Dokumentasie Geplaas op Vrydag, 15 Maart 2024

Vals Leraars

Ek vra dat jy die volgende artikel goed sal bestudeer. Net soos die geval is met [ vals apostels ] en [ vals profete ], het almal van ons die verantwoordelikheid om vals lering uit te wys.

Lees Matthéüs 23. Die tema hiervan is Jesus se aanval op die Joodse skrifgeleerdes. Kyk mooi na verse 38 en 39.

Lees nou Matthéüs 24. Net voor sy kruisiging vertrek Jesus van die tempel af, om nooit weer daarheen terug te keer nie, totdat Hy eendag weer sal regeer as Koning vir die Jode. Sy dissipels wys Hom die tempel en die geboue, en Hy noem dat niks daarvan staande sal bly nie. Inderdaad, in 70 nC het die Romeine die tempel verwoes. Hulle vra Hom toe later wanneer hierdie dinge sal gebeur, en wat die teken van Sy koms en die voleinding van die wêreld is. Kyk na sy antwoord:

4En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.Matthéüs 24:4

Waarom sal jy iemand mislei? Jy mislei iemand weg van die waarheid af. Misleiding het nog nooit ‘n positiewe uitwerking op die teiken daarvan gehad nie. Die teken van Sy koms is die misleiding wat plaasvind. Jesus noem dan ‘n paar aspekte wat die misleiding kwalifiseer:

  1. Baie mense sal kom “onder my Naam” en sê dat hulle die Christus is (“I am God” – sien verder in die dokument.), en mense mislei (vers 24). Dit is die norm om namens iemand anders te praat. Vals leraars gooi maklik die Naam van die Here rond om geloofwaardig te klink;
  2. Die gerugte van oorloë. Hierdie is nie die misleiding nie, maar is bloot ‘n voorganger van die misleiding (vers 6-7);
  3. Verdrukking en vervolging volg op die oorloë en gerugte daarvan, maar dit is ook nie die misleiding nie (vers 9);
  4. Baie sal egter tot struikel gebring word, mekaar verraai (misleiding), en mekaar haat (vers 10); en
  5. Baie [ vals profete ] sal opstaan en baie mense mislei (Verwys na ons vorige gesprekke oor [ vals profete ] en [ vals apostels ]) (vers 11). Let daarop dat nêrens in the Nuwe Testament van ware profete en apostels gepraat word nie, omdat hierdie twee bedieninge nie meer bestaan nie.

Die misleiding kom in die vorm van vals leraars, mense wie die Woord buig om hulle verwronge teologie en sakke te pas, en wie duisende ander mislei. Ek gaan nie poog om oor alles wat hulle doen te skryf nie, maar ek verwys jou na die volgende video, met kommentaar deur een van die mees gerespekteerde studente van die Woord, Justin Peters. Sien eers sy webwerf op [ www.justinpeters.org ] vir agtergrond oor sy besondere bediening. Kyk veral na die inleidende video, wat baie duidelik aandui dat die Woord van God voldoende is vir ons totale bestaan. Ons het niks meer of anders as dit nodig nie. Dit beloof ook nie ongekende geldelike rykdom nie, net geestelike rykdom en groei.

Besoek [ https://www.so4j.com/false-teachers/ ]. Kyk na die eerste video, [ Clouds without Water ]. Sien Judas vers 12 vir die verwysing na wolke sonder water. Dink aan die doel van ‘n wolk. ‘n Wolk hou water, en wolke in die hemel is vir baie mense die vooruitsig van reën. Soms egter, bring dit geen reën voort nie. Dit is hoe vals leraars is. Hulle voeg geen waarde tot jou lewe toe nie, net teleurstelling.

Ek vra dat jy objektief hierna sal kyk, en jy sal sien dat baie van die sogenaamde leraars wie se name so maklik van die verhoog af vir gemeentes deurgegee word, en wie ons dikwels op YouTube sien of na kyk, niks anders is nie as vals leraars. Uit die aard van die saak is jy vry om na hierdie mense se lering te luister, maar tot jou eie nadeel wanneer jy self mislei word.

My bedoeling is nie om enige iemand te na te kom nie. Ek het egter ‘n verantwoordelikheid om die Woord reguit aan te bied, en om vals leringe te bestry, en mense daarteen te waarsku. Die rede hoekom baie mense hierdie verkeerde leringe volg, is omdat hulle nie die Woord ken nie. "Vals leraars is slim genoeg om nie ‘n verkeerde teksvers aan te haal nie, maar om ‘n teksvers verkeerd aan te haal." Sien jy hoe fyn is die lyn tussen reg en verkeerd? Ek herhaal my aanhaling:

Hulle haal nie ‘n verkeerde teksvers aan nie, maar haal ‘n teksvers verkeerd aan.

Daar is sommige van hulle wie se uitlatings blatant is, direk téén dit wat die Woord leer:

  • “I am God” – die woorde van een van die nuwe generasie vals leraars wat op die verhoog rondhardloop, gil en skree, en verlore gaande massas aan sy voete het. Sien Jesaja 45:5.
  • ‘n Ander een reken God kom na hom toe om hom raad te vra. Sien Job 38:2.
  • Daar is die lagwekkende valse leraar wie sê dat ons die weer kan beheer. Sien Psalm 148:8.
  • ‘n Ander een sê dat 99.9% mense eintlik goeie mense is. Sien Romeine 3:10; en 3:23.
  • Baie van hulle leer dat dit God se wil is dat jy ryk sal wees (baie geld sal hê). Sien Lukas 14:33.

Indien hierdie uitsonderinge was, of dalk per ongeluk verkeerd aangehaal is, kan ons hulle dalk nog vergewe, maar hulle doen dit oor en oor. Hulle ken ook nie die Woord nie. Bly weg van hierdie mense en hulle lering. As jy my nie glo nie, kyk na 1 Timótheüs 6:3-5, en veral die laaste sin in vers 5. Dit is die waarskuwing aan ons as gelowiges. Ons moet ons onttrek aan sulke mense:

3As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense. – 1 Timótheüs 6:3-5

Die “gesonde woorde” is Jesus se oorspronklike woorde wat die genesing van die siel en gees is. Die “leer” is die gevolglike leer van die Nuwe Testament, veral Paulus se lering, aan ‘n groter wêreld. Kyk hoe word die “iemand” beskryf:

  • Hulle is verwaand (Eng: proud, haughty). Ons sien dit met meeste van hierdie valse leraars. Kyk maar hoe hulle optree. Die fokus is altyd op hulle.
  • Hulle verstaan niks nie. Hulle verstaan nie God se boodskap vir die mens nie.
  • Hulle het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd, en soek moeilikheid.
  • Hulle is van die waarheid beroof. Dit is ‘n interessante een hierdie. Hulle is alreeds deur ander vals leraars mislei, maar kom dit nie eers agter nie. Sien 2 Timótheüs 3:13. Hulle verlei (ander mense) en word verlei (deur die satan en ander vals leraars).
  • Godsaligheid is vir hulle winsgewend. Kyk maar na die rykdom van baie van hierdie valse leraars. Ek is daarvan oortuig dat dit nie vir bedienaars van die evangelie nodig is om met privaat vliegtuie rond te rits nie; die verkeerspolisie nodig is om hulle te begelei wanneer hulle vir hulle “preke” opdaag nie; of hulle van privaat lyfwagte gebruik moet maak om hulle te beskerm nie. Hulle spog met die rykdom wat hulle verwerf het deur ander mense uit te buit, en te mislei.

Paulus se boodskap is duidelik: Onttrek jou aan sulke mense. Jy het nie nodig om hulle verder te verryk deur die geld wat hulle van jou eis nie. Jy het ook nie nodig om aan hulle valse lering blootgestel te word nie. Ek gee ‘n paar teksverse wat Paulus aan Timótheüs geskryf het, wat die gevare van valse leraars uitwys:

  1. 1 Timótheüs 4:1-3

Sommige (gelukkig nie almal nie) raak van die geloof afvallig. Hulle hang verleidende geeste en lering (doktrines) van duiwels aan. Dit kom as gevolg van leraars wie leuenaars is, geveins is (dubbele standaarde handhaaf), wie se gewete gebrandmerk is, en op mense wette afdwing wat direk teen God se wil vir ons is.

  1. 1 Timótheüs 4:7

Verwerp fabels (opgemaakte stories) en beoefen eerder godsaligheid. Baie predikers gebruik nie eers meer ‘n Bybel nie. Hulle boodskappe is bloot stories en so hier en daar word ‘n teksvers, dikwels buite konteks aangehaal, gegryp sodat dit klink asof die Woord die bron is.

  1. 2 Timótheüs 3:1-8

Bly weg van mense wie die beskrywing pas wat hier gegee word. Die lering is vals omdat dit nie die waarheid is nie. Hierdie valse leraars se lering is nie deur die Heilige Gees geïnspireer nie. Hulle is teen die waarheid.

  1. 2 Timótheüs 3:13

Nie alleen verlei hierdie valse leraars mense nie, maar op hulle beurt word die valse leraars deur die duiwel verlei, sodat daar nie vir hulle enige uitkoms is nie. Hulle is verdoem.

  1. 2 Timótheüs 4:3

Die woord “hulle” verwys na die valse leraars van punt 4 hierbo. Die rede is dat Paulus aan Timótheüs verduidelik wat met hierdie mense gebeur (1 Tim 3:13). Dan onderbreek hy die verduideliking deur te fokus op wat Timótheüs moet doen (1 Tim 3:14 tot 1 Tim 4:2). Hierna keer hy terug na die goddelose mense (“hulle”) van wie hy in 1 Tim 3:13 gepraat het.

Hierdie vers is interessant en kan op twee maniere geïnterpreteer word.

  1. “Hulle”, die bedrieërs, is vals leraars en sal die gesonde leer nie verdra nie, omdat dit nie pas by hulle misleidende leer nie. Om hulle misleidende lering te staaf, sal hulle sorg dat hulle ander valse leraars kry wie dieselfde as hulle dink (Die Faith Movement is ‘n goeie voorbeeld hiervan.). Hulle beweeg weg van die waarheid (Johannes 14:6 – Jesus is die Waarheid!) en wend hulle tot fabels, waarteen Paulus vir Timótheüs waarsku (1 Timótheüs 4:7).
  2. “Hulle” is ook die goddelose mense van 2 Tim 3:13. As ons die gedagte verder neem na 2 Tim 4:3, sien ons dat “hulle” diegene is wie invloedryke mense is wie dit kan bekostig om leraars in gemeentes aan te stel wat preek wat hulle wil hoor. Wanneer laas het jy gehoor dat daar gepreek word oor sonde, sonde belydenis, en bekering? As leraars dit deesdae preek, vervies mense hulle, verlaat die gemeente, en die kerkraad is hulle inkomste kwyt. Onthou die artikel, [ Dit Gaan Alles Oor Geld ]. Dalk moet jy dit weer gaan lees. Kyk maar na die boeke wat hulle skryf: “Tien maniere om ryk te wees”; “Nege maniere om suksesvol te wees”; “Agt maniere hoe om jou te laat geld”; “Sewe maniere hoe om...”; “Ses maniere om te...”. Al hierdie boeke is mens-gefokus, hoe kan JY ‘n beter dit of dat wees. Waarom kan hulle nie eerder ‘n boek skryf met die titel “Tien maniere hoe om in ‘n beter verhouding met God te leef” nie? Dit gaan nie vir diegene wie hulle alreeds mislei het, werk nie, want die fokus is nie meer op hulle self nie.

Waarom is die waarskuwings wat Paulus aan Timótheüs gee, so belangrik? Timótheüs was Paulus se opvolger, die een aan wie Paulus sy hele bediening oorgelaat het. Gaan lees 2 Timótheüs 4:6-22 en ervaar die hart van iemand wie sy hele lewe vir die verkondiging van die evangelie opgegee het. Hierdie evangelie is vir hom belangrik genoeg dat hy dit wil laat voortleef in Timótheüs. Sien 2 Timótheüs 3:10. Timótheüs het Paulus se navolger geword in alles wat Paulus self te beurt geval het.

Kyk ook na wat Petrus skryf:

  1. 2 Petrus 2:1-3

In sy eie tyd was daar vals leraars, net soos daar ook sal wees. Gesien uit Petrus se perspektief was dit nog toekomstig. Die toekoms is hier, en hierdie dinge gebeur in ons tyd. Kyk hoe beskryf Petrus die valse leraars. Hulle sal “heimlik” (in die geheim, sonder dat mense dit opmerk) “verderflike” (vals, wat tot die dood lei) “ketterye” (Eng. heresies) in die kerk inbring. Hulle verloën dieselfde Here wat hulle met sy bloed gekoop het. Hulle verderf is vinnig. Hulle verlei ander, en sodat hulle nie sleg lyk of uitgevang word nie, word die waarheid as die leuen voorgehou. ‘n Bekende voorbeeld is hierdie een:

‘n God van liefde sal mos nooit so wreed wees om mense lewend te verbrand nie, net omdat hulle nie gekies het om sy pad na saligheid te volg nie. Die mens het mos ‘n keuse.

Ongelukkig het hulle ‘n halwe waarheid gebruik en ‘n leuen daaraan gekoppel. Gaan lees gerus Johannes 3:16:

16Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Dat Hy ‘n God van liefde is, is waar, maar daar is vir my en jou ‘n voorwaarde sodat ons nie verlore gaan nie. Verlorenheid se resultaat is die poel van vuur. Sien Openbaring 20:14-15. Elke keuse het ‘n voorwaarde en ‘n gevolg. Die wêreld se denkrigting is dat jy kan kies soos jy wil, sonder dat daar gevolge sal wees.

Petrus gaan verder deur te verduidelik dat hierdie vals leraars hebsugtig is (Eng. covetous), wat beteken om iets te kry van ander, wat jou nie toekom nie. Kyk maar hoe vra die vals leraars van groot gemeentes dat mense meer en meer aan hulle, nie eers meer aan die kerk nie, geld moet gee. Dit gaan net oor die voordeel wat hulle kan kry.

  1. 2 Petrus 3:3-4

Die spotters, wie volgens hulle eie verkeerde dogma optree, sê daar is geen wederkoms nie. Die Griekse woord wat vir “wederkoms” gebruik word is παρουσίας (parousias). Dit verwys na die wederkoms. Baie valse leraars ontken die dogma van die wederkoms.

Johannes is aan die beurt:

  1. 1 Johannes 4:1

Johannes skryf oor vals profete wat in die wêreld uitgegaan het. Hulle is ook vals leraars, wie nie bely dat Jesus in die vlees gekom het nie. Hulle is uit die wêreld, hulle boodskap is uit die wêreld, nie uit die Woord nie, en die wêreld (ongereddes) luister na hulle.

  1. 2 Johannes 1:7

In hierdie kort brief spreek Johannes vals leraars aan. Hierdie is van die laaste briewe wat geskryf is aan die kerk, en die waarskuwing is duidelik. Johannes noem hulle verleiers (waarvan ons die terme mislei en misleiding kry). Hulle bely nie dat Jesus in die vlees gekom het nie. Hy waarsku hulle om nie te verloor wat hulle gekry het, deur na hierdie mense te luister nie.

Hier is Judas (nie die Iskariot nie) se woorde:

  1. Judas vers 4; en 16-19

Het jy geweet daar is ‘n boek met die naam Judas? Dit is ‘n kort een, met net een hoofstuk, net voor Openbaring. Judas beskryf in vers 4 die vals leraars as “sekere mense” wie ingesluip het (skelm), wie goddeloos is en wie die genade van God verander het in ongebondenheid (Eng. lasciviousness, volgens die Cambridge Dictionary die volgende: “behaviour that expresses a strong desire for sexual activity”.). Hulle het Hom verloën!

In vers 18-19 verduidelik Judas, net soos Petrus, dat daar spotters sal wees wat goddeloos optree. Hulle bring skeuring in die kerk, en het nie die werking van die Heilige Gees in hulle lewens nie.

Opsomming

Die skakel na die webwerf wat ek gegee het, dui met outoriteit aan wie die valse leraars is, en daar is baie van hulle. Moenie agter hulle aanloop of hulle leerstellings volg nie. Onttrek jou van hierdie mense. Jesus Christus is alleen die Weg, die Waarheid, en die Lewe.

[ Vals profete... ] [ Vals apostels... ] [ Vals kerke... ]


Stuur vir 'n vriend  Hoofbladsy