Romeine: Agtergrond

Voordat ons Romeine begin bestudeer
Agtergrond
Jy was 'n voorbeeldige student van die Bybel en het die volgorde van die boeke in die Bybel, veral die Nuwe Testament, mooi geleer. Dit het jou gehelp om vinnig by 'n brief uit te kom sonder om eers na die inhoudsopgawe te gaan en die bladsynommer te soek. Nou kom ek en keer jou hele wêreld om deur te sê dat ek, jy, en meeste van ons al die tyd die volgorde verkeerd gehad het. Hoe nou?
Die skakels
'n Baie maklike manier om die konteks van die Nuwe Testament te verstaan is deur vier skakels te gebruik.
Ons het die vier evangelies – Matthéüs, Markus, Lukas, en Johannes. Hierdie is ons eerste skakel in die ketting. Dit verteenwoordig die oorbeweeg van die Ou Testament na die Nuwe Testament. Die ander dag het iemand in een van die selgroepe baie verbaas gereageer toe ek noem dat groot gedeeltes van die evangelies eintlik nog deel is van die Ou Testament. Dit is regtig so. Baie van die inhoud van die evangelies handel oor die koms van Jesus Christus na die aarde om ’n nuwe bedeling te vestig. Hy gebruik die Ou Testament om aan te dui hoe ’n nuwe testament beter is. Hierdie nuwe testament is eers geldig na sy dood en opstanding.
Hierna het ons Handelinge, die tweede skakel. Handelinge koppel die vier evangelies aan die Kerk, verteenwoordig deur die geskiedenis van Handelinge en die briewe wat op Handelinge volg. Dit wat die 12 (Matthias was oorspronklik deel van die groter groep) dissipels in die evangelies ervaar het, is geskakel deur die belofte – die uitstorting van die Heilige Gees, wat die Kerk se fondament is. Jesus het aan die dissipels die opdrag gegee om in Jerusalem te wag op die belofte van die Vader (Handelinge 1:4). Hy het dit gesê voordat Hy na die hemel opgevaar het. Lukas vertel dus van iets wat nie na Handelinge 1:1 plaasgevind het nie, maar voor dit. Handelinge se verhaal begin eintlik eers in Handelinge 1:12.
Die derde skakel is die werk van Paulus as evangelis, saamgevat in Handelinge en deur Lukas uiteengesit, en uitgebrei in sy dertien briewe. Dit dui aan hoe die Kerk in areas gestig is en gegroei het waar niemand voorheen daaraan blootgestel was nie. Ons gaan nou hierheen terugkom.
Die vierde skakel is die algemene sendbriewe van ander persone – Petrus, Jakobus, Judas, Apollos (indien dit wel Apollos was wat Hebreërs geskryf het), en Johannes. Uit die aard van die saak word Johannes se evangelie hier uitgesluit omdat dit deel van die eerste skakel is, maar sluit die drie sendbriewe sowel as die optekening van Openbaring in.
Kom ons keer terug na die derde skakel, Paulus se sendbriewe. Jy ken hulle in hierdie volgorde:
- Romeine
- 1 Korinthiërs
- 2 Korinthiërs
- Galasiërs
- Efesiërs
- Filippense
- Kolossense
- 1 Thessalonicense
- 2 Thessalonicense
- 1 Timótheüs
- 2 Timótheüs
- Titus
- Filémon
Die lys bestaan uit dertien briewe aan verskillende gemeentes en indiwidue – sewe gemeentes en drie indiwidue. Maar wat as ek vir jou sê dat hierdie volgorde eintlik verkeerd is en heeltemal anders moet wees? As jy Paulus se briewe in die regte volgorde bestudeer, gaan ’n nuwe wêreld vir jou oop en jy sal nooit weer na sy skrywes op dieselfde manier kyk nie.
Wat is die probleem met die huidige volgorde?
Ons Bybels rangskik die briewe in die volgorde van die skrywers (Paulus, Apollos [indien ons aanvaar dat Apollos Hebreërs geskryf het], Jakobus, Petrus, Johannes, en Judas) en die lengte; nie die tyd (chronologie) waarin hulle geskryf is nie.
Die korrekte volgorde
As ons egter dit in die volgorde lees waarin dit geskryf is (daar is klein verskille, afhangende wie geraadpleeg word en hoe gebeure in Handelinge geïnterpreteer word), kry ons ’n baie beter beeld van Paulus se argument vir die evangelie wat hy so kragdadig verkondig en beskerm. In die regte volgorde gelees, sien ons die ontwikkeling van Paulus se bediening. Hier is hulle (aan die gemeente of indiwidu; aanvaarbare tyd periode; waar hulle geskryf is; en geskiedkundige verwysings in Handelinge):
| Brief | Jaar | Plek en verwysing in Handelinge | Verwysing in Handelinge |
|---|---|---|---|
| Galasiërs | 48–49 | Antiochië in Sirië (14:26) | Handelinge 15:1-35 |
| 1 Thessalonicense | 50–52 | Korinthe (18:1, 11) | Handelinge 15:36-18:22 |
| 2 Thessalonicense | 50–52 | Korinthe (18:1, 11) | Handelinge 15:36-18:22 |
| 1 Korinthiërs | 55 | Éfese (19:1, 8) | Handelinge 19 |
| 2 Korinthiërs | 56 | Macedonië (20:1) | Handelinge 20 |
| Romeine | 57 | Korinthe (20:2) | Handelinge 19–20 |
| Efesiërs | 60–62 | Rome (in huisarres) | Handelinge 21:17-28:31 |
| Filippense | 60–62 | Rome (in huisarres) | Handelinge 21:17-28:31 |
| Kolossense | 60–62 | Rome (in huisarres) | Handelinge 21:17-28:31 |
| Filémon | 60–62 | Rome (in huisarres) | Handelinge 21:17-28:31 |
| 1 Timótheüs | 62–64 | Macedonië | Geen verwysing nie* |
| Titus | 62–64 | Macedonië, dalk Éfese | Geen verwysing nie* |
| 2 Timótheüs | 65–68 | Rome (finale gevangenis) | Geen verwysing nie* |
Wat ons hier het is ’n histories akkurate volgorde, in soverre Skriftuurlike en historiese rekords dit moontlik maak om die presiese datums te bepaal. Dit beeld uit hoedat Paulus as ’n gelowige gegroei het. In die brief aan die gemeente in Galasië berispe hy die lesers dat hulle so vinnig afgedwaal het van die evangelie wat hy verkondig het. Terwyl hy in Korinthe is skryf hy aan die gemeente in Rome, wie hy nog nooit ontmoet het nie.
Vier van die briewe is geskryf terwyl hy die eerste keer in huisarres was. Daarna is hy vir ’n ruk vry en skryf die eerste brief aan Timótheüs en ook een aan Titus. Daarna is hy finaal in die gevangenis en skryf sy laaste brief aan Timótheüs. Dit is veral hierdie tweede brief wat ’n roerende verhaal is van iemand wie sy lewe vir die evangelie opgeoffer het en op sy beloning wag (2 Tim 4:7-8) nadat hy deur sommige medewerkers in die steek gelaat is (Demas) en ander hulle met hulle eie bediening moes voortgaan (Crescens, Titus, Tíchikus, Carpus, Prisca, Áquila, Onesíforus, Erastus, Trófimus, Eubúlus, Pudens, Linus, en Claudia).
Noudat jy ’n beter begrip van die tydlyn het, sal Handelinge se gebeure ook meer sin maak. Om Paulus se skrywe aan die gemeente in Rome te verstaan moet ons dus kyk na die omstandighede soos Lukas dit in Handelinge 19 en 20 verduidelik. Hierdie speel af tydens Paulus se derde sendingreis. Lees beide hoofstukke om die geskiedenis te verstaan. Twee teksverse staan uit:
- Handelinge 19:21 – Paulus dui aan dat hy Rome wil besoek, waarskynlik oppad na Spanje (Romeine 15:24, 28).
- Handelinge 20:3 – Paulus bly vir drie maande in Korinthe by Gajus (Romeine 16:23) en in hierdie tyd skryf hy die brief aan die Romeine.
Hoe weet ons dat dit wel in hierdie tyd was dat hy Romeine vanuit Korinthe geskryf het? Daar is verskeie aanduidings:
- Romeine 15:26 – Macedonië en Acháje het finansieel bygedra vir die armes in Jerusalem. In Handelinge 20:2-3 lees ons van sy terugreis. Macedonië was deel van Griekeland, en Korinthe is in Griekeland.
- Romeine 16:1-2 – Paulus gee erkenning aan Fébé, wie ’n diakones in die gemeente in Kenchréë was. Kenchréë was die oostelike hawe van Korinthe.
- Romeine 16:22-23 – Paulus vermeld Gajus. Hy was ’n prominente inwoner van Korinthe en Paulus het by hom tuisgegaan tydens sy verblyf in Korinthe.
- Romeine 16:23 – Erastus, die penningmeester van “die stad”. Argeologiese opgrawings in Korinthe dui die naam van ’n persoon met die naam Erastus aan.
Noudat ons die konteks verstaan waarbinne Romeine geskryf is, soos wat Lukas dit in Handelinge beskryf, is dit baie duidelik dat die brief aan die gemeente in Rome nie die eerste brief was wat Paulus geskryf het nie, al word dit eerste in ons Bybels geplaas. Paulus het dus alreeds gegroei in sy bediening onder die heidene. Terwyl briewe soos die aan die gemeente in Thessaloníka en Galasië baie driftig was en krisisse aangespreek het wat onmiddellik opgelos moes word, is die struktuur van Romeine baie meer dogmaties/teologies en sistematies noukeurig uiteengesit. Dit is hierdie skrywe wat ons in dieper besonderhede gaan bestudeer.