Van apostel tot apostaat

Apostaat. Dis darem ‘n lelike anglisisme, maar ek het dit gebruik om die fokus daarop te plaas. Die Engelse woord “apostate” is soos ons in 2 Thessalonicense 2:3 kry. Hier is dit ‘n selfstandige naamwoord en word vertaal met “afval”. In die konteks beteken dit om weg te draai van die geloof, na totale ongeloof en ‘n verdraaiing van die geloof wat jy voorheen aangehang het. In Thessalonicense skryf Paulus oor die afval van die laaste dae, en hoe mense wie eers in die geloof gelewe het, hulle geloof versaak het. Daardie mense glo die leuen van die dwaling (2 Thessalonicense 2:11), en word geoordeel daarvoor (vers 13). Van gered na verdoem. Kom ons hou vir eers by my vertaling, apostaat, dan maak dit meer sin en dit klink ‘n bietjie poëties.
Hoe vêr is jy van die punt waar jy jou geloof sal versaak?
As jy dink dit kan nie gebeur nie, hier is ‘n les. Dit is so relevant vir ons tyd vandag, nou, en hierdie week. Ons het in die tradisionele kerke geleer van die “Lydensweek” wat begin met (Eng.) Palm Sunday – die intog in Jerusalem. Ons is tans in dieselfde Lydensweek. Hierdie week is die belangrikste op die Christelike kalender. Twee gebeurtenisse staan in hierdie uit soos dit in die evangelies opgeteken is. Kom ons kry die agtergrond van beide.
- Jesus vertel vir die dissipels van sy intog soos deur Sagaría voorspel. Sien Sagaría 9:9. Matthéüs haal dit aan in Matthéüs 21:4-5. Gaan lees dit met aandag. Totaal in vervoering, juig die skare: “Hosanna vir die Seun van Dawid. Geseënd is hy wat kom in die naam van die Here.” (Matthéüs 21:9) Hierdie mense deel in die verwagting van die ryk van die Messías. Nie eers ‘n week later nie, gil hulle dat Hy gekruisig moet word. Sien Matthéüs 27:22-25. Hulle beweeg van mede-eienaars van die voordele van die Messías, na mede-moordenaars wie hulle rug op die Seun van Dawid draai. Wat het ons hier? Die woord “apostel” beteken iemand wie gestuur is om ‘n belangrike taak te verrig. In hierdie geval het die skare die verwagting vir ‘n beter toekoms gehad. Toe hulle egter nie hulle sin kry nie, verwerp hulle Hom en draai hulle rug op Hom. Hulle beweeg in minder as een week van apostel na apostaat.
- Die tweede voorbeeld is op ‘n meer persoonlike vlak. Ons lees in Matthéüs 26 (gaan soek die parallelle in die ander evangelies) hoedat ‘n vrou ‘n fles met kosbare salf neem en dit op Jesus se hoof uitgooi om Hom te salf. Die dissipels hou nie hiervan nie. Al vier die evangelie skrywers maak hiervan melding. Drie noem egter nie die volle besonderhede nie. Sien Matthéüs 26:8. Hulle verwys na “die dissipels”. Net Johannes het die moed om die skuldige by die naam te noem en wat hy gedoen het. Sien Johannes 12:3-6. Hy noem hom “Judas Iskáriot, die een wie hom sou verraai”. Onthou hierdie: Jesus se twaalf dissipels sou na sy hemelvaart die taak van apostels kry. Hulle is dus nie net meer “dissipels” (volgelinge) nie, maar “apostels” wie die taak het om die Goeie Nuus te gaan vertel en die kerk te stig. Judas was ook bedoel om in hierdie groep te wees, maar hy sou nooit oorbeweeg van dissipel na apostel nie, omdat sy fokus kortsigtig was. Hy vorder binne een dag van apostel na apostaat. Van gered na verdoem, vir ewig.
Judas se probleem was sy fokus. Eerder as om te kyk wat die betekenis was van dit wat die vrou gedoen het wie Jesus gesalf het, kyk hy na hoeveel die armes sou kon kry. Die rede was, soos ons in Johannes 12:6 lees, nie omdat hy oor hulle besorg was nie, maar omdat hy Mammon begin dien het. Sy fokus was op geld, en hy het gesteel. Sy toekoms verwagting was lankal nie meer in sig nie. Hy het sy lang termyn voordele ingeruil vir kort termyn gewin, en hy het alles verloor.
Waar is jou fokus?
Hoe maklik dwaal jou en my gedagtes? Een oomblik is ons nog besig om die goeie stryd te stry vir die evangelie, of so dink ons, en die volgende oomblik verval ons in sonde. Ek moet die volgende benadruk: daar is nie meer vandag ‘n amp van apostel nie, en enige iemand wat jou anders wil oortuig, moet met my kom praat dat ek hom die Woord mooi kan leer. Wat ek egter wil beklemtoon is die oorspronklike verhaal wat aandui hoe maklik dit is om af te dwaal. Van apostels wie deur Jesus self uitgekies is (draers van goeie nuus) na apostate/ afvalliges, wie wegval van die geloof en die goeie nuus. Die lyn is baie fyn.
Ek vra weer: Waar is jou fokus? Dink jy vir die nou, die plesier van die wêreld, of sien jy die groter prentjie en lang termyn beplanning?