede is besig met ‘n proses van indoktrinasie, manipulasie en beheer neem van jou individuele denke – gevolge wat verrykender is as wat regerings oor eerlik is. Indien COVID-19 die wapen is wat die duiwel sal gebruik om ‘n antichris regering wêreldwyd daar te stel, is die maklikste manier die skep van vrees, indoktrinasie, manipulasie en misleiding. Meeste mense het reeds vir hierdie valsheid geval.

Wat staan ons te doen?

Ons hoef nie die huidige situasie te vrees nie. Ons hoop is gebaseer op die Woord van God, en Johannes gee vir ons ‘n perfekte voorbeeld. As ons die liefde van God in ons het, soos dit tot op hierdie punt verduidelik is, en hierdie liefde is volmaak (voltooi, gesond gemaak) in ons, dan hoef ons nie te vrees nie. Net soos Jesus die magte van die duisternis oorwin het, so sal ons oorwinnaars wees. Met die liefde van God in ons lewens, hoef ons nie te vrees nie: liefde en vrees gaan nie hand aan hand nie. Daar is geen vrees in liefde nie. Die volmaakte liefde wat God vir ons het, dryf alle vrees uit. Die rede? Vrees impliseer straf, terwyl liefde beloning gee. Die Woord is baie duidelik hieroor: enigiemand wat in hierdie tyd vrees ervaar, is nog nie volmaak in liefde nie. Laat ons sien wat Jesus sê oor “om volmaak te wees”:

48Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.Matthéüs 5:48

Die gedeelte wat Matthéüs 5:48 voorafgaan (verse 37-48), spreek die liefde aan wat ons teenoor ander moet bewys. Net soos ons Vader in die hemel volmaak is in die liefde wat Hy aan ons bewys, so moet ons liefde teenoor ons medemens volmaak wees.

Johannes verduidelik hoe ons liefde moet wees:

20As iemand sê: Ek het God lief — en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?
21En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. – 1 Johannes 4:20-21

Die liefde van God lê daarin dat ander, baie wat steeds ongered mag wees, Sy liefde deur ons kan ervaar. Om jou broer lief te hê is nie ‘n versoek nie, dit is ‘n gebod.

Johannes gaan voort in hoofstuk vyf:

1Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore; en elkeen wat die Vader liefhet, het ook die een lief wat uit Hom gebore is.
2Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar.
3Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.
4Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.
5Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? – 1 Johannes 5:1-5

Die kern van die boodskap is hierin opgesluit: om in vandag se tyd die probleme van die wêreld te oorwin, het jy die liefde van God nodig. Daarsonder staan jy geen kans nie.

Wanneer ons verder lees in die sendbrief, sien ons dat Johannes nie weer verwys na die woord “liefde” nie. Johannes het die tema van die liefde ten volle verduidelik en afgesluit: dus hoe God wil hê ons moet liefhê. Redes om “lief te hê” is dat die liefde vrees wegdryf, en dat dit ‘n getuienis is vir ons naaste.

Opsomming

Die jaar 2020 was sover ‘n baie moeilike jaar, en dinge gaan nie makliker word nie. Daar is magte werksaam wat dit ten doel het om die bestaande bestel te vernietig. Hierdie gebeure vorm deel van God se plan vir die mens, en daarom laat Hy hierdie dinge toe. Die tyd is gereed dat die kerk periode tot ‘n einde kom: dus, dat die Kerk na Hom gaan. So sal die ongeredde mense en die wetteloosheid, geopenbaar word. As dié mense van wetteloosheid nie geopenbaar word nie, kan die profesie van Daniël (Daniël 9), wat ook deur Jesus Christus bevestig is (Matthéüs 24), nie in vervulling gaan nie. Hierdie dinge moet gebeur sodat God se plan vir die mens, volmaak kan word.

Wat staan jou en my nou te doen? Eerstens, jy moet seker maak dat jy gered is deur die bloed van Jesus Christus, sodat jy die ewige lewe kan verkry. Tweedens, jy moet seker maak dat jy God se Woord tot die letter navolg – jy moet jou medemens lief hê, selfs al het hulle jou nie lief nie (Matthéüs 5:37-48). Derdens, wees op die uitkyk vir die tekens van Sy koms, want daarin is ons hoop (Titus 2:13). Ja, die tekens is reeds hier, en dit is tekens wat ons nie moet vrees nie. Dié tekens is God se liefde aan ons gedemonstreer, dat Hy ons nie sal verlaat nie, maar ons voorberei om ons uit hierdie bedeling te neem, sodat ons vir ewig by Hom kan wees. As jy Hom liefhet, dan sal die tekens vir jou geen vrees inhou nie. Sy volmaakte liefde in ons verdryf die vrees, en die leemte wat die vrees laat, word met nog meer liefde gevul.

Verdere leesstof

Indien jy verdere bewyse van God se liefde vir jou benodig, bestudeer die volgende voorbeelde vanuit die Woord:

Joshua

9Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan. – Joshua 1:9

Psalms

5Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. – Psalm 34:5
3My vyande vertrap my die hele dag, want baie veg teen my in hoogmoed.
4Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou.
5Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen? – Psalm 56:3-5

Jesaja

10Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. – Jesaja 41:10

Johannes

27Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.Johannes 14:27

Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy