Tydgapings in Bybelse chronologie

Om net een deel van die Woord te lees, gee nie altyd die volledige feite nie
Die boek Handelinge, of as ons die 1953 vertaling se titel wil gebruik, Die Handelinge van die Heilige Apostels deur Lukas Beskrywe, is die skrywer se weergawe van die eerste eeuse kerk, en fokus veral op die werk van die apostels, en ook die apostel Paulus.
Alhoewel Lukas dikwels saam met Paulus en die ander apostels gereis het, is nie alles wat Paulus gedoen het, opgeteken nie. Dit kan tot verwarring lei, en die indruk skep dat daar foute is. As ons egter die hele Woord (2 Timotheüs 3:16) in konteks lees, vind ons dat daar geen foute is nie. Hier is ‘n goeie voorbeeld.
Ons lees in Handelinge 9 oor Paulus se bekering. Nadat hy drie dae in Judas se huis was (Handelinge 9:11), het Ananías vir hom gebid. Ons lees in vers 19 dat hy daarna ‘n paar dae saam met die dissipels in Damaskus was, en toe begin het om die evangelie te verkondig. Toe het die Jode besluit om hom dood te maak (vers 23). Paulus het daarvan te hore gekom, en die dissipels het hom toe in die nag in ‘n mandjie teen die muur laat afsak (vers 25).
Dit is hier waar die probleem ontstaan. In die volgende vers (vers 26) beskryf Lukas hoe Paulus in Jerusalem aangekom het, en probeer het om by die dissipels in die stad aan te sluit. Hulle was egter bang vir hom, en Bárnabas het hom bygestaan. Ons lei dus af, heel logies, dat Paulus uit Damaskus weg is en direk daarna in Jerusalem aangekom het. Dit is egter nie waar nie. Hoe so?
Ons lees, soos deur Paulus self beskryf, dat hy tot bekering gekom het (Galasiërs 1:15) en die taak ontvang het om die evangelie aan die heidene te verkondig. Hy skryf egter dat hy dadelik nie vlees en bloed (dus mense) geraadpleeg het nie, en ook dadelik nie na Jerusalem gegaan het nie, maar na Arabië, waar hy drie jaar gebly het voordat hy weer teruggekeer het na Damaskus, en eers drie jaar daarna in Jerusalem aangekom het. Let op hoe hy die idee dat hy onmiddellik (dadelik) na Jerusalem gegaan het baie emfaties as verkeerd beskryf, deur die negatief niete gebruik.
Daar is dus ‘n groot verskil in terme van wat Lukas oor Paulus skryf, en wat die apostel self opteken. Hierdie is nie ‘n fout nie. Ons moet verstaan dat alhoewel Lukas baie van die gebeure opgeteken het, was hy nie oral teenwoordig nie. Hy skryf dat Paulus in ‘n mandjie teen die muur afgesak het. Van hier af vir ‘n periode van drie jaar (dalk langer), weet Lukas niks van Paulus nie, en die apostel vul self vir ons die besonderhede in, soos in Galasiërs 1 beskryf word.
Paulus het na Handelinge 9:25 alleen na Arabië toe gegaan, en daar by die Here geleer (hy het nie vlees en bloed geraadpleeg nie), voordat hy teruggekeer het na Damaskus en later na Jerusalem gegaan het. Lukas tel die verhaal op vanaf vers 26. Waarom het Lukas nie die gebeure in Arabië beskryf nie? Omdat dit ‘n periode was waar die Here self vir Paulus onderrig het. Lukas se beskrywing is dus nie verkeerd nie (Handelinge 9:25 en 26). Hy tel bloot die storie op in vers 26. Paulus beskryf wat gedurende die ander drie jaar gebeur het.
Baie lesers kan hierdie verduideliking afmaak as onbelangrik, en so ‘n groot waarheid in die Woord mis. Kom ons leer om die Woord in konteks te bestudeer. Dit kom slegs deur volgehoue studie van die Bybel. Woordkeuses is daar vir ‘n rede, en ons moet leer om meer noukeurig na hulle te kyk.