'n Passie om na ander uit te reik te midde van 'n globale krisis

Dokumentasie Geplaas op Saterdag, 7 Mei 2022

'n Passie om na ander uit te reik te midde van 'n globale krisis

Die konflik in Sirië en elders

Dit is maklik om ons oë weg te draai van die grusame tonele wat ons in die media sien. Dit is ook maklik om diegene wat uit hul eie land vlug op soek na 'n beter lewe, te kritiseer. Hoe kan jy nie geraak wees deur die lyding wat ons daagliks sien nie? As jy 'n hart het vir God, en jy het Jesus in jou lewe, kan jy mos nie net weg kyk en onbetrokke staan nie.

Op 'n oggend in November 2011, daag een van ons kollegas nie op vir werk nie. Ek het dikwels ontbyt saam met hom geëet, en hy het my altyd getref as 'n baie netjiese, sag gesproke en nederige man. Ons het later uitgevind dat hy 'n oproep van sy vrou in Sirië ontvang het, en nuus ontvang het van die oorlog daar, en dat sy en hul kind moes vlug vir hulle veiligheid. Hy moes sy gasheerland in die middel van die nag verlaat om na Sirië terug te keer. Ek het nie weer van hom gehoor nie. Ek het op televisie gesien van die bomaanvalle op stede soos Homs, Aleppo en talle ander plekke, asook verskriklike tonele van kinders wat rondgehardloop het, bang, beseer en bloeiend. Dit het aan my hart geruk, want hoe sou ek gevoel het as daardie my kinders was?

In die jare daarna was beriggewing van 'n instroming van ontwortelde en getraumatiseerde Siriërs en Irakis, wat die grens na Turkye oorgesteek het, op pad na Europa en die Weste, soekend na 'n toekoms en plek om te vestig. Ons was vinnig om hulle te kritiseer, maar wat anders kon hulle doen? Vandag is daar massiewe vlugtelingkampe in naburige lande soos Jordanië en Libanon, vir diegene wat nie na Europa kon gaan nie. Die ergste is egter die lyding van die onskuldige kinders, wat nie op enige manier verantwoordelik was vir die oorlog in Sirië nie. Die winters daar is ondraaglik koud, hoeveel te meer wanneer jy in 'n tent bly. In my gasheerland is 'n aksie geloods om fondse in te samel vir die aankoop van komberse. Hierdie fondsinsameling is in die plaaslike media gepubliseer. Ek het gegee. Ek hoop dat die klein bietjie wat ek gegee het, kon bydrae dat een kind warm kon slaap.

Ek sien die foto's van hierdie ontwortelde mense en ek kyk na die kinders, wat probeer om op 'n dapper gesig en glimlag voor te hou, maar wat die trauma van ongelooflike terreur, vrees en swaarkry wegsteek. Watter toekoms kan hierdie kinders hê? 'n Bekende klarinet speler van Sirië, Kinan Azmeh (amptelike webwerf), het 'n reis na een van hierdie vlugtelingkampe onderneem. Hier het hy aan die kinders fluite uitgedeel en hulle die basiese vaardighede in musiek geleer. Die vreugde op daardie kinders se gesigte sal ek nooit vergeet nie. Vir 'n oomblik kon hulle net kinders wees en vergeet van oorlog, die geluid van vuurpyle wat uit die lug val, en daarop volgende ontploffings.

Watter kans in die lewe het meeste van hierdie mense, jonk en oud? Hulle word verdruk deur hulle eie regering en verwerp deur baie ander. Hoe jammer is dit dat lande aangrensend aan Sirië (Jordanië en Libanon), asook sommige Europese lande, alleen moes sorg vir hierdie mense. Wanneer hulle in ons land kom, gaan ons hulle ook verstoot omdat hulle vlugtelinge is? Hulle het die liefde van Jesus nodig, net soveel as enig iemand anders. Miskien selfs meer, gegewe die trauma wat hulle reeds verduur het.

Wat kan ons doen om te help?

Mag die Here ons Vader, deur die liefde van Jesus Christus, Sy Seun, en die leiding van die Heilige Gees, jou hart oopmaak vir hierdie probleem, en ook jou hand, om deur amptelike kanale, finansieel by te dra, in 'n poging om 'n einde te bring aan die lyding in Sirië.


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy